(Hierdie toespraak was die Slotwoord van 2019 se Toekomsberaad, wat op 10 Oktober plaasgevind het)
Dit is 10 Oktober 2030. Die groot dag het uiteindelik aangebreek. Die Suid-Afrikaanse regering teken vandag ’n omvattende Kultuurakkoord waardeur Afrikaners se selfbestuur amptelik erken word. Die Akkoord is in wese die erkenning van die uitgebreide kulturele selfbestuur wat Afrikaners reeds in die praktyk met sterk selfdoenorganisasies verwerklik het. Die geleentheid word bygewoon deur drie buitelandse afvaardigings van lande waar die Solidariteit Beweging reeds kulturele ambassades het, en waarnemers van Afrikalande wat wil sien hoe die akkommodering van die multikulturele werklikhede vrede en voorspoed in hulle lande kan bevorder.
Dit het alles begin met die Toekomsberaad van 10 Oktober 2019, toe daar besluit is dat groeiende selfbestuur die enigste antwoord vir die mislukking van staatsbestuur is. Afrikaners het destyds besluit om nie langer te wag dat dinge vanself regkom nie, maar om ’n kulturele selfdoenplan te waag. Hulle het geweet dat dit nie sal help om vooraf toestemming te probeer vra nie, maar om op wettig wyse praktiese werklikhede te skep en ná die tyd erkenning daarvoor te kry.
Hoewel die grondwet ruimte vir selfbestuur gehad het, wou die regering dit nie van “bo” af gee nie en het Afrikaners dit van “onder” af boontoe gebou. Die verwesenliking van selfbestuur was dus nie ’n eenmalige gebeurtenis nie, maar het deur ’n proses van groeiende selfbestuur geskied. In die praktyk is die vlak van selfbestuur wat bereik is, bepaal deur die grootte van die gemeenskapsinstellings wat opgebou is. Dit het beteken dat hoe groter die Solidariteit Beweging se instellings soos Akademia en Sol-Tech gegroei het, hoe hoër was die vlak van selfbestuur wat op daardie bepaalde gebied verwerklik is. Dieselfde het gegeld vir AfriForum se buurtwagte, die SOS en Afrikaanse onderwysvennote se hoëtegnologieskole, Helpende Hand se maatskaplike projekte en Solidariteit se beroepsgildes en werkburo’s.
Terselfdertyd het die Ankerdorpstrategie en Konsentrasieplan na ’n ruk Afrikaners se verbeelding aangegryp. Dit was toe die besef wyd posgevat het dat die uitdaging nie ons klein getalle is nie, maar ons yl verspreiding wat al langer as 150 jaar vir ons bestaanskrisis verantwoordelik is. Die verval van die meeste dorpe en plattelandse gebiede het tot ’n nuwe “Groot Trek’ gelei na waar Afrikaners in sowat 30 streekdorpe en stede saamgetrek het. Die groter getalle op minder plekke het dit makliker gemaak om dienste soos skole, opleidingsentrums, veiligheidstelsels, munisipale dienste, maatskaplike sorg en werkverskaffing daar te konsentreer. Dit het daartoe gelei dat Afrikaners nie meer orals dieselfde probleme van vervallende dorpe, geweldsmisdaad, aanvalle op Afrikaanse skole en omgewingsprobleme gehad het nie. Daar was genoeg mense bymekaar om hierdie dienste lewensvatbaar te maak, veral omdat Afrikaners die kulturele selfvertroue ontwikkel het om saam daaraan te bou.
Staatkundige argiteksplan
Die staatkundige “argiteksplan” wat as die bloudruk van die selfbestuursprojek gebruik is, het uit ’n driehoek met vyf vlakke bestaan.
- Persoonlik: die basis van die driehoek was die beskerming en die bevordering van die persoonlike regte en vryhede van Afrikaners, ongeag waar hulle gebly het.
- Instellings: vlak twee was die uitbou van die veiligheids-, munisipale, maatskaplike, werk-, onderwys-, opleidings- en ander instellings en organisasies waarmee selfbestuur gebou is.
- Dorpe: dienste soos veiligheid, water, maatskaplike hulp en ander noodsaaklike dienste is vanaf stede en groter ankergebiede aan Afrikaners in klein dorpe gebied.
- Ankergebiede: die groter getalle Afrikaners in hierdie 30 stede en dorpe het dit moontlik gemaak om ’n omvattende verskeidenheid dienste te verskaf;
- Kantons: die vlak van selfbestuur het om verskillende redes die hoogste in drie gebiede onwikkel, naamlik Pretoria, die Suid-Kaap en die Orania-gebied. Pretoria se groot getalle Afrikaners het gehelp om dienste daar te ontwikkel wat in Switserse kantons aangetref word, in die Suid-Kaap het genoegsame getalle en sterk gemeenskapsenergie dit moontlik gemaak, en in Orania en die omgewing rondom die Vanderkloofdam het die bevolkingsamestelling dit vir Afrikaners moontlik gemaak om met 15 000 mense ’n bepalende meerderheid in die gebied te vestig.
Magsbalans
Hoewel die ANC-regering aanvanklik alles in hulle vermoë gedoen het om Afrikaners se regmatige strewe na kulturele vryheid en selfbestuur te dwarsboom, het die vermoë van die staat so vinnig afgeneem dat hulle dit nie meer kon keer nie. Daarby het die land se krisis so verdiep dat die ANC dit nie kon waag om Afrikaners as wetsgehoorsame en belastingbetalende gemeenskap so te vervreem dat spontane belastingboikotte die staatskas se kraantjie nog kleiner kon draai nie. Die nou byna vergete poging om ’n onbekostigbare en onwerkbare Nasionale Gesondheidsversekeringstelsel in te stel terwyl die bestaande openbare gesondheidsorg nie werk nie, was die finale strooi vir duisende belastingbetalers wat nie meer wou betaal nie. Groeiende buitelandse druk uit veral Europa en die VSA, en die buitelandse beleggingsgemeenskap se waarskuwings dat die regering opgeleide minderhede nie verder moes vervreem nie, het die regering se beweegruimte verder beperk. Saam met die groeiende protesaksies van Afrikaners wat nie langer bereid was om net onderdanige melkkoeie te wees sonder bepalende inspraak oor sake wat hulle raak nie, het die gesamentlike gewig van al hierdie faktore die magsbalans teen die ANC begin swaai. Die vinnige groei van digitale geld het ook ’n groot rol gespeel om die regering te laat besef dat belastingbetalers waarde vir hulle geld eis en hulle swaar verdiende geld nie net meer aan korrupte en onbevoegde politici gaan oorbetaal wat dit teen hulle belange gebruik nie.
Ontwikkelingshulp
Die buiteland se aanvanklike ontnugtering met die ANC het gaandeweg verskuif na praktiese steun vir Afrikaners. Hoewel dit begin het by Europese state se beleidstandpunte teen onwettige ANC-wetgewing soos dié oor onteiening sonder vergoeding, het die regering se miskenning van Afrikaners se menseregte tot finansiële steun vir Afrikaanse onderwys en opleiding gelei. Daar was na ’n paar jaar ook ’n deurbraak op munisipale vlak, toe ’n hele paar buitelandse dorpe en stede “tweelingstad”-ooreenkomste begin sluit het om van die aangewese ankerdorpe met ontwikkelingsprojekte te help. Die feit dat hierdie hulp deur die Afrikaner-dorpsforums kanaliseer is, het meegewerk dat die ontwikkelingshulp doeltreffend gebruik is en ’n groot verskil gemaak het. Dit het die Solidariteit Beweging ook gehelp om brugbouprojekte na ander gemeenskappe te finansier deur byvoorbeeld noodsaaklike dienste te verskaf.
Die proses van groeiende selfbestuur het momentum begin kry toe Afrikaners begin sien het dat hierdie projekte sukses begin behaal, byvoorbeeld met Sol-Tech en Akademia. Die Solidariteit Beweging het ook ’n deurbraak gemaak toe die regering vroeg in 2021 die grondwetlike voorsiening vir kulturele vryheid amptelik bevestig het. Hoewel die regering aanvanklik daarteen teenstand gebied het, het hulle bevestiging van die bestaande ruimtes in die grondwet eerstens meer ruimte vir die selfdoenprojekte gegee en tweedens die erkenning daarvan makliker gemaak.
Hierdie deurbrake was egter nie die rede vir die sukses van die opbou van selfbestuur nie, maar het gevolg op veranderings wat by Afrikaners self plaasgevind het. Hulle het besef dat daar ’n regstreekse verband is tussen vryheid, veiligheid en voorspoed. Sonder vryheid is ’n kultuurgemeenskap se veiligheid en voorspoed afhanklik van ’n vyandige regering. Mense het besef dat veiligheid en voorspoed net deur vryheid gewaarborg kan word. Sonder vryheid kan mense moeilik hulself beveilig en is hulle voorspoed in gedrang omdat die regering hulle pensioenfondse kan gebruik of hulle eiendom sonder vergoeding kan onteien.
Medepligtiges in plaas van slagoffers
Afrikaners het besef dat hulle nie vir die hele land verantwoordelikheid kan aanvaar nie, en dat hulle alles sal verloor as hulle alles probeer behou. Daar is besef dat die regering gekies, betaal en met belastinggeld befonds word om die land te regeer en dienste aan die bevolking te lewer. Indien hy dit nie doen nie en die kiesers hulle ten spyte daarvan vir die elfde keer (ses nasionale en vyf plaaslike verkiesings) sedert 1994 weer verkies, moet Afrikaners by die demokratiese besluit van kiesers berus en eerder na hulle eie belange begin omsien.
Soos George Orwell gesê het, sulke kiesers is dan nie slagoffers maar medepligtiges weens hulle lyding deur swak regering. Dit is immers nie moontlik om staatsdienste sonder staatsinkomste, ’n staatstruktuur en staatsmagte aan almal te bied nie, veral as hulle by die stembus laat blyk dat hulle tevrede genoeg met die ANC is. Afrikaners moet nog steeds help waar dit kan, maar kan nie meer orals verantwoordelikheid vir alles en almal aanvaar nie. Dit is uitgediende paternalisme. Afrikaners het eerder vir selfstandigheid gewerk as om self afhanklik van die staat te word. Hulle moes afskeid neem van verantwoordelikheid vir die hele land, en op hulle eie gemeenskap begin fokus wat deur die staat uitgeskuif is.
Hierdie besef het tot ’n denksprong en ’n nuwe skeppende kulturele energie gelei namate Afrikaners vanaf lede na medebouers van selfbestuur verander het. Hoewel die opbou en uitbou van praktiese selfbestuur aanvanklik stadig gelyk het, het die projek Bill Gates se woorde weereens as waar bewys: niks word in een jaar gedoen nie, maar alles kan in tien jaar vermag word.
’n Belangrike les wat geleer is, is dat vordering tot eenheid lei, en nie dat eenheid tot vordering lei nie. Die Beweging se suksesresep was dat daar nie tyd is om te wag tot almal soos ’n hegte eenheid saamstem nie, maar dat vordering vinnig tot ’n samebindende eenheid lei. Afrikaners het opgehou om mekaar moedeloos te maak oor wat in verlede gewerk het of in die hede afgebreek is, en het eerder mekaar begeester oor wat in die toekoms gebou kan word. Daar is ook besluit om nie mekaar kwalik te neem oor wie in die verlede waar gestem het nie, maar om mekaar te besiel om vanaf 2019 saam aan die toekoms te bou. Heimwee oor die verlede is vervang deur vasberadenheid vir die toekoms. Die kultuur van verdraagsaamheid teenoor onderprestasie is afgeskud, en mense het meer van hulself begin verwag. Afrikaners het saam gebind, saam gebou, saam beskerm, met die owerhede beding en brûe na ander gemeenskappe gebou. Dit beteken nie dat daar volkome eenstemmigheid was nie. Die klem is net op “volksveelheid” eerder as “volkseenheid” geplaas, wat beteken het dat daar ruimte vir verskille was, maar dat dit waaroor verskil is, nie tot verlammende verdeeldheid gelei het nie. As mense nie met iets saamgestem het nie, het hulle dit minstens nie teengestaan nie.
Dit was die resep waarmee Akademia tot ’n wêreldklas universiteit in Afrikaans uitgebou is, met internasionale bande met verskeie universiteite in die VSA, Wes- en Oos-Europa en privaat universiteite in Afrika. Daarmee saam is Sol-Tech tot ’n omvattende beroepsopleidingskolllege uitgebou, het Solidariteit ’n hele netwerk van werk ontwikkel, het Afrikaans weereens tot ’n volle funksionele taal herleef, is daar ’n landswye netwerk onafhanklike Afrikaanse privaat skole ontwikkel, het AfriForum se buurtwagte en sekuriteitsmaatskappy misdaad onder beheer gebring, het Afrikaanse gemeenskapsmedia miljoene lesers en luisteraars in ’n gemeenskap saamgebind, het die ankerdorpe ligpunte midde-in die verval van baie ander geword, het finansiële steun vir Afrikaner-selfbestuur deur die kuberkanton ingevloei vanaf ondersteuners wêreldwyd, het Afrikaanse sakelui deur goed georganiseerde sakekringe werk aan Afrikaanse jongmense gegee, het ’n digitale geldeenheid Afrikaanse koopkrag mobiliseer, het ’n genoteerde eiendomsmaatskappy landswyd leefruimtes vir Afrikaans en beleggingsgeleenthede geskep, het die drie Afrikanerkantons praktiese selfbestuur begin geniet, het die Solidariteit Helpende hand se maatskaplike sambreel duisende verdienstelike behoeftiges landswyd bygestaan, en is sterk bande met die Afrikanerdiaspora gebou tot wedersydse voordeel.
Die somtotaal van al hierdie ontwikkelings was dat die omstandighede geskep is dat Afrikaners ook blywend vry, veilig en voorspoedig in Suider-Afrika kan voortbestaan, tot voordeel van hierdie landstreek en al sy mense. Dit was die hoofrede hoekom die regering uiteindelik nie anders kon nie as om die werklikheid van selfbestuur wat opgebou is, formeel te erken.
Hierdie geskiedkundige gebeure het weer die waarheid bewys van Daniel Burnham se stelling:
“Moenie klein plannetjies maak nie; dit het geen magiese krag om mense te begeester nie en sal ook nie werk nie. Maak groot planne; mik hoog, onthou dat ’n edele, logiese plan wat een maal uitgespel is, nooit sal doodgaan nie, maar lank nadat ons weg is ’n lewende ding sal wees, wat homself net toenemend hardnekkig sal laat geld.”