Aanduiders
Suid-Afrika se gesondheidsorgstelsel het die afgelope twee dekades op die rand van ineenstorting gewankel. Die vigspandemie in die besonder het Suid-Afrikaanse gesondheidsorg besonder swaar getref met die regering wat oënskynlik nie in staat was om betyds of behoorlik daarop te reageer nie.
Kindermortaliteit het die afgelope paar jaar verbetering getoon, maar is steeds onaanvaarbaar hoog met Suid-Afrika wat die 62ste plek uit 233 lande ter wêreld beklee.
Lewensverwagting het verbeter nadat die vigskrisis verwoesting onder die lewensverwagting gesaai het. Tog is dit steeds ver agter di lewensverwagting in ander Afrikalande. In vergelyking met die tradisionele Westerse wêreld is Suid-Afrikaanse lewensverwagting erg agter.
Volgens die CIA Factbook kom Suid-Afrika, wat lewensverwagting betref, 190ste uit 223 – met ʼn lewensverwagting van 64,1% van die breë bevolking aldus die nuutste weergawe.
Politiek
Politieke onstuimigheid en algemene onbevoegdheid het die afgelope dekade ʼn verwoestende uitwerking op die gesondheidsorgstelsel gehad. In 2016 is die land deur die Life Esidimeni-tragedie geskud. Tydens die skandaal het die Gautengse departement van gesondheid die dood van meer as 144 geestesongestelde pasiënte veroorsaak. Die departement het hierdie pasiënte in die sorg van verskeie NRO’s geplaas wat nie vir sodanige dienste gelisensieer was nie, en dus onwettig bedryf is. Hierdie fasiliteite het nóg die fasiliteite nóg die kundigheid gehad om behoorlik na die pasiënte om te sien en die pasiënte is tot so ʼn mate verwaarloos dat hulle dood is. Dit was ongetwyfeld een van die grootste menseregteskendings in die demokratiese Suid-Afrika.
MIV/vigs bly steeds een van die grootste uitdagings wat ons in Suid-Afrika in die gesig staar. Ten spyte van hierdie onthutsende werklikheid, het presidente dit in die verlede roekeloos hanteer ten koste van burgers. ʼn Voormalige president, Thabo Mbeki, was die eerste een wat omstrede uitsprake oor vigs gemaak het. Hy het regdeur sy presidentskap verkondig dat ʼn gesonde dieet ʼn beter behandelingswyse as antiretrovirale medikasie is. Mbeki, wat ook gereeld ʼn vigsontkenner genoem is, het die dood van honderde duisende Suid-Afrikaners wat MIV+ is, indirek veroorsaak deurdat daar getalm was met die proses om antiretrovirale medikasie in die openbare sektor beskikbaar te stel. Hierdie vertraging het gelei tot sowat 300 000 sterftes en 35 000 babas wat MIV+ gebore is. Dit is iets wat vermy kon gewees het as die voormalige president en sy minister van gesondheid nie hierdie werklikheid ontken het nie. In 2005 het Suid-Afrika se algemene lewensverwagting vanaf 62 in 1990 tot ʼn verstommende laagtepunt van 52 in 2005 gedaal, dit terwyl die lewensverwagting van Suid-Afrikaners sonder vigs 66 in 2005 was. Hierdie verskil van 14 jaar illustreer die praktiese reperkussies van politieke invloed.
Ná Mbeki het ʼn ander president uiters kontroversiële menings oor MIV/vigs gehuldig. Oudpresident Jacob Zuma het aan die hand gedoen dat deur ná onbeskermde seks ʼn stort te neem voldoende infeksievoorkoming bied.
As in ag geneem word dat MIV/vigs steeds een van die grootste uitdagings is wat ons in die gesig staar, het onverantwoordelike en oningeligte stellings soos hierdie duidelik ʼn baie tasbare en vernietigende uitwerking op Suid-Afrika.
Covid-19
Suid-Afrika se gesondheidstelsel was heeltemal onvoorbereid op die Covid-19-pandemie wat reeds sukkel met ʼn verhouding van slegs 0,9 dokters per 1 000 mense[1] wat ver onder die wêreldgemiddeld van 1,9 dokters per 1 000 mense vir hoër middelinkomstelande is.
Pres. Ramaphosa het in Maart 2020 ʼn nasionale inperking afgekondig om gesondheidsorgdienste in gereedheid te bring vir die onvermydelike golf van Covid-19-gevalle wat dié dienste in die gesig staar. Ongelukkig is die tyd nie na behore gebruik nie. Amper geen kapasiteit is geskep nie met die Suid-Afrikaanse regering wat net een veldhospitaal met omtrent 800 beddens in ses maande kon oprig. Hospitaalkapasiteit is glad nie verhoog nie en slegs 2 700 ventilators is bekom teenoor die geraamde 12 000 wat benodig sou word. Die VSA het 2 000 van hierdie 2 700 ventilators geskenk.
Op die ou end was die Suid-Afrikaanse gesondheidsorgstelsel onder die uiterste druk met Covid-19 wat ʼn enorme tol onder gesondheidswerkers sowel as die Suid-Afrikaanse bevolking geëis het. Alhoewel die amptelike sterftesyfer op 55 000 Covid-19-sterftes te staan kom, is die oormaatsterftes tydens die pandemie die meer deurslaggewende statistiek.
[1] https://data.worldbank.org/indicator/SH.MED.PHYS.ZS?contextual=aggregate&locations=ZA
Oormaatsterftes vir die Covid-19-pandemie
Deur oormaatsterftes as meetstandaard te gebruik, word beraam dat Suid-Afrika meer as 130 000 sterftes wat aan Covid-19 toegeskryf kan word, gehad het. Die meeste provinsies kon eenvoudig nie behoorlik rekord hou nie en was oorweldig. Daar was byvoorbeeld ook nie genoeg kiste in die Oos-Kaap toe die pandemie ʼn hoogtepunt bereik het.
Terwyl die wêreld weer oopgegaan het nadat inentingsveldtogte kritieke massa bereik het, het Suid-Afrika ʼn ernstige agterstand. Met ʼn inentingskoers van net meer as 1% wat in Junie 2021 behaal is, is Suid-Afrika ver onder die wêreldgemiddeld van 10,93%.
Inenting in Suider-Afrika
Inenting in Suid-Afrika teenoor inenting in die wêreld
Wat selfs nog meer kommerwekkend is, is dat die Suid-Afrikaanse regering eers in Januarie 2021 begin beplan het aan die ontplooiing van entstowwe ná openbare druk op die regering. Ten spyte van hierdie algehele mislukking aan die kant van die regering, dring die Suid-Afrikaanse regering steeds daarop aan om die enigste aankoper van entstowwe vir die hele land te wees. Trouens, die regering het aktiewe stappe gedoen om te verhoed dat privaat burgers, mediese fondse en NRO’s entstowwe bekom.
Suid-Afrika het sedert Mei 2021 ʼn derde vlaag van koronavirusinfeksies betree, maar ná meer as ʼn jaar ná die aanvanklike inperking, is bykans geen bykomende gesondheidsorgkapasiteit geskep nie. Boonop is slegs 1% van die bevolking al ingeënt. Die destydse minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, is by ʼn korrupsieskandaal betrek met bewerings dat sy vriende die departement van gesondheid tydens die pandemie en met sy medewete met meer as R150 miljoen bedrieg het. Boonop word verskeie ander gevalle van bedrog ondersoek teen ANC-amptenare wat noodfondse, wat aan gesondheidsorg tydens die Covid-19-pandemie toegeken is, geplunder het. [1]
[1] https://health-e.org.za/2020/09/02/auditor-general-report-covid-19-fund/