Vir die afgelope 15 jaar raak dit pynlik duidelik dat Suid-Afrika op ‘n glybaan van verval is. Toenemende staatsverval, grootskaalse korrupsie en gepaardgaande kaping van die staat, swak munisipale bestuur, diensleweringproteste en die verbrokkeling van staatsentiteite waaronder Eskom (die nasionale kragvoorsiener) is maar net enkele voorbeelde hiervan.
Die groterwordende krisis
Al hierdie faktore van korrupsie, wanbestuur, wanbesteding en ‘n proteskultuur lei noodwendig tot ekonomiese ineenstorting. Die regerende party van Suid-Afrika, die ANC, het vir alle praktiese doeleindes gefaal met die bestuur van die land terwyl elke ekonomiese aanduider daarop sinspeel dat Suid-Afrika op ‘n fiskale afgrond afstuur. Onlangse gebeure soos die grootskaalse onluste en plundering wat in Julie 2021 dele van die land tot stilstand geruk het, het internasionaal opslae gemaak. Gebeure soos hierdie is egter nie die oorsaak van die probleem in Suid-Afrika nie maar bloot ‘n gevolg van toenemende staatsverval wat deur veral kommerwekkende ekonomiese toestande gekenmerk word en uiteindelik lei tot uitermatige werkloosheid en maatskaplike krisisse. Dit is dus nie verregaande om te voorsien dat nog maatskaplike onrus in die toekoms sal plaasvind indien hierdie kwessies nie daadwerklik aangespreek word nie.
Daar is wydverspreide erkenning dat die ANC se mislukking om ‘n moderne ekonomie te bestuur egter gesetel is in sy historiese ideologiese doelwitte. Hierdie toedrag van sake kan ondermeer toegeskryf word aan ‘n staat wat in wese vyandig is teenoor die privaatsektor deurdat daar aktief beleid geimplementeer word wat privaatondernemings hinder om effektief sake te doen, wetgewing wat werkskepping belemmer en ‘n staat wat doodeenvoudig nie vertroue, plaaslik en internasionaal, inboesem nie.
Die ironie van die saak is egter dat terwyl dit pynlik duidelik is dat meeste van die ANC se beleide en inisiatiewe op ‘n groot skaal in sy gesig ontplof het, hy doodluiters voortgaan om nog verdere radikale wetgewing te probeer implementeer wat histories problematiese gevolge gehad het. ‘n Behoefte om die grondwet sodanig te verander dat die onteiening van en uiteindelike staatrentmeersteskap van privaat grond sonder vergoeding moontlik is, is al etlike jare ‘n besprekingspunt. Hierdie posisie is egter nie onverwags nie. Tot so onlangs as 2021 het oudpresident Kgalema Mothlanthe sy verwondering vir die Chinese Kommunistiese Party (CPC) laat hoor en die hoop uitgespreek dat Suid-Afrika meer by dié regering moet leer.
Alhoewel dit algemeen aanvaar word dat beginsels soos eiendomsreg in talle lande tot ekonomiese vooruitgang en voorspoed gelei het, word populistiese beleide soos die onteiening van eiendom egter verdedig deur ‘n retoriek te bevorder dat minderhede, en spesifiek witmense, die skuld moet dra vir die menigte probleme in die land en sodanig ook moet boet vir die verlede. Die konteks tot hierdie debat is egter baie meer ingewikkeld.
Minderhede
Suid-Afrika is ‘n multikulturele en uiters heterogene land wat uit verskeie groepe bestaan. Die land kan beswaarlik verdeel word volgens vier rasgroeperinge, soos wat dikwels propageer word. Met die politieke ommeswaai in 1994 is daar in wese toegewings gemaak om tot ‘n ooreenkoms te kom dat minderhede steeds regte, beskerming en eiendomsreg sal geniet, iets wat internasionaal as die norm beskou word, in ruil vir ‘n meerderheidsregering. Die praktyk is egter dat daar ten spyte van hierdie bepalings reeds in 1997 ‘n beleid van verteenwoordigendheid deur die ANC aanvaar is. Hierdie beleid van absolute verteenwoordigendheid, het dit duidelik gemaak dat die die werksmag (en uiteindelik die hele samelewing) die rassedemografie van die totale land moet weerspieël. Na dese het menigte raswette die lig gesien wat aktief hierdie beleid probeer verwesenlik.
Ten spyte van grondwetlike bepalings wat diskriminasie op grond van ras verbied is daar milddadig voortgegaan om rassewette te formuleer wat onder andere sake-eienaars forseer om hul belange op te gee, kwotas gebaseer op ras wat in die werkplek en op die sportveld moet geld en handveste wat transformasie vir elke ekonomiese sektor uitstip. Die term radikale transformasie is as sodanig gevestig om hierdie rassebeleide onder die vaandel van verteenwoordigendheid uit te voer met die grondwetlike hof wat dit herhaaldelik, deur sy interpretasie van die grondwet, as wenslik beskryf het.
Wat dus in praktyk na die 1994-skikking gebeur het is dat ‘n nuwe rassebedeling gevestig is waar die meerderheid die minderhede in Suid-Afrika totaal oorheers. Die uiteinde hiervan is dat minderhede dikwels uitgesluit word uit besluite oor sake wat hulle ten diepste raak soos taalvoorkeure. Dit is weens die eenvoudige demokratiese bestel van Suid-Afrika wat die uiteindelike gevolg het dat minderhede nie ‘n werklike sê oor hul toekoms en uitlewing daarvan kan hê nie. Die gevolgtrekking is dus dat die ANC in wese toegewings tydens die 1994-onderhandelinge gemaak het om die mag te bekom en nou daardie mag gebruik om sy doelstellings te bereik. Hierdie doelstelling word duidelik in die NDR (National Democratic Revoltion) in die ANC se idioom verwoord: “We have never made a secret of our belief that the shortest route to socialism is via a democratic state.”
In meeste demokratiese lande het minderhede egter ruimtes waar hulle die meerderheid kan vorm, indien nie, word elke deel van hul bestaan deur ‘n meerderheid oorheers. Dit is juis weens hierdie dat daar in die internasionale reg ‘n sterk argument bestaan dat die erkenning van gemeenskapsregte as ‘n voorwaarde moet dien vir die gelyke genieting van individuele regte. Indien nie, sal die meerderheidsgroep se individuele regte telkens swaarder weeg.
Dit sluit aan by die VN se Ontwikkelingsprogram (UNDP) wat in 2004 ‘n verslag uitgereik het waarin die beste praktyke van vreedsame lande uiteengesit word. In hierdie verslag word daar gestel dat ‘n gewone demokratiese bestel en gewaarborgde individuele regte nie alleenlik voldoende is nie. Die verslag stel dus voorts: “As die geskiedenis van die twintigste eeu iéts bewys het, dan is dit dat pogings om kultuurgroepe weg te wens of in die meerderheid te laat opgaan, eerder ’n lewenskragtige kulturele herlewing uitlok.”
Die keerkant is egter dat alhoewel politieke rasseverhoudings deurgaans versleg, verhoudinge tussen individue en groepe grootliks positief is. Die gevolg is dus dat daar al hoe groter samewerking tussen verskeie gemeenskappe in Suid-Afrika geskied wat gegrond is op die basis van wedersydse erkenning en respek.
In die aangesig van die werklikheid is dit egter pynlik duidelik dat minderhede in Suid-Afrika kwesbaar is. Minderhede, en spesifiek Afrikaners, verlang nie terug na die verlede nie, maar sien swaarlik uit na die toekoms onder hierdie omstandighede.
Die Solidariteit Beweging glo egter dat daar ‘n oplossing en ‘n antwoord vir elke probleem en uitdaging is. Ons is hier om te bly, en ons sal nie almal Suid-Afrika verlaat nie. Suid-Afrika is ‘n land met groot potensiaal en kan en moet ‘n tuiste vir al haar mense skep. Die Solidariteit Beweging en sy instellings is gretig om met enigiemand saam te werk om die probleme wat die falende staat skep die hoof te bied en om gemeenskappe te help om ‘n vry, veilige en voorspoedige land vir alle Suid-Afrikaners te skep.