Eskom is Suid-Afrika se kragnutsmaatskappy. Eskom het die monopolie oor kragopwekking in Suid-Afrika.
Suid-Afrikaners het gewoond geraak aan beurtkrag, wat beplande kragonderbrekings is, want Eskom kan nie in die vraag na elektrisiteit in Suid-Afrika voorsien nie. Die redes waarom Eskom misluk is kompleks, maar een van die hoofredes is Eskom se aggressiewe pogings om rasteikens deur die regering te haal as deel van regstellende aksie en Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB). Hierdie beleide het gelei tot ’n uitvloei van vaardighede, ervaring en institusionele kennis wat nie vervang is nie. Die netto effek is dat Eskom die afgelope dekade skaars verbeter het in sy vermoë om elektrisiteit op te wek.
Eskom het massiewe skuld aangegaan, met die staat se gewaarborgde skuld wat tans altesaam R390 miljard beloop. Die minister van finansies, Tito Mboweni, het in die mees onlangse begrotingsrede aangedui dat die regering vir die volgende dekade ’n reddingsboei van R23 miljard per jaar aan Eskom gaan uitreik. Dít terwyl die Suid-Afrikaanse regering se skuld tot BBP-verhouding 60% bereik het.
Suid-Afrika het ’n elektrisiteitsgebaseerde ekonomie – Eskom se mislukking om elektrisiteit te verskaf het ernstige finansiële implikasies gehad, veral vir klein en medium ondernemings.
Water en sanitasie
Die burgerregteorganisasie, AfriForum, het in 2017 ’n blou-en-groendruppelprojek van stapel gestuur waarin hulle die drinkwater- en rioolwaterstelsels in munisipaliteit regoor die land toets en beoordeel. In 2017 het hulle die rioolwaterstelsels van 88 munisipaliteite getoets. Van hierdie munisipaliteite het 67%, of 55 munisipaliteite, rioolwaterstelsels gehad wat nie binne die regulatoriese raamwerk funksioneer nie en wat substandaard is. Verder het die Departement van Water en Sanitasie in 2014 berig dat slegs 44 van die 1 036 drinkwaterstelsels wat hulle geëvalueer het, bloudruppelstatus gekry het. Dit beteken dat die drinkwater van 96% van die stelsels nie op standaard is nie en dat dit moontlike gesondheidsgevare vir burgers inhou. Siende dat behoorlik funksionerende waterstelsels ’n basiese noodsaaklikheid vir ’n higiëniese samelewing is, is hierdie bevindinge uiters kommerwekkend.
Hierdie waterkrisis is ook duidelik sigbaar in die huidige Vaalwater-krisis. Dit het in 2018 begin toe die Vaalrivier, ’n groot waterbron vir die land, besoedel is deur rou riool wat vir weke sonder einde in die rivier ingevloei het. Dit het natuurlik tot siektes onder mense en sterftes onder diere, wat afhanklik van die water is, gelei. Die krisis het só groot geword dat die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) gedwing is om by die span wat getaak is met die skoonmaak van die rivier, aan te sluit. Dit het egter vroeg 2019 geëindig toe fondse vir die SANW opgedroog het en hulle hulle dienste moes onttrek weens finansiële uitdagings. Die besoedeling is tans steeds ’n gevaarlike krisis.
Munisipaliteite
Amper alle munisipaliteite in Suid-Afrika is disfunksioneel. Die mees onlangse verslag deur die Ouditeur-Generaal van Suid-Afrika dui aan dat meer as 90% van plaaslike Suid-Afrikaanse munisipaliteite gekwalifiseerde oudits ontvang het – wat beteken dat wesenlike onreëlmatige uitgawes aangegaan is. Vanuit die 257 munisipaliteite wat geoudit is, het slegs 33 (12,4%) skoon oudits ontvang.
Die verslag deur die Ouditeur-Generaal wys wat gewone Suid-Afrikaners al in lewende lywe ervaar – dat meeste munisipaliteite totaal disfunksioneel is.
Dit word ook weerspieël in die toename in diensleweringsbetogings.
Bron: MunicipalIQ