Die geskiedenis gee aan elke geslag ‘n taak. Sommiges kry makliker take as ander. Party kry baie, ander moet baie gee. Maar omdat daar ‘n verbond tussen die geslagte is, omdat ‘n beskawing ‘n ketting van geslagte is wat soos met ‘n aflosresies dit wat jy kry moet bewaar en vir die volgende geslag aangee, omdat die een geslag van die vorige en volgende afhanklik is, beteken dit dat as net een geslag sy taak nie opneem nie, is daardie ketting vir altyd verbreek. Dan gaan daardie beskawing onder, verskraal tot ‘n voetnota in ‘n geskiedenisboek. Dis soos om ‘n boom af te kap, en dan te dink jy sal steeds die vrugte en koelte kan bly geniet.
Die geslagte voor ons het groot uitdagings gehad. Die een geslag moes die Groot Trek aanpak, die volgende een die Anglo-Boereoorlog, daarna die modernisering van Afrikaans en daardeur die land opbou, die volgende een moes die Koue Oorlog en die Grensoorlog trotseer en het die volkereverhoudingsprobleem probeer oplos deur sg “afsonderlike vryhede”, en die volgende het die waagstuk van meerderheidsregering aangepak.
Maar wat is ons taak? Die geskiedenis stel geen geslag vry om maar net te ry op die vorige geslagte se antwoorde op die eise van hulle tyd nie.
Terug na Toynbee se wysheid van uitdaging en antwoord. Ek wil dit waag om te sê dat ons geslag se taak is om die bestaansuitdaging van ons as Westerse volk aan te pak met ‘n volhoubare oplossing. Ons bestaanskrisis is nie ons klein getalle nie, maar ons yl verspreiding wat veroorsaak dat ons orals in die minderheid is en landswyd dieselfde probleme het.
Ons is meer as die onderskeie bevolkings van Namibië, Lesotho, Macedonië, Slowenië, Letland, Botswana, Gambië, Gaboen, Estland, Swaziland, Mauritius, Ciprus en Luxemburg, asook nog ’n menigte ander volke. Maar ons woon nie gekonsentreerd soos al hierdie volke nie, en is gevolglik ’n kwesbare minderheid tussen ’n groter meerderheid. Ons het nie ons eie “Skotland” of KZN nie.
Daarom word ons landswyd in die werksplek met rassseformules, kwotas en diskriminasie geteiken, daarom is ons orals onveilig, daarom verval ons dorpe, daarom word ons orals deur onsimpatieke meerderhede regeer, daarom word ons Westerse leefwyse orals bedreig, en daarom sien so baie mense nie meer ‘n toekoms hier nie.
As die uitdaging yl verspreiding is, is die oplossing groter konsentrasie na plekke waar mense tuisvoel. En dis presies wat lankal vanself begin gebeur. Daar is weer ‘n Groot Trek aan die gang. Mense trek al dekades lank vanuit die vervallende klein dorpies na streeksdorpe en stede, hulle trek vanuit vervreemde middestede na voorstede, vanuit gevaarlike gebiede na veiligheidsdorpe, vanuit plekke waar hulle ‘n klein minderheid is na plekke met groot getalle kultuurgenote soos die Weskaap. Ons konsentreer al meer op al minder plekke, en die groter getalle maak oplossings makliker. Die wat kan “trek” hul vanaf staatshospitale na privaathospitale, vanaf polisiediens na privaatsekuriteit, vanaf werk in die staatsdiens en openbare ondernemings na kleiner privaatmaatskappye. Meer as 500 000 het ook al konsentreer in organisasies soos Solidariteit, AfriForum en ons beweging. Dit maak dit al makliker om al vinniger aan al groter oplossings te werk. Die grootste waagstuk, is om in ‘n krisis te wag (op beter dae), in plaas van om ‘n plan te waag.
Kantonstrategie
In die praktyk ontstaan daar orals wat ons kulturele kantonne (Switserland) kan noem, waar mense meer vry, veilig en tuis voel en is. Waar ons vroeër al verder van mekaar af getrek het, trek mense nou saam en nader aan mekaar, en werk vanuit hierdie ruimtes dan saam met almal anders. Ons moet hierdie hedendaagse Groot Trek met dienste ondersteun, want dit het in die praktyk ons Plan B geword wat vanself begin loop het toe Plan A vasval. Dis nie ‘n projek om onsself te isoleer nie, maar juis in reaksie op ons isolering en uitsluiting deur die owerheid. Dit bou juis die kulturele leefruimtes vir ons om saam in Afrika te kan bestaan. Eilande is nodig om te keer dat die see jou nie oorweldig nie. Hierdie strewe na selfbesluitneming in kulturele leefruimtes is in reaksie op die mislukking van ANC-besluitneming oor ons. Dit sal nie help om hulle te beveg om die staatsruimtes te probeer terugvat nie. Ons moet eerder gemeenskapsruimtes bou deur konsentrasie, as om deur konfrontasie dit wat oorgevat is te probeer terugvat.
In die praktyk vorder ons al ver met ons plan om soos die Israelse Histadrut vir ons mense ‘n toekoms te bou. Maar ons sal vinniger groter moet konsentreer, want die yl verspreiding bly steeds ons bestaansuitdaging wat nog ons ondergang kan beteken.
Daarom het ons met projekte begin om ons mense se kapitaal te konsentreer, om so vinniger die kulturele leefruimtes wat ons nodig het om ons kultuurgemeenskap voort te sit te bou. Daarmee gaan ons Sol-Tech se nuwe kampus bou, daarmee gaan ons vir Sol-Tech ‘n groot koshuis bou vir ons lede se kinders wat ver bly, daarmee gaan ons vir Akademia ‘n groot kampus bou, daarmee gaan ons nog bekostigbare gehalteskole vir ons gemeenskap bou, en daarmee gaan ons nog groter leefruimtes bou. Ons sal binnekort meer praktiese planne hiervoor bekend maak, want ons wil graag hê ons lede moet nie net bydraers wees nie, maar bouers wat saam aan die toekoms bou. Ek gee u die versekering dat van die top breinkrag in die land saam met ons aan al hierdie planne werk. Die kern hiervan is ‘n vennootskap tussen kultuur en kapitaal, waar mense ‘n finansiële opbrengs op hul geld kan kry saam met ‘n kulturele dividend soos ‘n kollege, universiteit en skole vir hulle kinders.
Uiteindelik wil ons mense in klein dorpies kan help met noodsaaklike dienste, wil ons in die 30 Ankerdorpe en -stede waarna mense volgens ons navorsing trek volhoubare dienste skep soos veiligheid, werk, onderwys en maatskaplike sorg. Maar ek glo dat ons ook groter kantonne sal moet bou, waarskynlik in Pretoria in die noorde, moontlik een in die Suid-kaap, en een in die Weste van die land met Orania as groeipunt. Al hierdie projekte doen ons nie teen die owerheid nie, maar omdat dit nie sal help om vooraf goedkeuring te vra nie, vra ons eerder na die tyd om erkenning vir dit wat in praktyk gebou is. Selfs waar ons dit nie kry nie, bied die praktiese werklikhede wat ons skep vir ons die leefruimtes waarin ons vry, veilig, en voorspoedig kan voortbestaan. Ons strategie is om al die ruimtes wat die grondwet en internasionale reg ons bied te benut.
“Make no little plans; they have no magic to stir men’s blood and will not be realized. Make big plans; aim high in hope and work, remembering that a noble, logical plan will never die, but long after we are gone be a living thing, asserting itself with ever-growing insistency.”
As u sou vra hoe lank dit alles gaan vat, dan is my antwoord dat dit afhang van die steun en samewerking van ons eie mense. Die staat gaan dit nie van “bo” af vir ons gee nie, ons bou dit self van onder af. Die spoed en die hoogte van die kulturele “plafonne” gaan afhang van onsself, nie van die owerheid nie. Ons hoop ook om ondersteuning van die buiteland af te begin kry, omdat dit opbouende projekte is wat net tot voordeel sal strek.
Die harde waarheid is dat ons na 25 jaar weet dat die Akte van Menseregte nie ons grondliggende belange gaan beskerm nie. Maar ons weet ook dat hoe hoër die vlakke van selfstandigheid is wat ons bou, hoe minder kwesbaar sal ons van ‘n vervallende staat wees. Vryheid is uiteindelik die enigste waarborg vir veiligheid, vir ons lede se werk, vir gelykheid, vir reg en geregtigheid, vir volhoubare voorspoed, vir werkende dienste, vir goeie skole, en vir ‘n toekoms vir ons kinders.
Ons mense het deur hulle vindingrykheid, skeppende vermoë en ondernemingsgees wêreldklas prestasies op alle gebiede bereik: medies, sport, wetenskap, besigheid, kultuur en die kunste. Ons sal daardie selfde vermoë moet aanwend om op staatkundige gebied weer al hierdie elemente in ‘n samehangende plan in te weef, anders is dit nie standhoudend nie.
‘n Volk skep sy eie toekoms, het Vader Kestell gesê. Soos die beroemde bestuurskundige Jim Collins dit gestel het: “Whether you prevail or fail, endure or die, depends more on what you do yourself than on what the world does to you.”
Suksesresep
Kom ons gebruik ons voorouers se beproefde suksesresep om krisisse te oorkom:
Neem een groot krisis.
Meng dit met leierskap en visie.
Gooi ’n paar stewige “skudde” wilskrag by.
Versterk die mengsel met kinderlike geloof.
Vermenigvuldig dit met Helpmekaar-energie.
Klits hope harde werk by.
’n Knypie broedertwis na smaak.
Versoet met ’n groot skep saamstaan.
Bak nou vir sowat ’n dekade lank in ’n groot bak vol volharding en vasbyt.
Dit behoort genoeg te wees vir die toekoms van ’n hele nuwe geslag.
Afsluiting
Kom ons pak die taak wat die geskiedenis aan ons geslag gegee het aan met geloof, waagmoed, ywer en volharding.
Soos President Kennedy gesê het:
If not us, who? If not now, when?”
Flip Buys