(Bron: YouTube/Orania Beweging)
Tag: Buysbiblioteek
Skep moed dit gaan goed
(Hierdie video is ‘n opname van ‘n toespraak wat Flip Buys in 2022 tydens ‘n personeelvergadering van die Solidariteit Beweging gelewer het.)
(Bron: YouTube/Solidariteit Beweging)
120 Jaar Feesviering – Solidariteit Beweging
(Hierdie video is opgeneem ter herdenking van die Solidariteit Beweging se 120-jarige Feesviering)
(Bron: YouTube/Solidariteit Beweging)
SpreekBuys: Rewolusie pleks van restourasie
’n Paar jaar gelede daag daar op ’n dag onverwags ’n besoeker by ons ou hoofkantoor in Braamfontein op. Hy keer my in die gang voor: “Ek het vir jou Yskor Opleidingsentrum se laaste Afrikaanse tegniese boeke gebring,” sê hy. Ek stap saam met hom na waar sy Nissan-bakkie in die straat geparkeer staan. Hy haal die seil af. Daar lê ’n tiental bokse met handleidings vir die opleiding van vakmanne. “Ons moet nou oorskakel Engels toe en ek moes hierdie op die ashoop gaan gooi, maar ek kan nie my taal wegsmyt nie. Afrikaans is mos nie vuilgoed nie,” sê hy. Ek knik instemmend.
Ons kyk na die klein bakkievol Afrikaans. “Wat moet ek hiermee maak?” vra ek toe. “Ek weet nie juis nie, miskien kan julle dit eendag gebruik,” antwoord hy. Ons begin die bokse opdra terwyl ons verder gesels. “Ons en ons taal word nou orals uitgeskuif. Hulle gooi nie net Afrikaans weg nie, hulle wil ons ook uitskuif met rasseteikens,” vertel hy. Ek sê-vra: “Maar julle is waarskynlik die beste vakopleidingsentrum in die land. Is die beste swart bemagtiging nie dat julle swart jongmense ook goed oplei nie?” Hy trek sy skouers op. “Ja, maar transformasie het nou belangriker as goeie opleiding geword.”
Transformasie-tsoenami
Hierdie besoek was ’n voorteken van wat daarna orals in die land gebeur het. Die ANC het aan bewind gekom met versekerings dat hulle swartmense regmatige regte gaan gee, sonder om onregmatig teen witmense op te tree. Tog het hulle net gewag tot hul stewig in die saal was voordat hulle met “radikale transformasie” afgeskop het. Dit het met die totale omskepping van die land volgens rasseformules begin, toe is die wese van alle instellings totaal verander, en dit het geëindig met die ANC se oorname en die uiteindelike verval van daardie instellings. Die transformasiegolf het soos ’n tsoenami feitlik alles in sy pad platgevee. Kolleges, dorpe, staatshospitale, die polisie, openbare ondernemings soos Eskom en die SAL, en die staat in die algemeen het verval en talle is deurtrek van korrupsie.
Dit het gaandeweg vir almal wat wou sien duidelik geword dat die ANC nie sy rewolusie laat vaar het nie, maar dit onder die vaandel van radikale transformasie met staatsmag deurgedwing het. In plaas van die suksesvolle Japannese resep van “restourasie”, het hulle weer die bewese mislukte Russiese model van rewolusie gevolg.
Mooipraatjies vir mag
By Solidariteit het ons vinnig gesnap dat die ANC se grondwetlike gerusstellings net mooipraatjies was om die mag te kry om hul rewolusie deur te voer. Die enigste verskil was dat hulle nou nie meer wapens gebruik het nie, maar wette. Die uitkoms sou egter dieselfde wees, omdat sosialisme orals misluk. Ons het besef dat die ANC nie net wou sorg dat swartmense ingesluit word nie, maar dat hulle witmense gaan uitsluit. Daarom het ons besluit dat die eertydse Mynwerkersunie ter wille van oorlewing tot ’n moderne helpmekaarbeweging uitgebou sal moet word.
Ons het ’n groot droom gehad, omdat ons besef het dat die alternatief ’n nagmerrie sou wees. Sonder geld of middele om dit uit te voer, het ons met moed en ywer aan die werk gespring.
Groot geld uit kleingeld
Ons het besef dat ons ’n omvattende kulturele infrastruktuur sou moes bou wat Afrikaners in staat sou stel om in Afrika te oorleef – nie om onsself af te sonder nie, maar om ons juis in staat te stel om hier te kan bly; nie om ander uit te sluit nie, maar om seker te maak ons kinders word ook ingesluit. ’n Mens bou immers ’n huis om saam in ’n woongebied van jou keuse te bly, en nie om jouself van jou bure te isoleer nie. Jy doen dit uit liefde vir jou gesin, nie uit haat vir jou bure nie.
Die groot uitdaging was om “staatsdienste” sonder staatsinkomste te lewer. Daarvoor het ons ’n bladsy uit ons voorouers se suksesresepteboek geneem. Hulle het “groot geld” met “kleingeld” gemaak, wat vandag skarefinansiering genoem sou word. Hoeveel miljoene koeksisters en pannekoeke en straatkollekte-pennies het in die arm jare gehelp om kolleges, skoolsale, kinderhuise, beursfondse, kerke, universiteitsgeboue, koshuise, monumente en taalprojekte die land oor te finansier? Ons het besluit om dieselfde te doen, maar net die metodes te moderniseer.
Ons het ’n hele beweging van selfhelporganisasies begin as monumente van hoop. Ons het Solidariteit Helpende Hand gestig, ’n sakebeen, eiendomsmaatskappy, Sol-Tech, AfriForum, Akademia, Maroela Media, en later die Skoleondersteuningsentrum, die SOS. Die eerste R100 miljoen wat nodig was vir Sol-Tech het uit maandelikse R10-bydraes van duisende Solidariteit-lede gekom. Die grootste enkele skenking daarvoor was net R10! Ons het geen staatsubsidie of bydrae van groot maatskappye gekry nie. Tegniese opleiding is peperduur, maar duisende studente het die afgelope jare rentevrye studielenings by die Solidariteit Opleidingsfonds gekry. ’n Deel van lede se ledegeld word maandeliks daarvoor oorbetaal en deur Helpende Hand se studietrust geadministreer.
Kulturele dividend
Die Solidariteit Beweging se monumente is nie vir die verlede nie, maar vir die toekoms. Dit is nie ou geboue waarna mense op Sondagmiddae gaan kyk nie, maar lewende monumente waar mense die hele week kan leef en waarin jongmense kan leer.
Die Covid-19-krisis het ons onverwags getref, maar nie onvoorbereid nie. Ons hele beweging is as ’n krisisorganisasie gestig juis omdat ons die krisis voorsien het van ’n regering wat nie ’n moderne land met ’n uitgediende ideologie sou kon bestuur nie, en wat ons as minderheid as tweedeklasburgers sou behandel. Ons was gerat vir krisisse en ons organisasies het hierdie krisis almal sterk binnegegaan, sterk daarin presteer, en met genade sal almal nog sterker anderkant uitkom. Solidariteit het dadelik die Koronakrisissentrum begin, ons beroepsgesondheidskenners het onmiddellik strategieë vir gesonde werk ontwikkel, ’n Krisisfonds is geloods, Helpende Hand het duisende mense gevoed, AfriForum het gehelp om noodvoeding landwyd te versprei, die SOS het binne ’n week met ’n aanlyn matriekskool begin, talle mense is met dringende regsaksie bygestaan, en Maroela Media het 2,6 miljoen lesers gratis ingelig gehou met vars nuus. Ons monumente het in hierdie tyd net groter, beter en sterker geword!
Die volgende fase van die bouwerk aan die monumente van hoop het reeds begin. Die Solidariteit Beweging bou tans aan ons nuwe kollegekompleks van R300 miljoen, wat bestaan uit ’n tegniese kollege met ’n naasliggende koshuis vir 400 studente. Daarna kom Akademia se nuwe kampus van meer as R1 miljard aan die beurt. Daarvoor het ons Kanton Eiendomme gestig, waarmee ons al ons lede en sakelui die kans gaan bied om te belê. Kanton is ’n vennootskap tussen kultuur en kapitaal, wat ’n billike geldelike opbrengs én ’n kulturele dividend in die vorm van leefruimtes vir Afrikaans gaan bied.
Selfbestuur enigste antwoord
Die ANC se swak bestuur van die inperking het daartoe gelei dat dit die hardste en langste inperking ter wêreld is, wat miljoene mense se werk gaan kos. Dit gaan nog groot gevolge hê, soos meer sosialisme, ’n aanslag op pensioenfondse, die versnelde verval van die meeste dorpe in die land, toenemende armoede en misdaad, en diskriminasie teen wit- en selfs bruinmense.
Die ANC se hantering van die pandemie het die einde van die 1994-skikking verhaas. Hulle kon die land nie voor die krisis bestuur nie, hulle kon dit nie tydens die krisis doen nie, en sal dit nog minder ná die krisis kan doen. Staatsbestuur het misluk, en selfbestuur is die enigste antwoord. Daarom gaan ons hierdie monumente van hoop uitbrei tot ’n volledige kulturele infrastruktuur wat Afrikaners in staat gaan stel om blywend vry, veilig en voorspoedig te leef. Ons het lank genoeg die ANC gevra om ons goed te regeer. Hulle wil en kan dit nie doen nie. Daarom gaan ons nou onsself begin bestuur deur sterk gemeenskapsorganisasies. Wie nie vir sy eie toekoms sorg nie, kry die toekomskrummels wat ander vir hom los.
(Bron: Solidariteit Tydskrif, Mei 2020)
SpreekBuys: In krisistye moet jy waag om te kan wen
In die middel van die harde vlak 5-inperking kry ek een nag laat ’n benoude oproep van ’n jarelange staatmakerlid. “Gaan Solidariteit hierdie krisis oorleef?” vra hy angstig. “Wat as hierdie Covid-tsunami alles platvee waaraan ons 20 jaar lank gebou het? Solidariteit is al wat nog staan tussen ons en totale verval in hierdie land.”
“Ons het darem nie op sand gebou nie,” probeer ek hom gerusstel. “Ons het die Solidariteit Beweging juis vir krisistye gebou, al het ons nie geweet presies wat die krisis gaan wees nie. Natuurlik het die krisis ons ook onverwags getref, maar nie onvoorbereid nie.” Dit stel hom egter nie gerus nie, en hy peper my verder met “maar wat as”-vrae wat nie maklike antwoorde het nie: Wat as derduisende lede sterf, of hulle werk verloor, of as Solidariteit bankrot speel, of as daar geweld losbars, of as ons kinders nie kan skoolgaan nie? Ek verduidelik dat ons navorsing aandui dat die panieksyfers van die regering ’n groot oordrywing is. “Maar wat gaan ons doén?” vra hy dan.
Aksieplanne
As Christene glo ons dat alles in Sy hande is, en daarna werk ons asof alles in óns hande is. Ons berei al jare vir krisisse voor en is, sover dit menslik moontlik is, gerat en gereed vir wat kom. Ons kan nie alles doen nie, maar ons sal doen wat ons kan. Ons risikobestuurstrategie is al jare lank in plek. Ons beroepsveiligheidspan is besig met voorstelle oor gesonde werk wat aan die regering en maatskappye voorsien sal word. Die Solidariteit Navorsingsinstituut werk aan projeksies oor hoe die pandemie ons lede se gesondheid en werk kan raak. Daarna skakel ons dit om in planne vir elke afdeling en departement in Solidariteit. Ons skakel met ons lede se werkgewers om oor hul werk, mediese fonds en pensioen te praat. Ons Koronakrisissentrum was binne ’n week reg om duisende ledenavrae te hanteer. Solidariteit se regsmense werk kliphard aan oplossings vir probleme wat kom. Helpende Hand stig ’n Krisisfonds om lede met voedselnood te help. AfriForum se buurtwagte skakel met die polisie oor veiligheid. Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum bou ’n aanlyn matriekskool sodat kinders kan bybly. Ek noem nog ’n hele rits van ons projekte op. “Maar hoe gaan ons dit alles bekostig?” vra hy. Alles is gratis vir ons lede. Ons was voorbereid op ’n krisis, al kon ons nie beplan vir presies watter een nie.
Nagmerrie
Nadat ek hom so goed ek kan gerusgestel het, kom die slaap nie maklik nie. Dit was die tyd toe almal bekommerd was of daar genoeg plek in hospitale sal wees; die bouwerk aan Sol-Tech se nuwe kampus moet stop; AfriForum se buurtwagte mag nie patroleer nie; die howe sluit; ArcellorMittal maak vir die eerste keer in 70 jaar nie staal nie. Ons word oorval met navrae en kan nie bybly om al die WhatsApp-boodskappe, e-posse, Facebook-vrae en oproepe te antwoord nie. Dis soos ’n vloedgolf wat oor ons spoel, en dit hou net nie op nie. Soms voel dit of ’n mens soggens in ’n nagmerrie wakker word. Ons doen scenariobeplanning en stel aksieplanne op om alles in plek te kry. Dag en nag vloei deurmekaar; werk en huis word dieselfde tyd en plek. Tussendeur skop my krag af en my rekenaar en internetverbinding gee probleme, maar ons IT-mense verrig wondere en Solidariteit se organisasies is in ’n rekordtyd weer aanlyn.
Solidarity Fund
Net toe ek voel ons skep asem, bel Hannes Noëth, uitvoerende hoof van Helpende Hand, my met die nuus dat die regering ons naam gebruik vir hulle Solidarity Fund. Ons regsmense sê in hierdie ramptyd sal die howe ons nie help nie, ons moet ons fonds se naam verander. Ek en dr. Dirk Hermann koukus en besef dit gaan geweldige verwarring skep. Baie mense gaan dink die Solidarity Fund is ons fonds en gaan geld daarin betaal. Ons lede wat in nood raak, gaan dink ons wil hulle nie help nie. Sommer die eerste dag al word dit ’n groot probleem. Mense betaal geld in die regeringsfonds en dink dis ons fonds. Lede kla by ons omdat die Solidarity Fund hulle nie wil help nie. Hannes sê Helpende Hand word oorstroom met hulpversoeke.
Virseker
Ons is raadop. Dit voel of ons ’n skare moet kosgee met twee brode en drie vissies. Dan kom die nuus: Virseker se beheermaatskappy, Telesure, en die stigter van Auto & General se Steyn-familietrust skenk R2 mijoen se kospakkies! Wat ’n uitkoms in daardie eerste dae! Hulle skenk uiteindelik nog R10 miljoen rand se kospakkies. Dan begin die skenkings instroom by Helpende Hand se Krisisfonds: kontantbydraes, kos, groente, meel, selfs vleis. Hannes se span noem die skenkingskantore “Josef Silo’s”. Alle hulpaansoeke word gekeur deur ’n span maatskaplike werkers, maar ons kry te veel aansoeke om almal te kan help. Kospakkies word landwyd versprei deur die personeel en vrywilligers van AfriForum, Solidariteit, Helpende Hand en Saai. Elke pakkie het ’n adres. Dit gaan rof. Die ANC se Lesufi probeer ons kosverspreiding keer en sentraliseer. Ons weier en gaan net aan, en wen uiteindelik ons saak in die hof. Teen Augustus het Helpende Hand reeds 20 000 gesinne met kospakkies gehelp asook meer as 1 600 ouetehuise en vele kerke en kinderhuise.
Presteer
Ook op ander fronte presteer ons organisasies. Akademia skakel naatloos oor na aanlyn leer. Hulle stel hul voltydse Centurion-kampus vir 2021 bekend. Sol-Tech maak weer oop en die bouwerk gaan volspoed aan. Meer as 120 000 skoolkinders registreer by Die Wolkskool. Duisende onderwysers word met webinare opgelei om aanlyn klas te gee. Sowat ’n duisend skole word raad gegee oor gesonde onderrig. Die FAK reël aanlyn musiekkonserte wat teen die Voortrekkermonument se voorkant projekteer word. Maroela Media staan werklose kunstenaars by. Pretoria FM ondersteun die Krisisfonds. Ons begin hofsake teen min. Nkosazana Dlamini-Zuma se dom regulasies. Ons wen die meeste, maar verloor die saak teen die regering wat noodhulp op grond van ras toeken. Ja, die regering en die hof klou selfs in ’n ramptyd aan hul rassebeleid vas. Niemand gaan lê nie – ons veg voort en wen weer sake. ’n Boer maak ’n plan, skryf iemand vir my.
Die regering verbrou die krisis. Covid-19-korrupsie walg die land. Ons begin al hoe meer ondersteuning kry, dis eenvoudig verstommend. Al ons organisasies groei. Inligting oor die regering se swak hantering van die ramptoestand weerklink tot in die buiteland. Die infeksiekoers begin daal en veel minder mense word siek as wat voorspel is. Die inperkings word afgeskaal en die winter maak stadigaan plek vir lente. Mense begin weer lig sien.
Ons begin planne maak vir die post-Covid-tyd. ’n Boer maak ’n plan. Ons kan nie op die regering staatmaak nie, maar dit maak ons nie moedeloos nie; dis bevrydend. Ons wil en sal nie ons kinders se toekoms aan korrupte onbevoegdes oorlaat nie. Ons sal self verantwoordelikheid neem en sal ons nie laat onderkry nie. Ons planne is gróót, want dit moet groter as die probleem wees. Maar ons weet – in ’n krisis kan jy nie wag nie; jy moét waag, dan sal jy wen. Ek begin uitsien na die toekoms…
(Bron: Solidariteit Tydskrif, Julie 2020)
Flip Buys gesels met Podlitiek
(Hierdie video is van ‘n aanlynonderhoud wat Flip Buys in Junie 2022 met die podsening Podlitiek gevoer het)
(Bron: YouTube/Podlitiek)
Flip Buys vertel vir E-Nuus oor ANC
(Hierdie video is op 8 Mei 2012 op Solidariteit se YouTube kanaal geplaas)
(Bron: YouTube/Solidariteit)
Flip Buys praat met Moneyweb
(Hierdie video is op 12 Februarie 2012 op Moneyweb se YouTube kanaal geplaas)
(Bron: YouTube/Moneyweb)
Die Beweging se selfbestuurplan
(Hierdie video is op 7 Desember 2021 op AfriForum se YouTube-kanaal geplaas)
(Bron: YouTube/AfriForum)
Quo Vadis_Moet nie staatmaak op die staat nie
(Hierdie video is op 6 Augustus 2019 op AfriForum se YouTube-kanaal geplaas)
(Bron: YouTube/AfriForum)