(Hierdie toespraak van Flip Buys is in Februarie 2020 gelewer)
Meer as 2 500 jaar gelede moes jong mans in Antieke Griekeland wat diensplig moes doen om burgerskap van die Atheense stadstaat te kry, ʼn merkwaardige eed aflê. Hierdie eed, en dit wat dit onderlê, het die grondslag van ons Westerse kultuur en -beskawing geword.
Die 18-jarige mans moes beloof om hulle stad en die erfenis wat hulle van hul voorgeslagte gekry het, te bewaar, te verbeter, en dan soos ‘n aflos stokkie vir die volgende geslag aan te gee. Daarby moes hulle onderneem om hul gemeenskap dapper te verdedig, die stad se wette eerlik te gehoorsaam, hul regeerders teen te staan as hulle nie eerbaar optree nie, burgerlike verantwoordelikheid vir hulle stad en sy mense te neem, en om die God van hul vaders te dien.
Hierdie eed met sy kern van bewaring en verbetering het oor die eeue in baie vorme weerklink, maar die wese daarvan was altyd dieselfde. Dit is dat ‘n gemeenskap ʼn verbond is tussen dié wat reeds dood is, dié wat vandag lewe en dié wat nog gebore moet word. Dit beteken dat ‘n volk gesien is as ‘n onbreekbare ketting van geslagte, waar elke skakel vir sy eie tyd verantwoordelikheid moes neem. Vir ‘n volk se oorlewing was dit nodig dat geen geslag net na sy eie belange moes omsien nie, maar sy voorouers en nageslag in ag moes neem. ‘n Volk is gesien as ʼn bindende verbond tussen die voorouers, die lewendes en dié nageslag wat nog moet kom. Elke geslag moet dit wat hul ontvang verbeter, maar hul mag dit nie weggee of ten gronde laat gaan nie, want dit is nie net hulle s’n nie. Dit behoort aan die ketting van geslagte wat in die waas van die eeue ontstaan het, en tot in die verre toekoms in strek. Elke geslag mag dít wat hulle gekry het by hul voorgeslag met verantwoordelikheid gebruik en benut, want hulle leen dit by hulle kinders.
Die wese van die Westerse sukses oor die eeue, spruit dus in wese daaruit dat Westerlinge histories dít wat ons van ons voorgeslagte gekry het, bewaar en verbeter het, en dit weer na die volgende geslag toe oorgedra het. Elke geslag het net verder en hoër gebou as die vorige een. Almal begin nie weer voor, staan stil of steek in die verlede vas nie. Dit is hierdie “verbond tussen geslagte” waarmee Westerse samelewings deurlopend oor die eeue opgebou is wat die Weste bo ander beskawings laat uitstyg het. Hierdie Westerse kultuurskat is deur sterk instellings soos skole, stede, gemeenskapsorganisasies en ander instellings van geslag tot geslag bewaar en oorgedra na die volgende geslag. Die Westerse kultuur was en is nie volmaak nie, en het hulself nes ander groot beskawings aan gruwels soos slawerny, verwoestende oorloë, verdrukking en uitbuiting skuldig gemaak. Die Westerse ingeboude verbeteringskultuur, het egter daartoe gelei dat die Weste se kulturele pakket nog van die beste stelsels van die mensdom het.
Van Riebeeck se skatkis
Hierdie Westerse kultuurskat is deur Jan van Riebeeck na Suid-Afrika gebring, en het stelselmatig na die binneland uitgebrei deur historiese bewegings soos die Groot Trek. Hierdie kulturele skatkis het bestaan uit “hardeware” soos die markekonomie, die regsorde, wetenskap en tegnologie, stede en infrastruktuur, en “sagteware” soos beskryf in die Atheense Eed, persoonlike verantwoordelikheid, ondernemerskap, werksetiek, Christelike waardes en roepingsbesef. Dit beteken nie dat alles wat van Riebeeck met die skip gebring het wat of die Trekkers met hulle waens in die binneland saamgebring het net reg en volmaak was nie, maar dat die kern van deurlopende bewaring, regstelling en oordra na die opvolgende geslagte die kultuur heeltyd verder verbeter het.
Dit het ook deel geword van Afrikaners se “geboortepapiere” oftewel stigtingsdokumente. Dink maar aan President Kruger se laaste boodskap van “neem uit die verlede wat skoon en mooi is en bou die toekoms daarmee”, en Langenhoven se bede in die laaste vers van “Die Stem” waar hy vra “… Dat die erwe van ons vaders vir ons kinders erwe bly”. Hierdie kulturele skatkis is veel meer as braaivleis, rugby en sonneskyn. Dit is ‘n werkende land, ‘n produktiewe ekonomie, ‘n regverdige regsorde, ‘n eerbare demokratiese regering, bekwame staatsadministrasie, ʼn produktiewe en goed betaalde werksmag. Dit is wêreldklas stede en goed regeerde dorpe, goeie skole en wêreldklaskolleges en -universiteite. Dit is ʼn moderne samelewing met al die dienste en geriewe wat daarmee gepaard gaan soos werkende hospitale, paaie, huise en infrastruktuur. Hierdie skat van ons kultuur moet ons- soos van Wyk Louw so treffend sê- veilig deur die massa dra”, en vir die volgende geslag bewaar.
Luister hoe pragtig Albert Einstein hierdie oordrag tussen geslagte aan ‘n groep kinders gestel het: “die wonderlike dinge wat julle in jul skole leer is die werk van talle geslagte. Al dié dinge word in jul hande geplaas as jul erfenis sodat julle dit kan ontvang, eer, verder daartoe bydra, en eendag dit getrou aan jul kinders kan oorhandig.”
Orwell
Elke geslag dink hy is slimmer as die vorige- en wyser as die volgende geslag, het George Orwell gesê. Daarom lewer mense vandag vurige kritiek op ons voorouers, want hulle weet nie wat die omstandighede is waarin hulle moes leef nie. Terselfdertyd besef ons nie altyd hoe belangrik dit is om te bewaar wat ons gekry het nie, want ons aanvaar dit as vanselfsprekend. Baie mense dink verkeerdelik en verwaand die Westerse kultuur is universeel en wil dit op alle ander kulture afdwing. Wanneer dit dan onvermydelik misluk, gaan daar soveel verlore wat eintlik die erfenis van ons kinders moes wees.
Ons dink in vandag se kitstyd ons voorgeslag was outyds en verkeerd met alles wat hulle aangepak het. Die Britse historikus, Niall Ferguson, het bereken dat uit al die mense op aarde wat al geleef het, net sowat 7% vandag leef. Dit beteken dat mense wat die verlede afskryf, die gesamentlike wysheid en ervaring van 93% van die mensdom wat ooit geleef het, wil uitvee.
Die rede hiervoor sê die Afro-Amerikaanse ekonoom, Thomas Sowell, is dat linkses tradisie sien as die “dooie hand van die verlede” en die oorblyfsel van ʼn vergane donker era, en nie as die gesuiwerde ervaring van miljoene mense wat soortgelyke uitdagings moes trotseer nie. Hier verwys hy natuurlik na Karl Marx – en sy hedendaagse aanhangers – wat gesê en geglo het dat die tradisies van afgestorwe geslagte soos ʼn nagmerrie op die breine van die lewendes druk. Daarom wou Marx alles omverwerp en het sy volgelinge met rewolusies die samelewings wat hulle oorgeneem het vernietig, in plaas daarvan om verder te bou en deurlopend daarop te verbeter.
Ons beleef tans inderdaad groot krisisse. Maar ons kan hier uitkom. Ons het die regte “sagteware.” Ons moet net terugkeer na ons historiese Westerse suksesresepte, dit skeppend vernuwe en dit daadkragtig uitvoer.
Ons geslag se taak
Die geskiedenis gee aan elke geslag ʼn taak. Sommiges kry makliker take as ander. Party kry baie, ander moet baie gee. Omdat daar egter ʼn verbond tussen die geslagte is; omdat ʼn beskawing ʼn ketting van geslagte is wat soos met ʼn afloswedloop dít wat jy kry moet bewaar en vir die volgende geslag aangee; omdat die een geslag van die vorige en die volgende een afhanklik is, beteken dit dat as net een geslag nie sy taak opneem nie, daardie ketting vir altyd verbreek is. Dan gaan daardie beskawing onder, verskraal tot ʼn voetnota in ʼn geskiedenisboek. Dit is soos om ʼn boom af te kap en dan te dink jy sal steeds die vrugte en koelte kan bly geniet.
Die geslagte voor ons het met groot uitdagings te kampe gehad. Die een geslag moes die Groot Trek aanpak, die volgende een die Anglo-Boereoorlog. Daarna het die modernisering van Afrikaans gevolg waardeur die land opgebou is. Die volgende geslag moes die Koue Oorlog en die Grensoorlog trotseer en het die volkereverhoudingsprobleem probeer oplos deur sogenaamde “afsonderlike vryhede.” Die volgende geslag moet ‘n oplossing vind vir meerderheidsregering wat in meerderheidsoorheersing begin ontaard.
Baie mense sien nie ‘n toekoms hier nie, en dink alles is verby. Maar wat leer die geskiedenis? Die Britse historikus, Arnold Toynbee, het in sy studie van die wêreld se groot beskawings, bevind dat almal deur uitdagings bedreig was, maar dat skeppende minderhede wat suksesvol op die bedreigings geantwoord het, die geheim van oorlewing is. Hierdie minderhede het ʼn besielende doel gestel, ʼn plan gemaak om dit te bereik en volhardend gewerk totdat dit verwesenlik is – kortom: doel, plan, aksie. Wanneer leiers egter nie met voldoende skeppende energie en verbeeldingryke planne vorendag gekom het en dit uitgevoer is nie, het beskawings ondergegaan. In Toynbee se woorde: “Great civilizations never die, they commit suicide.”
Maar wat is ons taak? Die geskiedenis stel geen geslag vry om maar net op die rug van vorige geslagte se antwoorde op die eise van hul tyd te ry nie.
Ek wil dit waag om te sê dat dit ons geslag se taak is om die bestaansuitdaging van ons as Westerse gemeenskap met ʼn volhoubare oplossing aan te pak.
Ons bestaanskrisis is nie ons klein getalle nie, maar ons yl verspreiding- wat veroorsaak dat ons orals in die minderheid is en landswyd dieselfde probleme het.
Ons is meer as die onderskeie bevolkings van Namibië, Lesotho, Macedonië, Slowenië, Letland, Botswana, Gambië, Gaboen, Estland, Swaziland, Mauritius, Ciprus en Luxemburg, asook ’n menigte ander volke. Maar ons woon nie gekonsentreerd soos al hierdie volke nie, en ons is gevolglik ʼn kwesbare minderheid tussen ʼn groter meerderheid. Ons het nie ons eie “Skotland” of “KwaZulu” nie.
Daarom word ons landswyd in die werkplek deur rasseformules, kwotas en diskriminasie geteiken; daarom is ons orals onveilig; daarom verval ons dorpe; daarom word ons landswyd deur onsimpatieke meerderhede regeer; daarom word ons Westerse leefwyse orals bedreig; en daarom sien so baie mense nie meer ʼn toekoms hier nie.
As die uitdaging yl verspreiding is, is die oplossing groter konsentrasie op plekke waar mense tuisvoel – en dit is presies wat lankal besig is om vanself te gebeur. ʼn Groot Trek is weer aan die gang. Mense trek al dekades lank uit vervallende klein dorpies na streeksdorpe en na die stede toe; hulle trek van vervreemde middestede na voorstede; uit gevaarlike gebiede na veiligheidsdorpe; uit plekke waar hulle ʼn klein minderheid is na plekke toe waar daar groot getalle van hul kultuurgenote is soos in die Wes-Kaap. Ons is besig om al meer op al minder plekke te konsentreer, en die groter getalle maak oplossings makliker. Dié wat kan, “trek” vanaf staatshospitale na privaat hospitale, vanaf die polisiediens na privaat sekuriteitsdienste, vanaf werk in die staatsdiens en openbare ondernemings na werk by kleiner privaat maatskappye. Die verval van die land, gekoppel aan ‘n gelyklopende opbouproses deur die privaatsektor en die burgerlike samelewing, lei daartoe dat ons sentralistiese stelsel vanself begin federeer. Meer as 500 000 het ook al in organisasies soos Solidariteit, AfriForum en ons Beweging gekonsentreer. Dit maak dit al makliker om al vinniger aan al groter oplossings te werk. Die grootste waagstuk is om tydens ʼn krisis te wag (op beter dae) in plaas daarvan om ʼn plan te waag.
Kantonstrategie
In die praktyk ontstaan daar orals konsentrasies wat ons kulturele kantonne (soos in Switserland) kan noem, waar mense meer vry, veilig en tuis voel en is. Waar ons vroeër al verder van mekaar af getrek het, trek mense nou nader aan mekaar, en werk vanuit hierdie ruimtes dan saam met almal anders. Ons moet hierdie hedendaagse Groot Trek met dienste ondersteun, want dit het in praktyk ons Plan B geword wat vanself ontstaan het toe Plan A vasval. Dit is nie ʼn projek om onsself af te sonder nie, maar juis in reaksie op ons isolering en uitsluiting deur die owerheid. Dit bou juis die kulturele leefruimtes vir ons om saam in Afrika te kan bestaan. Eilande is nodig om te keer dat die see jou nie oorweldig nie. Hierdie strewe na selfbestuur in kulturele leefruimtes is in reaksie op die mislukking van ANC-bestuur oor ons. Dit sal nie help om hulle te beveg deur die staatsruimtes te probeer terugvat nie. Ons moet eerder gemeenskapsruimtes bou deur konsentrasie, as om deur konfrontasie dít wat oorgeneem is te probeer terugvat.
Uiteindelik wil ons mense in klein dorpies kan help met noodsaaklike dienste; wil ons in die 30 ankerdorpe en -stede waarnatoe mense volgens ons navorsing trek volhoubare dienste skep soos veiligheid, werk, onderwys en maatskaplike sorg. Ek glo egter dat ons ook groter kantonne sal moet vestig, waarskynlik in Pretoria in die noorde, moontlik een in die Suid-Kaap, en een in die weste van die land met Orania as groeipunt. Al hierdie projekte doen ons nie teen die owerheid nie, maar omdat dit nie sal help om vooraf goedkeuring te vra nie, vra ons eerder ná die tyd om erkenning vir dít wat in praktyk gebou is. Selfs waar ons dit nie kry nie, bied die praktiese werklikhede wat ons skep vir ons die leefruimtes waarin ons vry, veilig, en voorspoedig kan voortbestaan. Ons strategie is om al die ruimtes wat die grondwet en internasionale reg ons bied te benut. Ons beplanning doen ons in terme van geslagte, soos wat verantwoordelike Westerlinge sedert die antieke Grieke se tyd gedoen het. Dit beteken dat ons breedweg vir ‘n eeu vorentoe moet beplan, wat min of meer 3 geslagte is.
Daniel Burham het gesê:
“Moenie klein plannetjies beraam nie; hulle laat nie mense se bloed bruis nie en sal nie slaag nie. Maak groot planne; mik hoog in hoop en in werk terwyl julle onthou dat ‘n edel, logiese plan wat goed uitgewerk is, nooit sal vergaan nie, maar lank na ons nie meer hier is nie, ‘n lewende ding sal wees wat homself al meer sal laat geld.
Die harde waarheid is dat ons ná 25 jaar weet dat die Akte van Menseregte nie ons grondliggende belange gaan beskerm nie. Maar ons weet ook dat hoe hoër die vlakke van selfstandigheid is wat ons bou, hoe minder kwesbaar sal ons in ʼn vervallende staat wees. Vryheid is uiteindelik die enigste waarborg vir veiligheid, vir ‘n voorspoedige ekonomie, vir ons lede se werk, vir gelykheid, vir reg en geregtigheid, vir werkende dienste, vir goeie skole, en vir ʼn toekoms vir ons kinders.
Ons mense het deur hul vindingrykheid, skeppende vermoë en ondernemingsgees wêreldklas-prestasies op alle gebiede bereik: medies, sport, wetenskap, besigheid, kultuur en die kunste. Ons sal daardie selfde vermoë moet aanwend om op staatkundige gebied weer al hierdie elemente in ʼn samehangende plan in te weef, anders is dit nie standhoudend nie.
Suksesresep
Kom ons gebruik ons voorouers se beproefde suksesresep om krisisse te oorkom:
Neem een groot krisis.
Meng dit met leierskap en visie.
Gooi ʼn paar stewige “skeute” wilskrag by.
Versterk die mengsel met kinderlike geloof.
Vermenigvuldig dit met Helpmekaar-energie.
Klits hope harde werk by.
ʼn Knypie broedertwis na smaak.
Versoet met ʼn groot skep saamstaan.
Bak nou vir sowat ʼn dekade lank in ʼn groot bak vol volharding en vasbyt.
Dit behoort genoeg te wees vir die toekoms van ʼn hele nuwe geslag.
Kom ons pak die taak wat die geskiedenis aan ons geslag opgelê het aan met geloof, waagmoed, ywer en volharding.
Soos pres. Kennedy gesê het:
“If not us, who? If not now, when?”