Die groot prentjie

(Hierdie toespraak is op 3 Maart 2023 gelewer)

Beste Kollegas

Ek wil vandag graag met julle praat oor die groot prentjie van dit wat in die land gebeur; wat ons Beweging daaraan doen; en waar die instelling waar jy werk, inpas.

Die ware naarheid is dat dit lyk of Suid-Afrika stuk-stuk van bo af verval. Die goeie nuus is gelukkig dat die privaat sektor en gemeenskappe soos ons Beweging, dinge weer stuk-stuk van onder af opbou. Ons kan nie die regering keer om af te breek nie, maar hulle kan nie keer dat ons opbou nie. Dit is natuurlik baie moeiliker om op te bou as om af te breek. Onthou egter dat Rome nie in een dag gebou is nie, maar gelukkig ook nie in een dag geval het nie. Ons moet net die tyd gebruik. Die opbouers se groot uitdaging is om vinniger op te bou as wat dinge verval en daarom sal ek kortliks verwys na ons planne om die opbouproses te versnel.

Normaliteit

Dit is belangrik om vír iets te staan, anders val ʼn mens vir alles. Ons staan nie vir een of ander snaakse ideologie nie. Ons staan vir normaliteit. Normaliteit is ʼn samelewing waar jy snags veilig is; waar dinge werk; waar jy waarde kry vir jou belastinggeld; waar daar nie straffelose korrupsie is nie; waar die regstelsel optree teen misdaad; waar onreg nie as reg voorgehou word nie; waar rassewette nie jou toekoms bepaal nie; waar die regering die dienaars in plaas van die heersers is; waar daar gesonde rassebetrekkinge is; en waar ʼn normale toekoms vanselfsprekend is. Normaliteit is waar die vryheid bestaan om self besluite te neem en dit uit te voer in plaas daarvan dat ʼn onbekwame regering teen jou regeer.

Die strewe na normaliteit beteken dat ons nie na die verlede onder die NP verlang nie, maar dat ons nie uitsien na ʼn toekoms onder die ANC nie. Die mislukking van ANC-bestuur beteken terselfdertyd dat groter selfbestuur die enigste uitweg is. Ons strategie is groeiende selfbestuur deur groeiende organisasies. Selfbestuur is ʼn proses; nie ʼn gebeurtenis nie. Die spoed van die opbou van selfbestuur word bepaal deur ons vermoë om ons gemeenskap deur ons droom te begeester om saam te bou. Daarom moet ons mekaar eerder besiel met dít wat ons opbou as wat ons mekaar moedeloos praat oor alles wat verval. Ons vra nie vooraf-toestemming van die ANC nie. Ons doen dinge reg en wettig, en kry dan ná die tyd erkenning vir wat opgebou is.
Nuwe bedeling

Die regering is ongelukkig nie die land en sy mense se enigste probleem nie. Ons regeringsprobleem word vererger deurdat ons terselfdertyd ʼn bedelingsprobleem het. Suid-Afrika is groter as agt Europese lande saam, naamlik Brittanje, Ierland, Nederland, Denemarke, België, Duitsland, Italië en Griekeland. Dit sou totaal onsinnig wees om hierdie agt lande as ʼn eenheidstaat sentraal te probeer regeer, met net een regering, een beleid, een Eskom, een lugdiens en een staatsdiens. Hierdie lande is geografies en demografies mos net té uiteenlopend. Dieselfde geld vir Suid-Afrika wat duidelik meer ʼn subkontinent is soos Oos-Afrika of Wes-Europa as wat dit een land soos Swede of Botswana is. Dit spreek vanself dat ʼn land met 11 amptelike tale té kompleks is om as ʼn eenheidstaat sentraal regeer te word.

Die fout wat die ANC ná 1994 gemaak het, was om ʼn nasie vir die staat te probeer bou in plaas van ʼn staat vir die nasie. Demokrasie beteken dat die staat by die nasie moet aanpas in plaas daarvan om, soos die ANC, die nasie by die staat te probeer indwing. Daarom het die ANC eenvormigheid in die naam van verskeidenheid probeer afdwing deur een nasie vir die eenheidstaat te probeer skep deur almal deur transformasie-rassekwotas by die meerderheid te probeer inlyf. Dit is waar die dryfveer van een land, een nasie, een taal, een party, een verlede, een Eskom en een skoolstelsel vandaan kom. Dit is ook hoekom die ANC ʼn land met vele kulture in een land met twee rasse probeer omskep wat hulle dan deur hul rassebeleid ten gunste van die meerderheid vir “altyd” kan regeer.

Vir hulle gaan dit oor “gelykheid,” eenvormigheid en staatsmag. Ons staan vir vryheid, verskeidenheid en gemeenskapskrag. Ons glo aan eenheid in verskeidenheid; hulle aan “eenheid’ deur die ontkenning van verskeidenheid. Ons sien die land as ʼn gemeenskap van gemeenskappe; hulle sien dit as een ANC-oorheerste staatsnasie. Ons glo aan vriendskap en hartlike samewerking tussen gemeenskappe; hulle aan onderhorige onderdane wat gehoorsaam doen wat die ANC besluit.

ʼn Vrye en demokratiese staatsbestel moet gegrond wees op die erkenning van geografiese en bevolkingswerklikhede in plaas van die ontkenning daarvan.

Die groot prentjie wat hom tans afspeel, is dat die verval en heropbou wat ons in die land sien, een is van ʼn onwerkbare bedeling wat verval en ʼn beter bedeling wat in sy plek opgebou word.

Hoe vinniger die regering van bo af verval, hoe vinniger word ʼn nuwe bedeling van onder af opgebou. Die verval van sentrale infrastruktuur waarin ons geen inspraak het nie, word teengewerk deur die opbou van gedesentraliseerde / plaaslike oplossings waarby mense self betrokke is. Neem nou maar Eskom as voorbeeld: Die verval van hierdie sentrale monopolie maak ons met reg woedend en dit is ʼn nasionale tragedie en die grootste enkele krisis in die land. Maar wat my opgewonde maak, is dat duisende maatskappye en miljoene mense besig is om hulself teen hierdie verval te verskans deur planne vir kragopwekking in werking te stel. Dit is natuurlik baie duur, baie moeilik en gaan baie lank neem, maar met die hulp van nuwe planne, nuwe tegnologie en nuwe rolspelers gaan die kragopwekkingsituasie binne ʼn paar jaar lyk soos hoe die diens van die Poskantoor deesdae daaruitsien. Dit gaan mettertyd al makliker, goedkoper en meer doeltreffend word om energie op kleiner skaal op te wek. Eskom gaan seker nog bestaan, maar baie min mense gaan dit baie min gebruik.

Die ironie is dat hoe vinniger die regering van bo af verval, hoe meer dwing die werklikheid die burgery om al vinniger weer op te bou. Ons kan dit met ʼn wipplank in ʼn speelpark vergelyk:
Hoe vinniger die een kant afgedruk word, hoe vinniger kom die ander kant op.

Ons mag nie dat die klank van die dawerende verval in die land ons verdoof vir die sagte klank van die heropbou wat bykans onsigbaar maar onkeerbaar gebeur nie. Net soos ʼn harde donderbui baie meer aandag trek as sagte reën, klink die verval van die staat baie harder as die sagte heropbou deur duisende mense reg oor die land.

Eilande

Daar is wel groot risiko’s in ʼn bedeling wat verval, en dit bly ʼn verskriklike tragedie dat soveel dorpe verval en dat so baie van die infrastruktuur wat opgebou is ten gronde gaan. Dink maar aan die spoorweë wat net soos soveel ander staatsinstellings agteruitgaan tot so ʼn mate dat vragmotors ons paaie voos ry! Dekolonisering word inderdaad demodernisering. Daarom moet ons eilande van orde bou in wat soms ʼn see van wanorde word.

Daarom kan ons nie bekostig om op die kantlyn te sit en te wag dat dieselfde mense wat die bedeling laat verval ʼn ander een probeer oprig nie. Dit is hoekom ons Beweging op soveel gebiede so diep betrokke is by beskerming aan die een kant en heropbou aan die ander kant. Daarom behels die een been van ons strategie om te probeer keer dat dinge agteruitgaan, terwyl ons terselfdertyd kliphard bou aan vooruitgang.

ʼn Ander Suid-Afrika

Die heropbou van die bedeling wat verval beteken beslis nie dat die “ou” Suid-Afrika of die “nuwe” Suid-Afrika gaan terugkom nie. Die verlede is verby en heimwee daarna gaan niks help nie. Dit sal nie help om te wens die ou of die nuwe Suid-Afrika kom terug nie; ons werk eerder aan ʼn ander Suid-Afrika. Die harde werklikheid is dat die verval in die land so groot is dat nie alles en orals gered sal kan word nie. Daarom konsentreer ons ons pogings op en fokus daar waar ons ʼn verskil en impak kan maak, want hoe breër ons fokus, hoe kleiner gaan ons invloed wees.

Ons kan nie verantwoordelikheid neem vir alles en almal in die land nie. Ons kan nie staatsdienste lewer sonder staatsinkomste nie. Die ANC word immers verkies, betaal en met ons belasting befonds om dienste aan die land te lewer.

Daarom is ons strategie eerstens om sekere projekte aan te pak wat almal in die land bevoordeel, maar tweedens projekte in belang van Afrikaners as kultuurgemeenskap en die breër Afrikaanse taalgemeenskap aan te pak. Ons doen wat ons kan vir beter regering, maar ons bou ook aan ʼn nuwe bedeling. Politieke verandering is baie nodig, maar staatkundige hervorming is net so belangrik. Die ANC sal albei probeer keer, maar hulle kan nie teen die werklikheid veg nie. ʼn Bedeling neem die vorm van die werklikheid aan en die werklikheid laat hom nie in ʼn ideologiese dwangbuis indwing nie.

Ons wil die omstandighede skep waarin Afrikaners blywend vry, veilig en voorspoedig hier kan bly sodat hulle dan ʼn volhoubare bydrae tot die welstand van die land en al sy mense sal kan maak.

Ons raak nie by die partypolitiek betrokke nie omdat ons meer weeg as wat ons tel. Ons skakel wel met politici wanneer dit in ons gemeenskap se belang is, maar dit is soms meer ʼn kwessie van “saam in die kryt” as “saam in die bed” wees!

Huis en tuis

ʼn Bedeling is die somtotaal van al sy instellings waarin en waardeur mense leef. As hierdie instellings verval of oorgevat word, moet ʼn gemeenskap in belang van sy eie voortbestaan nuwe instellings opbou. Dit is soos ʼn huis wat net ʼn tuiste is as daar kamers vir elke gebruik is. Daarom bou ons “kamers”, oftewel instellings, vir veiligheid, werk, dorpsdienste, onderwys, opleiding, maatskaplike sorg, die media en ons taal en kultuur. Hoe hoër ons die mure bou, hoe groter is ons selfbestuur. Hoe vinniger ons dit kan doen, hoe gouer is ons vry van die staatsverval. Ons bou ook nie hierdie kulturele huishouding om ander uit te sluit nie, maar juis om dit vir ons moontlik te maak om veilig saam met hulle in hierdie Suider-Afrikaanse buurt te bly.

Versnelling

Ons plan is wel groter as die probleem, maar dit is nie moontlik om dit alleen uit te voer nie. Dit gaan dan té lank neem, en ons sal ons planne moet versnel. Daarom werk ons aan vennootskappe tussen kultuur en kapitaal waar beleggers ʼn geldelike opbrengs en ʼn kulturele dividend kan kry as hulle saam opbou.

Die mislukking van die sentralistiese bedeling noop ons terselfdertyd om ons federale of selfbestuurplanne in meer besonderhede uit te werk. Ons gaan binnekort ons konsep-federale plan met julle deel vir insette, waarna dit wyd gekommunikeer en dan geïmplementeer gaan word.

Dit is meer gegrond op “volksveelheid” as op volkseenheid omdat ons nie verwag dat almal met alles hoef saam te stem nie. Dit is ook nie nodig om dit waarmee jy nie saamstem nie teen te staan nie. Demokratiese volwasseheid beteken om ruimte vir mekaar se sienings te hê en te bou waaraan jy wil sonder om in ander se pad te staan wat verder of groter wil bou. Ons planne word gevorm deur die bevolkingswerklikhede in die land, wat bepalend is vir die uitvoerbaarheid daarvan.

Die bevolkingsverspreiding en konsentrasies het daartoe gelei dat ons plan ruimte maak vir:
• Landswye ankergemeenskappe waarbinne ons gemeenskap gekonsentreerd bly;
• ʼn Pretoria- kulturele kanton;
• Selfstandige instellings op elke gebied soos wat ons reeds gevestig het;
• Groeiende federalisme in die Wes-Kaap;
• ʼn Internasionale kanton om ons mense in die buiteland te betrek;
• ʼn Orania Kanton-gebied in die weste van die land; en
• ʼn Interkulturele netwerk van kultuurgemeenskappe wat met mekaar saamwerk.

Ons Beweging staan wel voor groot uitdagings, maar dit is terselfdertyd ʼn voorreg om aan oplossings te werk en nie net oor die probleme te kla nie.
Baie dankie vir julle almal se saamwerk, saambou, moedhou en volhou. Ons grootste uitdaging gaan wees om te volhard as dit moeilik gaan. Onthou net – as jy met ʼn groot beer stoei, hou jy nie aan tot jy moeg is nie, maar tot hy moeg is!

Baie sterkte met die bouwerk aan dít wat groter as onsself is.

Flip Buys

Die ANC-padkaart na ondergang

(Hierdie stuk is aanvanklik geplaas as meningstuk op Maroela Media, en het op 23 Januarie 2023 verskyn. Bron:https://maroelamedia.co.za/debat/meningsvormers/die-anc-padkaart-na-ondergang/ )

Dit is teen hierdie tyd vir die meeste mense duidelik dat die ANC nie die land kan regeer nie. Na bykans drie dekades aan bewind raak die uitdagings net te veel.

Wat minder duidelik is, is wat die hoofrede vir hierdie onvermoë is. Die grondoorsaak van die regeringsgedrewe landsverval is dat hulle ideologies nie in staat is om die land suksesvol te regeer nie. Dis nie dat hulle nie wíl nie, hulle kán nie, omdat hulle ʼn onregeerbare ideologie navolg.

Daar is belangrike lesse te leer uit ʼn studie van die padkaart na ondergang wat vele linkse regerings histories gevolg het.

Tien mylpale op die padkaart na ondergang

1. Ideologiese godsdiens

Die reis na mislukking begin met ʼn linkse ideologie wat die beste bedoelings het om ʼn beter lewe vir almal te skep. Ware sosialiste is so oortuig van hulle saak dat dit in die praktyk eerder ʼn politieke godsdiens as ʼn politieke filosofie is. Dit is waarom die talle mislukkings van die ideologie nie tot ʼn grondige herbesinning lei nie, en dieselfde foute weer en weer gemaak word.

Hulle klou vas aan Marx se siening dat sosialisme die finale fase van historiese ontwikkeling is, wat onafwendbaar volg nadat die primitiewe, slawe-, feodale en kapitalistiese eras misluk het. Daarom sien hulle sosialisme as die mees ontwikkelde en gevorderde ideologie, wat vir altyd ʼn einde wil bring aan menslike swaarkry wat deur die voorafgaande onmenslike stelsels veroorsaak is.

Alle ongelykheid word as verontregting gesien, met opstand en gelykmaking as die oplossing. Marx se voorskrif oor die kortpad na sosialisme word vandag nog net so luid soos die Evangelie verkondig: veg eers vir demokrasie en gebruik dan die politieke mag om die ekonomiese mag deur die instelling van sosialisme te verkry.

Vir sosialiste is Marx die Messias; Lenin is Paulus, Das Kapital is die Bybel, die uiteindelike sosialistiese werkersparadys is die hemel, demokrasie is die eerste stap na sosialistiese saligheid, kapitaliste is die duiwel, die ongelykheid wat privaatbesit meebring is die sonde, die party is die kerk, partyamptenare is die priesterorde, andersdenkendes die ketters, die konsentrasiekamp is die hel, en die klassestryd verteenwoordig die stryd tussen goed en kwaad.

Die belangrikste kenmerk van sosialisme is dat dit ʼn aggressiewe ideologie is, waar teenstand tot ʼn “heilige” oorlog kan lei en waar die utopiese einddoel die uiterste metodes regverdig.

Die belangrikste rede vir die mislukking van hierdie ideologie, is dat dit in wese ʼn opposisie- en struggle-ideologie is en nie ʼn “regeerideologie” wat moderne, uitgewerkte regeerinstrumente ontwikkel het nie. Die vereistes vir ʼn suksesvolle oorname van ʼn land, bots ongelukkig lynreg met die vereistes wat nodig is vir die suksesvolle regeer van die land.

2. Hemel op aarde

Sosialiste wil nie net die werklikheid verbeter nie, hulle wil dit grondliggend eers omskep en dan herskep. Daarom kan die ou orde nie net hervorm word nie, dit moet omvergewerp en van nuuts af herbou word. Hierin lê die grondoorsaak van die mislukking van linkse omwentelings: té veel, té vinnig, té radikaal en in die verkeerde rigting.

3. Groot staat

ʼn Belangrike oorsprong van die historiese geskil tussen links en regs is die grondliggende verskil in die siening oor die rol van die mark teenoor die staat. Waar ondersteuners van die vrye mark die wil van alle vrye mense om hul lewens te verbeter as die sterkste enjin van ontwikkeling sien, glo aanhangers van staatsbeheer dat ʼn groot en sterk staat daarvoor verantwoordelik is.

Daarom skep die politiek verwagtings waaraan die staat en die ekonomie nie kan voldoen nie. Opstande oor swak dienslewering, gevolg deur dieselfde onwerkbare “omkeerstrategieë”, is kenmerkend van hierdie siklus na die bodem.

4. Groot planne

Vryheidsliewende state se doelwitte is hoofsaaklik beperk tot die beskerming van hulle burgers se regte, soos lewe, eiendom en persoonlike vryheid. Die kern van hierdie stelsels gaan dus daaroor dat die staat so min as moontlik moet doen.

Linkse state staan direk daarteenoor, omdat hulle weer soveel moontlik vir hulle burgers wil doen. Hierdie state beklemtoon sosiaal-ekonomiese menseregte, wat ook in die Suid-Afrikaanse Grondwet opgeneem is. Ons glo dat die staat mense se regte moet beskerm, hulle glo dat die staat mense se regte vir hulle moet gee.

Die probleem is dat daar ʼn regstreekse teenstelling tussen hierdie twee groepe regte is. Die eerste geslag regte beperk die staat se mag en beklemtoon die vryheid van die burger, terwyl die tweede geslag regte die staat se mag vergroot deur ʼn plig op die staat lê om meer vir die burgers te doen.

Die spanning tussen hierdie twee geslagte regte en hulle ondersteuners in lande met groot ongelykhede, word so groot dat dit nie lank saam kan bestaan nie. Eiendomsreg en die oppergesag van die reg kan byvoorbeeld nie saam met ʼn welsynstelsel en die herverdeling van welvaart voortbestaan nie.

Die groot vraag bly of demokrasie en kapitalisme in ʼn land soos Suid-Afrika blywend kan saambestaan? Demokrasie gee vir die meerderheid die mag, terwyl sosialisme welvaart vir ʼn minderheid skep.

5. Magsbalans bepaal spoed

Die globale en Suid-Afrikaanse magsbalans tydens die Kodesa-onderhandelinge van die 1990’s was nie ten gunste van die ANC nie. Daarom moes hulle noodgedwonge toegewings maak om die mag te kry, maar noudat die globale en Suid-Afrikaanse magsverhoudinge verander het, gebruik hulle die mag om hulle oorspronklike doelwitte te verwesenlik.

6. Nasiebou

Die linkse staat eis jaloers alle lojaliteite op en glo dat demokratiese ruimtes vir die vryheid van persone, volke en kultuurgroepe, die media en die regbank die nasionale eenheid ondermyn. Daarom is die klem daarop om almal by die “staatnasie” in te lyf. Daar word aktief gewerk om verdelingslyne soos tale en kulture uit te vee en nasionale eenheid te beklemtoon, in die naam van gelaaide woorde soos insluiting en inklusiwiteit.

Uiteindelik moet minderhede veg vir die basiese regte en vryhede wat meerderhede as vanselfsprekend aanvaar, en word hulle gereeld in die naam van demokrasie verontreg en selfs verdruk.

7. Groot mislukkings

Die groot planne van linkse regerings lei feitlik sonder uitsondering tot groot mislukkings. Die gaping tussen wat die regering wil doen en wat die staat kan doen word al hoe groter, omdat die staat se uitvoerende vermoë terselfdertyd deur die regering ondermyn en afgebreek word deur beleidsrigtings soos verteenwoordigendheid.

Die oorlading van die staat, en die oorskatting van die mag en vermoë van die staat om feitlik enige probleem op te los, is kenmerkend van totalitêre ideologieë. Die burgery wil naderhand eerder stem vir ʼn lewe as om vir een te werk.

8. Meer mag, minder vryheid

Die staat moet meer en meer mag en hulpbronne sentraliseer om sy groot agenda te kan uitvoer. Dit vereis dat die staat al hoe meer in die vryhede van sy burgers, die ekonomie, die reg en die media moet inmeng. Daardeur word die demokrasie en politieke mag juis die werktuig om die burgers se vryheid te ondermyn, en lei die proses algaande tot groter verontregting en later oorheersing.

9. Verdrukking deur demokrasie

Voordat die Westerse liberale demokrasie die algemene wêreldstandaard geword het waaraan almal moes voldoen, kon outokratiese en totalitêre regerings hulle burgers makliker hardhandig onderdruk.

Deesdae moet selfs verdrukkende regerings soos dié van Zimbabwe voorgee om demokraties te wees met verkiesings, parlemente en al. So word “demografiese” meerderheidsregering meermale meerderheidsoorheersing. Demokrasie word dus ʼn werktuig van verdrukking in plaas van ʼn stelsel wat vryheid vir almal moes bring.       

10. Van verdrukking tot verval

Die innerlike teenstellings van die stelsel word uiteindelik so groot dat dit net nie meer werk nie. Die staat begin stuk vir stuk, dorp vir dorp of diens vir diens verval; mense kom al sterker in opstand daarteen in die naam van swak dienslewering; die veiligheidsmagte moet al meer magte kry om al sterker in te gryp om gewelddadige opstande te keer; verontregting begin algemeen plaasvind; die burgery se vryhede word al meer beperk; armoede, werkloosheid en ellende neem krisisafmetings aan; en gaandeweg neem die staat al meer en groter beheer oor totdat dit in volskaalse verdrukking en algemene armoede eindig. Die linkse planne om hemel op aarde te skep, eindig in hel op aarde.

Die belangriker vraag is wat daaraan gedoen kan word, en hoe Westerlinge en Afrikaners wat nie saam oor die afgrond wil val nie uit hierdie krisis kan kom.

Die 1994-bedeling is verby, die toekoms wag…

(Hierdie stuk is aanvanklik geplaas as meningstuk op Maroela Media, en het op 8 Februarie 2023 verskyn. Bron: https://maroelamedia.co.za/debat/meningsvormers/die-1994-bedeling-is-verby-die-toekoms-wag/ )

Baie mense is met reg moedeloos oor die staatsverval wat al groter afmetings aanneem. Daarom is daar soms ʼn heimwee na tye in die verlede toe dinge “nog gewerk” het. Dit sal egter nie help om na die “ou” óf die “nuwe” Suid-Afrika te verlang nie, die verlede is verby.

Ons sal moet werk aan ʼn “ander” Suid-Afrika waarin daar vir ons ook ʼn toekoms is. As ons kyk na die aannames van 1994 waarop die huidige bedeling gebou is, is dit duidelik dat daardie tyd verby is en nie gaan terugkom nie. Die huidige krisis is té diep om net weer “reggestem” of reggepraat te word. Ons is in ʼn nuwe tydvak en moet met die werklikhede in plaas van ons wense werk.

Die twaalf uitgediende aannames van 1994 was soos volg:

  1. Die ANC sal Suid-Afrika kan regeer

Die ANC kan nie ʼn moderne land regeer nie. Soos RW Johnson gesê het: “Suid-Afrika kan kies om óf ʼn ANC-regering te hê óf ʼn moderne, nywerheidsekonomie, maar nie albei nie.”

Die gehalte van staatsbestuur word weerspieël in die beroerde ekonomiese syfers, rekord werkloosheid en die staatsverval.

  1. Die 1994-ooreenkoms sal gerespekteer word

Die ANC het die wese van die 1994-ooreenkoms verbreek, naamlik die verruiling van meerderheidsregering vir minderheidsbeskerming. Hulle maak wette om onreg te “wettig”.

Daarby het die Grondwetlike gelykheid in die praktyk tot ʼn drakoniese rassebedeling gelei waar swart oorheersing met ʼn radikale 80:9:9:2-transformasie-rasseformule afgedwing word. Saam met ander rassewette, soos swart ekonomiese bemagtiging (SEB), het dit ʼn groot rol gespeel in die probleme by Eskom wat die hele land in ʼn krisis gedompel het.

  1. Kulturele vryheid en minderheidsregte is veilig

Die versekerings dat gemeenskappe se grondliggende regte beskerm sou word, is verbreek. Die beste voorbeeld is die onderwys- en taalbepalings in die Grondwet wat deur die wetgewende, uitvoerende en regterlike gesag onder die dekmantel van radikale “transformasie” verbreek is. Daarby het die grondwetlike instellings wat daaroor moes wag hou, soos die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT) en die artikel 185-kommissie, hulself intussen net as nog ANC-instellings bewys.

  1. Die ANC is nie meer sosialiste nie

Die ANC het by die grondwetlike onderhandelinge toegewings gemaak om die mag te kry, en het stelselmatig daardie mag gebruik om hul oorspronklike doelstellings te verwerklik. Die ANC volg die ou marxistiese resep dat “demokrasie die kortste pad na sosialisme” is.

Daarvolgens word die politieke mag gebruik om die ekonomiese mag te bekom deur sosialistiese beleidsrigtings soos onteiening sonder vergoeding, gratis hoër onderwys, die beplanning van ʼn onbekostigbare en onwerkbare Nasionale Gesondheidsversekering (NGV), ʼn omvattende welsynstelsel en skerp herverdelende belasting.

  1. Kiesers stem volgens beleid in plaas van identiteit

Die val van kommunisme is beskou as die aanbreek van ʼn era waar mense nie volgens identiteit sou stem nie, maar volgens beleid. Die verwagting en belofte was dat daar regeringsveranderinge sou kom as die regerende party swak sou regeer, omdat dit as logies gesien is dat kiesers dan die opposisie sou instem.

Dit het nie gebeur nie, en die ANC is sedert 1994 al twaalf keer ingestem, waarvan ses keer in nasionale en ses keer in munisipale verkiesings was. Suid-Afrika is net nóg ʼn demografiese demokrasie waar verkiesings in die praktyk grootliks ʼn rassesensus is, ongeag die ANC se powere regeringsrekord.

  1. Die vryemarkstelsel en privaat sektor as ekonomiese enjin

Die aanname dat kommunisme geval en die ANC sosialisme afgesweer het, en die markekonomie nou veilig is, is in die praktyk in gevaar. Die ANC is wel nie meer outydse kommuniste nie, maar sien die staat se rol steeds eerder as Broodwinner in plaas van Huishoudster.

Hoewel die privaat sektor nie genasionaliseer is nie, word die meeste sektore so sterk gereguleer dat dit nie meer nodig is nie. Staatsinmenging in die ekonomie en die regering se vasklou aan mislukte staatsondernemings soos Eskom en die SAL, het saam met grootskaalse korrupsie en wanbestuur die ekonomie tot op die rand van die afgrond gedryf.

  1. Suid-Afrika is ʼn reënboognasie sonder rassewette

Die ANC het sy (rasse-) Afrika-nasionalisme gekamoefleer as “nierassig” en ʼn reënboognasie totdat die magsewewig in die land genoeg verander het vir die herinstelling van ʼn omvattende rassebedeling. Waar gevalle van wit rassisme met staatsmag verpletter word, geld dubbele standaarde met betrekking tot gevalle van swart rassisme. Boonop misbruik die ANC sy staatsmag om sy eie rasse onreg te “wettig” en af te dwing.

  1. Wonderwerkskikking

Die wonderwerkskikking is ná dertig jaar maar net nog ʼn gewone meerderheidsregering wat dreig om in meerderheidsoorheersing te ontaard.

  1. Wigte en teenwigte

Daar het min tereggekom van die beloofde “wigte en teenwigte”. Die ANC het die grondwetlike instellings wat oor die demokrasie moes waak feitlik almal gekoöpteer deur kaders daar te ontplooi wat hul beleid uitvoer.

Hoewel die howe al sterk teen korrupsie in regeringskringe opgetree het, deel die Konstitusionele Hof uitdruklik die regering se siening oor radikale transformasie.

  1. Kundige wit mense is onmisbaar

Die wit gesagsorde het wyd aanvaar dat hul kundigheid in die staatsdiens, openbare ondernemings en groot maatskappye hulle onmisbaar maak – dit was hulle inderdaad. Desondanks is derduisende van hulle uitgetransformeer en het selfs hoogs opgeleide wit mense ʼn bitter klein kans op ʼn senior pos.

Die verval van die meeste kleiner dorpe buite die Wes-Kaap is tekenend van die feit dat die ANC eerder die munisipale dienste ten gronde sal laat gaan as om gekwalifiseerde wit mense aan te stel.

  1. Suid-Afrika sal nie dieselfde foute as ander Afrikalande maak nie

Kommer dat die ANC dieselfde foute as ander Afrikalande ná onafhanklikheid sal maak, is begroet met beskuldigende uitsprake dat sulke kommer suiwer rassisme is.

Dit word al duideliker dat die ANC niks van sy sosialistiese wortels vergeet het nie, en niks van die gevolge daarvan onthou nie.

  1. Apartheid is die oorsaak van al die probleme

Die ANC se meesterverhaal oor die verlede het die meesterverhaal van die land geword wat as grondslag vir beleidsbepaling vir die toekoms dien. Die kern hiervan is dat al die grootste probleme van die land deur apartheid veroorsaak is, en dat ʼn omvattende omgekeerde regstelling moet plaasvind om die gevolge daarvan reg te stel.

Hierdie meesterverhaal hou nie rekening met die lang lys redes vir die ontwikkelingsuitdagings in Afrika wat vir Suid-Afrika ook geld nie.

Dit help nie om krampagtig vas te klou aan die mooi bedoelings van 1994 nie. ʼn Bedeling word nie aan sy bedoelings gemeet nie, maar aan sy uitkomste.

Die Nuwe Suid-Afrika is verby, en die Ou Suid-Afrika gaan nie terugkom nie. Ons enigste keuse is om te help bou aan ʼn “ander’ Suidelike Afrika. Ons verlang nie na die verlede onder die NP nie, maar ons sien nie uit na die toekoms onder die ANC nie. Ons gaan die toekoms hê wat ons self skep.

Hardwerkende belastingbetalers subsidieer diefstal en wanbestuur

Dit is algemene kennis dat die hardwerkende belastingbetaler moet instaan vir die diefstal en wanbestuur van sowat R1,5 triljoen rand van die Zuma era. Maar dis nie al nie. Die Ramaphosa regering gaan volstoom voort om onbeskryflike groot uitgawes vir die belastingbetalers te beplan, soos die onbekostigbare en onwerkbare Nasionale Gesondheidsversekeringstelsel. Die ergste is dat ANC-woordvoerders begin uitsprake maak soos dat werkers se Pensioenfondse geld vir die sukkelende staatsondernemings moet “leen”, sodat die regering nie by die Internasionale Monetêre fonds (IMF) hoef te gaan aanklop nie. Die IMF stel glo te streng eise!

Boonop gaan daar nie ‘n dag verby wat hardwerkende belastingbetalers nie in die media lees van ontsaglike bedrae wat weg of wanbestuur is nie. Dit wys dat korrupsie nie net epidemiese afmetings in dele van die staatsdiens aangeneem het nie, maar skynbaar ook ‘n aansteeklike siekte word. In ‘n normale demokratiese land sou die regering al lankal tot ‘n val gekom het, maar in Suid-Afrika is die ANC onlangs weer tot regering verkies!

Molefe en Hlaudi

 Die ergste is dat die land se leiers blykbaar nie dink dis so erg nie. Hulle praat baie daaroor, maar ons hoor nooit dat iemand aangekla word nie. Opposisiepartye veroordeel, koerante kritiseer, en spesiale eenhede ondersoek, maar daar bo gebeur niks. As Solidariteit nie vir mense soos Brian Molefe aangevat het oor sy plundering van Eskom se pensioenfonds of vir Hlaudi Motseneng oor sy wanbestuur by die SABC nie, het hulle met “moord” weggekom.

Dit lyk of almal daar so besig met hulle oorlewing in die party is, dat byna niemand by die land se oorlewing uitkom nie! Mense raak al afgestomp en so gewoond raak aan regeringskorrupsie, dat hulle dit in die praktyk maar begin aanvaar.

Die Gauteng Tolpad was die eerste keer dat gewone belastingbetalers die streep getrek en gesê het “genoeg is genoeg”. Niemand gee om as daar billike belastings gehef word nie. Maar dan moet die geld eerlik bestuur en doeltreffend aangewend word. Dieselfde mense wat nie die land kan bestuur nie, dink blykbaar dat belastingbetalers onderdanige koeie is met ‘n onbeperkte voorraad melk wat nooit sal opraak nie. Die openbare woede wat die Tolpad kwessie ontlok, was eintlik ‘n opstand teen swak staatsbestuur. Mense raak net keelvol om links en regs belasting te betaal, niks daarvoor te kry nie, te sien hoe hulle swaar verdiende belasting geld geplunder word, net om dan wéér ‘n keer vir al die privaat dienste te moet betaal.

Wêreldrekords

 Belastingbetalers betaal meer aan die regering as wat hulle aan hulself betaal. Doen gerus maar self die somme. Tel al die soorte direkte en indirekte belasting op, plus daardie dienste wat jy self weer moet aankoop omdat jy nie die staat s’n kan gebruik nie, en kyk wat jy daarna oor het. Ons netto belasting is die hoogste in die wêreld. Die dienste wat ons daarvoor kry is die swakste in die wêreld. Die omvang van wanbesteding en diefstal van ons geld is nou al ook ‘n wêreldrekord. Die regering se lamsakkige pogings om korrupsie uit te roei is sekerlik die flouste in die wêreld. Daarom is dit wonderlik dat belastingbetalers nou begin aandring op ‘n goeie opbrengs vir hulle geld. Hierdie gemors moet hand en tand beveg word.

Vanweë die aard van die belastingstelsel dra die gewone werkende die grootste deel van hierdie netto belastinglas en kan hulle met reg voel dat hulle grootliks die regering én die armes moet dra. Daarom gaan die redenasie dat Suid-Afrika die ongelykste land in die wêreld is nie op nie. Die syfers vergelyk nie appels met appels nie. Dit onderskei nie tussen die ongelyke vaardigheidsvlakke in verskillende lande nie, en neem nie die netto belastinglas in ag nie. Die armes se totale inkomste word byvoorbeeld vergelyk met die inkomste van die ryker groep voor belasting en voor hulle uitgawes aan die bykomende “dubbele belasting”.

Gesin eerste

Dit is ‘n wêreldwye verskynsel dat die gemiddelde werk mense moontlik nie ryk maak nie, maar dat die werkende middelklas terselfdertyd ook nie arm sal wees nie. Dít voorveronderstel egter ‘n belastingstelsel waar die werkendes eers vir  die basiese behoeftes van sy eie gesin kan sorg voordat hy belasting aan die staat vir die behoeftes van ander moet betaal. Verder behoort die belastingbetaler self ook waarde vir sy geld te kry in die vorm van gratis onderwys en ander dienste, en behoort hy of sy ook ‘n doeltreffende inspraak in die besteding van sy of haar belastinggeld te hê.

Daarom is dit tyd dat die regering die werkende belasting betaler nie net soos onderdane wat belasting moet betaal behandel nie, maar soos volwaardige burgers wie se belange net soos die van ander groepe beskerm moet word.

Hierdie probleem kom nie net in Suid-Afrika voor nie, maar is selfs in die VSA teenwoordig. Daarom is dit insiggewend om te sien wat twee gesiene swart ekonome van Amerika hieroor te sê het.

Die eerste is ‘n paar aangrypende stellings wat die Afro-Amerikaanse denker, Prof Thomas Sowell hieroor gemaak het, wat ten spyte van die verskille tussen die VSA en Suid-Afrika, belangrike lesse vir ons land inhou:

Dr Thomas Sowell

  • “There are few talents more richly rewarded with both wealth and power, in countries around the world, than the ability to convince poor people that their problems are caused by other people who are economically more successful.”
  • “When someone tries to lay a guilt trip on you for being successful, remember that your guilt is some politician’s license to take what you worked for and give it to someone else who is more likely to vote for the politician who plays Santa Claus with your money.”
  • “No government of the left has done as much for the poor as capitalism has. Even when it comes to the redistribution of income, the left talks the talk but the free market walks the walk.”
  • “What do the poor most need? They need to stop being poor. And how can that be done, on a mass scale, except by an economy that creates vastly more wealth? Yet the political left has long had a remarkable lack of interest in how wealth is created. As far as they are concerned, wealth exists somehowand the only interesting question is how to redistribute it.”
  • “The left’s philosophy of failure is one in which ills as poverty, irresponsible sex, and crime derive primarily from ‘society,’ rather than from individual choices and behavior. To believe in personal responsibility would be to destroy the whole special role of the left, whose vision casts them in the role of rescuers of people treated unfairly by ‘society’.”
  • “There’s no explanation needed for poverty. The species began in poverty. So what you really need to know is what are the things that enable some countries, and some groups within countries, to be prosperous.” 

Die tweede denker is Colemen Huges, wat al wyd oor die welvaartsgaping tussen rasse geskryf het. Hy maak onder meer die volgende twee stellings:

Coleman Huges

  • “The wealth of modern nations was not plundered; it was, and continues to be created.”
  • “I do not know of a single instance in which an underachieving group rose to economic prominence by asking the government for cash transfers, preferential policies in education and employment, or apologies for past injustices.”

Daarom voer Solidariteit ‘n veldtog teen die diefstal en wanbestuur van hardwerkende lede se belastinggeld, om te verseker dat werkers nie hierdie skandalige plundering en vermorsing hoef te subsidieer nie.

(Bron: Solidariteit Tydskrif September 2019)

Eskom en Suid-Afrika se afbreek en heropbou

Dit voel of my hart wil breek oor Eskom. Daar is ’n paar redes hiervoor. Op ’n persoonlike vlak was Eskom my eerste werk ná my studies. My loopbaan het op die Matimba-kragstasie by Ellisras begin. My aardse besittings het alles in my beskeie studentekarretjie se bagasiebak ingepas toe ek daar aankom. Eskom het my lewe verander. Ek het nou ’n regte werk en ’n inkomste gehad, en die beste van alles – ’n Eskom-huis! Dit was destyds ’n topmaatskappy en ek het baie by my kollegas geleer.

 

Afskeid

Namate die land en Eskom die groot historiese stroomversnellings van die vroeë negentigs ingegaan het, het ek en my vrou met ’n swaar hart van Eskom afskeid geneem. Ek was maar taamlik skepties oor al die mooi beloftes en bedoelings van die politici. My indruk was dat die ANC ’n wolf in skaapsklere was, en eers hul ware kleure sou wys nadat hulle stewig in die regerende saal is. Daarom het ek my gewig by die vakbond ingegooi, met nie veel meer was as ’n droom om dit uit te bou tot ’n nuwe helpmekaarbeweging nie.

Die tweede rede hoekom die Eskom-krisis my só swaar tref, is omdat dit die land en sy mense so hard tref. Honderdduisende goeie mense het hulle werk, inkomste en hoop verloor as gevolg van die ekonomiese krisis wat deur Eskom veroorsaak is. Die Zimbabwe-spook het begin loop, duisende mense uit die land laat stroom en gesinne en families verskeur.

Maar daar is ’n derde rede hoekom die Eskom-krisis my so hard tref. Dit is die besef dat Eskom net die sigbaarste teken van die verval in die res van die land is. Dit is net die punt van die ysberg wat bo die water uitsteek. Onder die waterlyn lê die res van dieselfde ANC-toegediende krisisse; minder sigbaar, maar net so ernstig. Dit is die talle vervalle dorpe, staatshospitale, skole, polisiekantore, staatsdepartemente en die verterende korrupsie wat aan die bloeiende liggaam van die land vreet.

 

Opbou

Die oordosis slegte nuus maak baie mense só moedeloos dat hulle hoop verloor en eerder landuit wil gaan. Gelukkig is alles nie slegte nuus nie. Vir elke stukkie staat wat verval, is daar iets wat opgebou word:

  • Vir elke hospitaal wat verval het, is daar ’n wêreldklas- privaat hospitaal opgebou
  • Vir elke polisiekantoor wat verval, is daar ’n werkende sekuriteitsmaatskappy
  • Vir elke staatsmaatskappy soos die Poskantoor wat verval het, het daar ’n privaat maatskappy ontstaan wat daardie diens lewer en mense werk gee
  • Vir elke staatsbiblioteek wat verval, het nuwe tegnologie dit vir mense moontlik gemaak om toegang tot digitale inligting te kry
  • Vir elke dorp wat verval, ontstaan daar ’n werkende “privaat dorp” in al die stede
  • Vir elke skool wat verval, word ’n presterende privaat skool opgerig.

Boonop maak duisende sakeondernemings en gewone mense hulself meer staatsbestand deur hulle eie kragopwekkers of sonkragstelsels aan te skaf.

 

Toekoms

Die Solidariteit Beweging is deel van hierdie opbouproses. Dis hoekom ons ’n opboubeweging is, wat bou aan ons gemeenskap se werk, veiligheid, onderwys, opleiding, media en dorpe. Die groot uitdaging waaraan ons ook werk, is om hierdie dienste bekostigbaar te hou, en om met ’n valkoog te kyk dat die regering nie ons swaarverdiende belastinggeld verder uitmors nie.

 

Net soos Eskom die simbool van verval is, is Sol-Tech en ons talle ander projekte vir my die simbole van die opbouproses waarmee ons besig is.

Daarom moet ons nie toelaat dat die Eskoms van die wêreld ons moedeloos maak nie. Kom ons bou ons toekoms. ’n Toekoms is nie iets waarheen jy gaan nie, maar iets waaraan jy bou. Dis nie soos ’n pad waarop jy net kan ry nie, maar waaraan jy bou.

Kom laat ons dan uitstyg bo die negatiwiteit en pessimisme van die dag, en met ’n positiewe gesindheid help met die heropbou.

Soos die beroemde ekonomiese historikus van Harvard prof. David Landes gesê het: “In this world, the optimists have it, not because they are always right, but because they are positive. Even when wrong, they are positive, and that is the way of achievement, correction, improvement, and success. Educated, eyes-open optimism pays; pessimism can only offer the empty consolation of being right.”

Dis tog ons plig en ons voorreg om vir ons kinders ’n beter toekoms te los as wat ons gekry het.

(Bron:  Solidariteit Tydskrif Maart 2019)

Solidariteit Beweging se bouplan vir volgende 110 jaar

(Hierdie toespraak is in April 2012 gelewer)

Die Solidariteit Beweging is vanjaar 110 jaar oud. Dit maak van die Beweging die oudste politieke beweging in Suid-Afrika. Die Beweging is as vakbond gebore in die hartseer na die Tweede Vryheidsoorlog, het sy eie strydgeskiedenis van onder andere die 1922-staking, was deel van die opstaan van die Afrikaner in die 1930’s. Dit het die apartheidsera beleef en daarna die Suid-Afrika na 1994 betree. Die Beweging se geskiedenis loop dus reeds die afgelope 110 jaar soos ʼn goue draad deur die geskiedenis van Suid-Afrika. Die Beweging kon daarin slaag om op kritieke tye kritieke besluite te neem wat hom die kanniedood van die Suid-Afrikaanse burgerlike samelewing gemaak het. Vandag is die Solidariteit Beweging die sterkste wat hy nog ooit was.

Vir die Solidariteit Beweging is dit nou belangrik om die boublokke in te messel vir die volgende 110 jaar.

Die politiek in Suid-Afrika is onstabiel en mense voel onseker oor die toekoms. Die Solidariteit Beweging gaan hom egter nie onttrek nie, maar aktief begin bou aan ʼn nuwe toekoms. Die doel van die plan is om aan mense hoop te gee.

Dit is ʼn praktiese plan met implementeringsdatums en die vermoë om dit uit te voer. Die driejaarbegroting van die plan is net oor die R1 miljard.

Die plan sê wat hy gaan doen en nie wat hy droom nie.

In die Solidariteit Beweging-bouplan toon ons aan waar ons self verantwoordelikheid neem en waar ons hande vat met ander organisasies wat reeds goeie werk doen. Die Solidariteit Beweging aanvaar daar is talle organisasies wat wonderlike werk doen waarvan ons nie eers bewus is nie. Die bouplan wil ook nie voorgee dat die volle antwoord binne die Solidariteit Beweging lê nie. Die Solidariteit Beweging glo juis nie aan blote eenheid as die antwoord nie, maar aan veelheid. Die Solidariteit Beweging voorsien ʼn netwerk van burgerlike organisasies wat met mekaar praat en mekaar help.

Emigrasie uit onsekerheid is een oplossing vir individue – as ʼn reël geld dit vir elite-individue wat die finansiële en akademiese vermoë het om te emigreer. Die meerderheid mense kan nie of wil nie emigreer nie. Vir hulle moet ʼn antwoord hier gekry word. Die antwoord lê nie in kla nie, maar in doen. Die Solidariteit Beweging gaan dus bly en bou, maar nie stilbly nie.

Die uitvoering van die Solidariteit Beweging se bouplan is die verantwoordelikheid van die instellings van die Solidariteit Beweging.

Die Solidariteit Beweging bestaan uit ʼn heg verweefde netwerk van instellings wat mekaar aanvul en uitbou.

Solidariteit-vakbond

Die vakbond Solidariteit is die paterfamilias van die Solidariteit Beweging en die Solidariteit Beweging is uit die vakbond gebore. Solidariteit is op die Christelike tradisie van die vakbondwese geskoei en het dus ʼn unieke benadering tot die vakbondwese wat verskil van dié van Cosatu. Die hooftaak van die vakbond is om werksekuriteit te verseker, om diensvoorwaardes te verbeter en om onreg in die werkplek uit te wis.

AfriForum – burgerregte

AfriForum is ʼn burgerregteorganisasie. Sy hooftaak is om die burgerregte van sy lede en hulle gemeenskappe te beskerm. Dit word gedoen deur regte op te eis en regte te beskerm. Dit word nie net in die hof gedoen nie, maar ook deur strukture in gemeenskappe te vestig.

Solidariteit Helpende Hand – diens

Solidariteit Helpende Hand lewer diens aan die gemeenskap, maar met die spesifieke doel om mense uit armoede te lei en om te voorkom dat mense in armoede verval. Helpende Hand glo nie aan opheffing deur toelaes nie, maar aan opheffing deur opleiding. Die fokus van Solidariteit Helpende Hand is dus beurse en beroepsleiding. Helpende Hand bedryf talle wonderlike projekte om die armoedesiklus te verbreek en het ook strukture landwyd wat diens aan die gemeenskap lewer.

Die Kom Huistoe-veldtog

Die Kom Huistoe-veldtog is ʼn inisiatief van AfriForum. Die veldtog se taak is om mense wat na Suid-Afrika wil terugkeer, te ondersteun.

Sol-Tech – tegniese opleiding

Sol-Tech lei studente in ambagte op. Die instelling is geregistreer as ʼn instelling vir voortgesette onderwys en opleiding en is by die tersaaklike setas (sektorale onderwys-en-opleidingsowerhede) geregistreer. Sol-Tech fokus daarop om studente in skaars en kritieke vaardighede op te lei.

Akademia – telematiese hoër onderwys

Akademia bied hoëronderwyskursusse aan en het in 2012 met die eerste diplomas en sertifikate begin. Leersentrums is dwarsoor Suid-Afrika gevestig en kursusse word telematies aangebied.

Solidariteit Finansiële Dienste

Die maatskappy bied ʼn reeks finansiële produkte. Die hoofproduk van die maatskappy is korttermynversekering vir lede van Solidariteit. Die winste van die maatskappy word gebruik om ontwikkelingsprojekte van die Solidariteit Beweging te finansier.

Solidariteit Groeifonds – bemagtiging

Elke lid van die vakbond Solidariteit dra elke maand R11 tot die Solidariteit Groeifonds by. Ander individue dra ook tot die fonds by. Die fonds finansier ontwikkelingsprojekte van die Solidariteit Beweging. Die vestiging van Sol-Tech is tot ʼn groot mate moontlik gemaak deur die Solidariteit Groeifonds. Die groeifonds gaan ʼn sterk bydrae lewer tot die bou van Dié Kampus.

Solidariteit Beleggingsmaatskappy

Solidariteit Beleggingsmaatskappy besit al die aandele in die verskillende Solidariteit-maatskappye. Die beleggingsfilosofie van die maatskappy is sterk gefokus op interne beleggings. Alle opbrengste word gebruik om verdere instellings te vestig.

Solidariteit Eiendomsmaatskappy

Solidariteit Eiendomsmaatskappy besit en bestuur die verskillende eiendomme van die Solidariteit Beweging. Een van die belangrikste projekte van die maatskappy is die ontwikkeling van Dié Kampus.

Maroela Media – internetgedrewe nuwe media

Maroela Media is ʼn Afrikaanse mediamaatskappy wat met webgebaseerde media werk. Dit sluit ʼn webwerf, internetradio, foto’s, video’s en die sosiale media in. Maroela Media gaan die grootste Afrikaanse kuierplek op die web word.

Kraal Uitgewers

Kraal-uitgewery gee historiese en aktuele Afrikanerboeke uit. Die uitgewery gee ook boeke uit wat waarskynlik nie deur ander uitgewerye uitgegee sal word nie. Die doel van die uitgewery is om die Afrikanergeskiedenis gebalanseerd aan te bied en om krities dog positief om te gaan met aktuele sake wat Afrikaners raak.

Solidariteit Radio – internetradio

Solidariteit Radio is ʼn internetgedrewe radiostasie wat ʼn alternatiewe stem- en kommunikasiekanaal is.

FAK

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings, in die omgang bekend as die FAK, is die oudste Afrikaanse sambreelorganisasie en is reeds in 1929 gestig. Die FAK bevorder die Afrikaner se kultuur en geskiedenis en die ontwikkeling van Afrikaans. Dit het kultuurforums waarby elke Afrikaanse organisasie kan aansluit. Die FAK bevorder Afrikaanse musiek deur die FAK-sangbundel, wat vanjaar 75 jaar oud is.

NP van Wyk Louw-navorsingsentrum

Die NP van Wyk Louw-navorsingsentrum is deel van die FAK en is ‘n instelling wat hom beywer vir die ontwikkeling en verdieping van die Afrikaner se intellektuele ideë- en- waarderaamwerk. Die sentrum help om toekomsoplossings vir Afrikaners te bedink deur navorsing te doen oor verskeie aktuele kwessies wat minderheidsgroepe raak. Die Navorsingsentrum is geskoei op soortgelyke Amerikaanse en Europese navorsingsinstellings, en ontwikkel oplossings vir die Afrikaner- en ander kultuurgemeenskappe volgens die internasionale beginsel van kulturele vryheid.

Solidariteit Beweging – internasionale skakelkantoor

Die internasionale skakelkantoor se taak is om internasionaal steun en fondse vir ons saak te werf. Die kantoor skakel ook met Afrikaners in die buiteland en is saam met die Stichting voor Afrikaans by die FAK ingeskakel. Die politieke, maatskaplike en ekonomiese omgewing waarin Afrikaans in Suid-Afrika moet oorleef, het sedert die politieke verskuiwing van 1994 drasties verander. Minderheidstale soos Afrikaans is op talle terreine onder druk met die gevolg dat alle Afrikaanssprekendes innoverend moet dink en hande vat vir die bevordering van Afrikaans. Die Stichting voor Afrikaans bevorder spesifiek samewerking tussen Nederlandse, Vlaamse en Afrikaanse organisasies en koördineer gesamentlike projekte ter bevordering van Afrikaans.

Solidariteit Navorsingsinstituut

Die Solidariteit Navorsingsinstituut gee diepte aan die Solidariteit Beweging. Die Instituut doen ekonomiese, sosiale, politieke en regsnavorsing.

Virseker Trust

Die Virseker Trust is nie deel van die Solidariteit Beweging nie, maar Solidariteit is ʼn vennoot van die trust. ʼn Deel van die premie-inkomste van die Afrikaanse korttermynversekeringsproduk Virseker word aan die trust geskenk. Die trust se doel is om jongmense in Afrikaans op te lei. Die eerste twee projekte van die trust is beurse en om te help bou aan Dié Kampus.

Hierdie 18 instellings sal verantwoordelik wees vir die implementering van die Solidariteit Beweging se bouplan.

Die Solidariteit Beweging se bouplan staan op 15 bene.

  1. Arbeid en ekonomie

Die Solidariteit Beweging funksioneer hoofsaaklik binne ʼn ekonomiese omgewing. Die ekonomiese bouplan het ʼn aantal subaspekte.

Solidariteit-vakbond: Mense bring die grootste deel van hul dag by die werk deur. Werk bepaal mense se identiteit en finansiële vermoë en dra by tot die algemene welstand en gesinslewe van ʼn persoon. Kollektiewe bedinging, beskerming in die werkplek en verbetering van diensvoorwaardes is die kernfunksie van Solidariteit en sal versterk word. Die vakbond het ʼn sterk span organiseerders, verteenwoordigers, onderhandelaars en litigante in die veld. Daar sal deurlopend gekyk word hoe hulle kapasiteit versterk kan word. Solidariteit is die waghond in die werkplek en moet help om omstandighede te skep wat dit moontlik vir mense maak om gelukkig te kan werk. Geluk in die werkplek is ʼn voorwaarde om gelukkig in Suid-Afrika te bly. ʼn Bouplan sonder ʼn werkplan is ʼn swak plan. Die veranderende ekonomie plaas werk, soos ons dit ken, onder groot druk. Solidariteit-vakbond wil as beskermer vir werknemers in die inligtingsekonomie optree. Een van die belangrikste instrumente is opleiding, wat meer volledig in ʼn ander been van die bouplan bespreek word. Rassediskriminasie teen minderhede in die werkplek bly steeds ʼn fokuspunt van die vakbond. Veiligheid en gesondheid raak ook al hoe meer onder druk weens maatskappye se ingesteldheid op die maksimum korttermynwins. Solidariteit sal dus sy visie uitbrei om ook veiligheid en gesondheid in die werkplek te verbeter..

Beskerming van minderhede in die werkplek: Solidariteit-vakbond werk saam met ander, oorwegend bruin, vakbonde om beskerming vir minderheidsvakbonde te verseker. ʼn Nuwe alliansie van vakbonde word beoog wat pluralisme in die werkplek sal bevorder. ʼn Hofsaak word tans voorberei wat in lyn met internasionale tendense die reg van minderhede in die werkplek sal bevorder. Solidariteit sal saam met ander minderheidsvakbonde hieraan werk.

Deelname aan die debat: Die ekonomiese debat vind hoofsaaklik binne die drieparty-alliansie plaas, wat ʼn ongesonde toedrag van sake is. Die Solidariteit Beweging gaan meer aktief tot die debat toetree en gaan sy eie plan met voorwaardes vir groei en werkskepping bekend stel. Daar gaan ook baie meer aktief deelgeneem word aan die debat oor nasionalisering en ander ekonomiese kwessies.

Afrikaans weer in hoofstroom: Die Solidariteit Beweging gaan meer aktief daaraan werk om Afrikaans terug te bring in die hoofstroom van die ekonomie. Die eerste stap was die loodsing van die Afrikaanse korttermynversekeringsproduk Virseker. Tot dusver was maatskappye se benadering dat hulle ter wille van die mark in Engels moet adverteer en diens lewer. Met Virseker is Afrikaans weer terug in die hoofstroom van die ekonomie. Virseker adverteer ter wille van die mark in Afrikaans en lewer sy dienste in Afrikaans. Sowat 31% van die koopkrag in Suid-Afrika is Afrikaans. Dit is die taal met die sterkste koopkrag. Afrikaans kan dus sy spiere in die ekonomie bult. Die Solidariteit Beweging gaan begin onderhandel om Afrikaanse aanbiedings van ander produkte, byvoorbeeld mediese en bankdienste, op die mark te kry. Afrikaans kan baie meer selfvertroue in die ekonomie kry.

  1. Onderwys

Onderwys is die kern van die bouplan. Die grootste deel van die befondsingskoek van die plan word vir onderwys geoormerk. Die uitgangspunt hiervan is dat ons mense in staat moet stel om vir hulleself ʼn toekoms te skep. Die beste manier om bo regstellende aksie uit te styg, is goeie opleiding. Die onderwysbeen van die bouplan het ʼn aantal kritieke subaspekte.

Skole: Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) doen wonderlike werk om professionele ondersteuning aan Afrikaanse onderwysers te gee. Daar word ondersoeke beplan om die beste Afrikaanse private onderwysmodel te vind. Oor die medium en langer termyn gaan private onderwys ʼn groter rol begin speel. Beheerliggame het dikwels baie meer magte as wat ouers besef. Fedsas doen kritieke werk om beheerliggame te ondersteun en te bemagtig en verdien ondersteuning. Die SAOU is ook op die voorpunt met navorsing oor onderwys in Suid-Afrika.

Opleiding van onderwysers: Onderwysersopleiding is onder druk. Die beste vermenigvuldiger van kennis is goeie onderwysers. Indien Afrikaanse kinders bemagtig moet word, moet goeie onderwysers opgelei word. Afrikaanse en Christelike onderwysopleiding is stadig maar seker besig om weg te kwyn. Die nuwe onderwysersopleidingsinstelling, Akademie Reformatoriese Opleiding en Studies (Aros), speel ʼn kritieke rol en verdien ondersteuning. Solidariteit Helpende Hand gaan ook deur ʼn skolesentrum ondersteuning bied vir die voortgesette opleiding van onderwysers. Die beste manier om kinders uit armoede te kry en om te keer dat hulle nie daarin verval nie, is deur goeie onderwys – en goeie onderwysers is ʼn voorvereiste vir goeie onderwys.

Wiskunde: Die jongste matriekuitslae het weer gewys hoe belangrik wiskunde is. Iemand wat matriek met wiskunde slaag, het onmiddellik ʼn mededingende voordeel. Wiskunde maak ook net die beroepskeuses van enige leerder groter. Die deure is byvoorbeeld effektief toe vir iemand wat meer tegnies aangelê is en graag ʼn ambag wil volg, maar wat nie wiskunde het nie.

Wiskunde kan die enkele grootste veranderlike wees om ʼn jongmens toegang tot ʼn goeie beroep te gee.

Solidariteit Helpende Hand gaan deur sy skolesentrum help om onderwysers in wiskunde en wetenskap op te lei. Dit sal in samewerking met die Vereniging van Afrikaanse Wiskunde-onderwysers (VAW) aangepak word. Die Vereniging bevorder uitnemendheid onder Afrikaanse wiskundeonderwysers. Die Virseker Trust gaan beurse hiervoor beskikbaar stel.

Beurse: Jongmense moet toegang tot onderwys kry deur beurse. Al hoe minder beurse word vir Afrikaanse kinders gegee. Solidariteit Helpende Hand het ʼn Afrikaanse beursplatform ontwikkel en administreer reeds meer as 60 Afrikaanse beurse. Daar word beplan om die beursplatform baie meer uit te brei. Elke lid van Solidariteit-vakbond gaan R5 per maand vir die vestiging van ʼn beursplatform gee. Dit gaan meer as R7 miljoen per jaar addisioneel tot die huidige beursfonds beteken. Solidariteit-vakbond is ook ʼn vennoot van die Rapport Onderwysfonds en die Virseker Trust.

Beroepsleiding: Jongmense moet nie net toegang kry tot beurse nie, maar moet die regte beroepskeuses maak. Solidariteit Helpende Hand ontwikkel ʼn omvattende beroepsleidingsprogram. Die program help om jongmense se belangstellings, aanleg, roepings en tekorte in die arbeidsmark te belyn. Wanneer hierdie elemente reg belyn is, is so ʼn jongmens se kans om werk te kry, feitlik 100%. ʼn Beroepsleidingsgids en -webwerf ondersteun studente met hulle beroepskeuses.

Opleidingsinstellings: Die bouplan maak voorsiening vir die vestiging van nuwe opleidingsinstellings. Sol-Tech se hoofverantwoordelikheid is om ambagslui op te lei. Dit is reeds een van die grootste instellings in Suid-Afrika wat ambagslui oplei. Sowat R30 miljoen is al in Sol-Tech belê. Sol-Tech se kapasiteit gaan meer as verdubbel word in die volgende drie jaar.

Die Solidariteit Beweging het ʼn nuwe telematiese hoëronderwysinstelling, Akademia, gevestig. Die instelling bied vanaf 2012 sertifikate en diplomas aan. Met behulp van telematiese tegnologie kan leersentrums dwarsoor Suid-Afrika opgerig word. Meer as R4 miljoen is al in Akademia belê. Daar word voorsien dat daar binne vyf jaar oral in Suid-Afrika leersentrums gaan wees en dat tot 10 000 studente só bedien kan word.

Dié Kampus: Die Solidariteit Beweging se opleidingsinisiatiewe het ʼn kampus nodig. Grond is reeds aangekoop vir hierdie projek van R150 miljoen. Dié Kampus gaan een van die belangrikste produksiemasjiene vir Afrikaanse opleiding wees en gaan onder andere die tuiste van Sol-Tech en Akademia wees. Solidariteit Eiendomme is verantwoordelikheid vir die ontwikkeling van Dié Kampus. Dié Kampus is ʼn inisiatief van die Solidariteit Beweging, maar dit behoort by uitstek aan die Afrikaanse gemeenskap. Mense oor ʼn breë spektrum van die samelewing gaan gevra word om te help bou aan dié groot projek.

Indien die opleidingsplanne suksesvol ontplooi word, gaan duisende jongmense in staat gestel word om vir hulself ʼn toekoms te skep.

  1. Juridies

Suid-Afrika is ʼn regstaat. Dit is krities om die regstaat in stand te hou. Die regsruimtes waarbinne ons mense leef, moet vergroot word met behulp van plaaslike en internasionale reg. Dit is AfriForum se taak om deurlopend ʼn waghond te wees vir burgerregte. Die Solidariteit-vakbond berei nou voor vir ʼn saak in die Konstitusionele Hof oor regstellende aksie en die hofstukke sal teen die einde van April op die regering beteken word. In hierdie hofsaak gaan die dilemma van bruin werknemers in die Wes-Kaap aandag kry. Slaag plaaslike regsmiddele nie vir Suid-Afrika se minderhede nie, is die internasionale kanale steeds beskikbaar. AfriForum het reeds daarin geslaag om verskeie regsake te wen en sal voortgaan om burgerregte in Suid-Afrika te verdedig.

  1. Geskiedenis, erfenisbewaring en kultuur

Die geskiedenis van die Afrikaner word tans gekriminaliseer. Die Afrikaner se geskiedenis moet in ere herstel word. Dit moet realisties aangebied word en nie gekriminaliseer of verromantiseer word nie. Kraal Uitgewery gaan hier ʼn groot rol speel. Talle boeke oor die Afrikaner se geskiedenis gaan gepubliseer word. In 2012 verskyn ʼn koffietafelboek oor die konsentrasiekampe asook ʼn herdruk van generaal Jannie Geldenhuys se boek oor die grensoorlog. Die FAK gaan ook ʼn projek aanpak om die Afrikaner se geskiedenis in ere te herstel en die Solidariteit Beweging steun dit ten volle. Die groot rolspelers in erfenisbewaring is die Erfenisstigting en die Voortrekkermonument. Hulle goeie werk sal deur die Solidariteit Beweging ondersteun word. Die Solidariteit Beweging werk nou saam met die FAK om Afrikaner-kultuuraksies te stimuleer en te koördineer. ʼn Nuwe FAK-sangbundel met nuwe Afrikaanse liedjies word eersdaags uitgegee. Daar word ook met dank kennis geneem van die ATKV se aktiwiteite om Afrikaans te bevorder.

  1. Buitelandse en diplomatieke druk

ʼn Internasionale skakelkantoor gaan gevestig word. Dit is ter versterking van Solidariteit se internasionale bande. Die Stichting voor Afrikaans gaan veral in Europa werk en die skakeling tussen Afrikaanse, Nederlandse en Vlaamse organisasies verbeter.

Die buitelandse skakelfunksie gaan veral Suid-Afrikaners in die buiteland vir ons saak mobiliseer. Die Solidariteit Beweging beskou nie Suid-Afrikaners in die buiteland as weghardlopers nie, maar as ambassadeurs. Die bouplan gaan dus moeite doen om die naelstring met diegene in die buiteland te versterk. ’n Spesiale internetplatform gaan gevestig word om Afrikaners wêreldwyd te mobiliseer. Skakeling en oortuigingswerk in die AU, EU en VN gaan ook ʼn belangrike deel van die internasionale skakelfunksie wees. Een so aksie is om vir elke Nederlandse parlementslid ʼn eksemplaar te skenk van Kraal Uitgewery se boek oor plaasmoorde, Treurgrond. Daar word ook gereelde skakeling met ambassades in Suid-Afrika beplan. Dit is ook belangrik om Afrikaners in die buiteland geleentheid te gee om terug te keer. Die Kom Huistoe-veldtog neem verantwoordelikheid hiervoor en het reeds sowat 4 000 Suid-Afrikaners gehelp om terug te keer.

  1. Polities

Die Solidariteit Beweging gaan nie aktief by die partypolitiek betrokke raak nie, maar die rol speel van ʼn burgerlike waghond. Die Solidariteit Beweging bevestig hiermee weer eens sy politieke onafhanklikheid. Gesprekke gaan gevoer word met plaaslike opposisiepartye en met diegene in die regerende alliansie wat die gevaar besef wat die Malema-idees inhou. Die Beweging se mediastrategie gaan ook fokus op drukuitoefening. Wanneer ʼn instansie hom onttrek aan politieke prosesse, versnel die momentum weg van sy idees. Die Solidariteit Beweging, saam met ander burgerlike organisasies, sal poog om die magsbalans in Suid-Afrika te verbeter. Die Solidariteit Beweging gaan nie toekyk hoe politieke heethoofde die land se beeld beskadig nie. AfriForum gaan voort om sy oorwinning in die hof teen Malema se haatspraak te verdedig. Die Solidariteit Beweging glo egter in beginsel dat sosiale dispute nie in die hof opgelos moet word nie en dat ʼn nuwe skikking nodig is om nasionale vertroue te herstel. Indien daar geen ander uitweg is nie, sal die Beweging nietemin nie huiwer om regte in die hof te verdedig nie.

  1. Veiligheid

Veiligheid bly een van die grootste kopsere van Suid-Afrikaners. ʼn Druk- en regstrategie sal deur AfriForum en die Solidariteit-vakbond gevolg word om misdaad hoog op die regering se agenda te hou. AfriForum het ʼn volledige plan vir gemeenskapsbeveiliging bekend gemaak. Plaaslike gemeenskappe sal ook ondersteun word om eie gemeenskapsbeveiligingstrategieë in werking te stel. Die handhawing van wet en orde maak deel uit van die Solidariteit Beweging se regstrategie. AfriForum sal polisievergrype en -nalatigheid steeds in die hof aanspreek.

  1. Munisipale dienslewering

AfriForum gaan meer aktief betrokke raak by munisipale dienslewering. Drukgroepe op plaaslike vlak gaan gevestig word. Daar word voorsien dat daar binne drie jaar AfriForum-takke in gemeenskappe dwarsoor Suid-Afrika gevestig sal wees. Die gemeenskap bly die belangrikste waghond vir munisipale dienslewering en moet beter georganiseer word.

  1. Selfdoen

Een van die kernpilare van die bouplan is selfdoen. Dit beteken dat gemeenskappe meer selfverantwoordelikheid moet aanvaar. Om dit te bewerkstellig, is ʼn netwerk van burgerlike organisasies nodig. Die Solidariteit Beweging kan nie naastenby die volle verantwoordelikheid vir die burgerlike samelewing op hom neem nie. Burgerlike instellings sal meer verantwoordelikheid moet neem vir burgerregte, maatskaplike dienste, eiendomsregte en veiligheid op plaaslike vlak. Gemeenskapstrukture moet gevestig word sodat die gemeenskappe self verantwoordelikheid kan neem. Die Solidariteit Beweging steun alle organisasies wat plaaslike strukture het en moedig hulle aan om hulle strukture te versterk. Selfstandige gemeenskappe wat self verantwoordelikheid neem vir alle funksies binne die gemeenskap moet gestimuleer word. Die Solidariteit Beweging sal vennootskappe sluit met bestaande organisasies sodat die organisasies mekaar kan versterk.

  1. Maatskaplike ondersteuning

Mense raak al meer onder druk en Afrikanerarmoede is ʼn groeiende tendens. Dit is Solidariteit Helpende Hand se taak om die armoedesiklus te breek en om te keer dat mense in armoede verval. Weerlose mense gaan ondersteun word, en mense wat kan werk, gaan gehelp word om na die arbeidsmark terug te keer. Hier is die fokus weer eens op beurse en beroepsleiding. Takke wat moet help met die stryd teen armoede te voer, gaan dwarsoor Suid-Afrika gestig word. Daar is reeds sowat 115 Helpende Hand-takke in die land. Die Solidariteit Beweging neem met dank kennis van die talle ander maatskaplike organisasies en kerke wat wonderlike werk doen en sal graag met hulle saamwerk en hulle ondersteun waar nodig.

  1. Navorsing

ʼn Plan se sukses word bepaal deur sy intellektuele diepte. Boustrategieë kan slegs met goeie navorsing ontwikkel word. Die korrekte feite is onontbeerlik vir die dialoog oor wetgewing of ander onderhandelinge. Die Solidariteit Navorsingsinstituut gaan versterk word. Die NP van Wyk Louw Sentrum vir Kulturele Vryheid se rol is spesifiek om gereeld navorsingsverslae en boeke oor kulturele vryheid te publiseer.

  1. Jeug

Soos reeds aangetoon, gaan die grootste inset in ons jeug in die vorm van opleiding wees. AfriForum Jeug gaan voort met die vestiging van AfriForum Jeug by universiteite. AfriForum Jeug het die Tukkies-studenteraadsverkiesing oorweldigend gewen. AfriForum Jeug beplan ook ʼn jeugopleidingsinstituut wat jongmense sal toerus om hulle aktief in die burgerlike samelewing te handhaaf. Die Voortrekkers doen steeds goeie werk en verdien erkenning en ondersteuning daarvoor.

  1. Landbou en grondsake

Die Solidariteit Beweging beplan nie om direk by die landbou betrokke te raak nie. Daar is reeds sterk landbou-unies, naamlik TLUSA en AgriSA. Die Solidariteit Beweging sal dié instellings sover moontlik ondersteun in hulle stryd om voedselsekuriteit vir Suid-Afrika te verseker. Kraal Uitgewery se publikasie Treurgrond het die lig laat val op plaasmoorde. Die Solidariteit Navorsingsinstituut beplan ook ʼn verslag oor grondhervorming. AfriForum sal sy navorsing oor gemeenskapsbeveiliging ook aan landbouorganisasies beskikbaar stel.

  1. Media en kommunikasie

ʼn Bouplan van hierdie omvang waarvan steunwerwing en druk ʼn groot rol speel, kan nie uitgevoer word sonder goeie kommunikasie nie. Die bouplan is nie net tot voordeel van die Solidariteit Beweging, sy lede en hulle gemeenskappe nie, maar tot voordeel van die hele Suid-Afrika. Gevolglik word die Suid-Afrikaanse media as bondgenote gesien. Daarby gaan die Solidariteit Beweging sy eie media inspan. Die sosiale media en ander nuwe media-instrumente gaan ten volle ontgin word. Maroela Media gaan onder andere hiervoor aangewend word. Dit is ʼn volledige Afrikaanse nuwemediaplatform wat teks, video, klank, blogs en sosiale media gaan integreer. Solidariteit Radio se stem sal helder bly opklink. Boeke bly ʼn kragtige medium om idees oor te dra. Kraal Uitgewery gaan die onderliggende idees van die bouplan deur middel van boeke te bevorder. Die bouplan gaan ook deur talle netwerke en strukture bekend gestel word. Gemeenskapsradiostasies is krities belangrik en die Solidariteit Beweging sal gemeenskapsradio ondersteun waar moontlik.

  1. Finansies – die brandstof van die bouplan

Die instellings van die Solidariteit Beweging wat die bouplan moet uitvoer, moet almal ʼn ekonomiese enjin ontwikkel om hulle bydrae tot die plan sover moontlik te ondersteun. Dit is egter nie op sigself genoeg nie. Die Afrikaanse gemeenskap sal betrokke moet raak en help om die plan te finansier. Noue samewerking met AfriSake, ʼn Afrikaanse sakenetwerk, word beoog om te help om kapitaal vir die bouplan te mobiliseer. Ander kreatiewe fondswerwingsmetodes soos die vennootskap met die Afrikaanse korttermynversekering Virseker gaan ook in groter diepte ondersoek word. Die Solidariteit Beweging se buitelandse skakelkantoor gaan finansieringshulp uit die buiteland ontgin, en ook Suid-Afrikaners in die buiteland nader om te help om die bouplan te finansier.

Hierdie opsomming gee die breë trekke van die maniere waarop elke instelling van die Solidariteit Beweging verantwoordelikheid gaan neem vir die verskillende aspekte van die bouplan. Die instellings het reeds in die meeste gevalle hulle besigheidsplanne en begrotings vir die bouplan gefinaliseer.

Die bouplan gaan oor die volgende drie jaar ongeveer R1 miljard kos. Dit maak dit een van die grootste burgerlike projekte, sonder staatsbefondsing, in die geskiedenis van Suid-Afrika.

Ons vertrou dat die bouplan by mense die hoop sal laat opvlam dat hulle gelukkig in Suid-Afrika kan bly woon, werk en woeker.

Misdaad kán met goue driehoek verslaan word

(Hierdie toespraak is op 9 Mei 2017  gelewer tydens die AfriForum-veiligheidsberaad)

Op 7 Oktober 1969 het die rustige stad van Montreal in Kanada in ʼn nag van misdaad, geweld en terreur ontplof. Hierdie gebeure word bykans 50 jaar later steeds deur polisiemagte bestudeer om lesse uit die verband tussen misdaad en wetstoepassing te leer. Die destydse staking van die polisie en die brandweer in Montreal is ná dekades steeds die beste voorbeeld van hoe ʼn wêreld sonder ʼn sterk polisiemag sal lyk. Die dreigende staking oor griewe wat oor ʼn lang tyd opgebou het, is nie ernstig deur die stadsvaders geneem nie. Geen voorsorg is getref toe die staking begin het nie. Daar kon tog eintlik niks in die slaperige Montreal van 1969 skeefloop nie.

Maar toe nou nie. Die gewoonlik rustige en wetsgehoorsame stad het bykans in vlamme opgegaan! Toe 16 uur van misdaad en wanorde uiteindelik deur die haastige inroep van die weermag en provinsiale polisie en ʼn parlementêre noodsitting van Quebec beëindig is, het die rook letterlik oor die stukkende stad gehang. Tien banke is beroof, meer as 100 winkels is geplunder, 12 brande het gewoed, miljoene dollar se skade is aangerig en sowat 40 vragte glas was nodig om winkelvensters te herstel.

Die belangrikste les hieruit is treffend opgesom deur lord William Rees-Mogg, voormalige redakteur van die Londense Sunday Times. Hy het gesê dat die “logika van geweld is dat geweld net in toom gehou kan word deur die vrees vir groter geweld”. Daardeur het hy bedoel dat misdadigers net afgeskrik word as hulle weet dat die polisie groter geweld teen hulle sal gebruik as wat hulself teen hul slagoffers gebruik. Geweldsmisdaad kan dus net deur geloofwaardige afskrikking voorkom word. Daardeur bedoel ek nie dat daar nie ook ander oorsake soos sosio-maatskaplike of demografiese redes vir misdaad bestaan wat ander oplossings verg nie. My punt is bloot dat niemand veilig sal wees as die wil en vermoë om burgers veilig te hou, nie bestaan nie.

Burgerlike betrokkenheid

Wat beteken dit vir Suid-Afrika? Die jarelange wanbestuur van die polisiediens deur die regering het veroorsaak dat die polisie nie meer ʼn groot genoeg afskrikking vir misdadigers inhou nie. Dit is die grootste rede vir die gewelds- en misdaadplaag wat ons samelewing so teister. Wetsgehoorsame burgers bly toegesluit in tronke van heinings, tralies en mure terwyl misdadigers vry buite rondloop en roof, steel en plunder.

Maar ons kan nie net die polisie verwyt nie. Ná 1994 het daar ʼn soort vrywillige en “eensydige ontwapening” plaasgevind. Mense het in massas hul wapens gaan inhandig, en nie meer hul kinders geleer om wapens te hanteer nie. Dis asof hulle gedink het dat wettige selfverdediging in die nuwe bedeling uit die mode geraak het of nie meer nodig sou wees nie. Daarom het die verswakking van die polisie en die eensydige ontwapening van die burgery tot ʼn soort onverklaarde “misdaadoorlog” deur geweldsmisdadigers gelei. Hierdie kriminele het soos roofdiere op die grootliks ongewapende en meestal weerlose burgery toegesak. Elke dorp en stad en straat en plaas het ʼn soort “Montreal 1969” geword.

Die Nederlandse denker Bob Goudzwaard het dekades gelede al gesê dat die Afrikaner se geskiedenis ʼn stryd om oorlewing was, en nie ʼn stryd vir oorheersing nie. Burgerlike betrokkenheid in veiligheid is niks nuuts nie omdat Afrikaners nog altyd hulself beskerm het. Ons het ook nie net na ons eie veiligheid omgesien nie, maar nog altyd, van die Voortrekkertyd af, vennootskappe met ander groepe in die land aangegaan. Lees maar oor die Voortrekkers se alliansies, pres. Paul Kruger se diplomatieke betrekkinge en die ou weermag se vennote. Hoeveel van julle het nie byvoorbeeld saam met Unita in Angola geveg nie! Die voortgaande verswakking van die staat se vermoë om sy burgers veilig te hou maak dit noodsaaklik dat die gemeenskap nou weer saamstaan om hulself te beskerm.

Wêreldwye verskynsel

ʼn Gemeenskap wat saamstaan om sy eie veiligheid te verseker is ook nie net ʼn Suid-Afrikaanse verskynsel nie. Die Israelse militêre strateeg Martin van Creveld sien geweldsmisdaad as ʼn wêreldwye probleem en stel dit soos volg: “Namate misdaad toeneem en die vermoë van state en regstelsels om hul burgers te beskerm afneem, bestaan die gevaar dat misdaad in ʼn lae intensiteit “oorlog” ontwikkel, volgens rasse-, godsdienstige, sosiale en politieke grense. “Staatsveiligheidsdienste sal waarskynlik gaandeweg vervang word deur groeiende private veiligheidsdienste en selfs stedelike gemeenskappe wat beter in staat en toegerus sal wees om die bevolking te beveilig.”

Misdaad en terreur

Van Creveld waarsku ook dat die bestaande grense tussen misdaad en terreur (oorlog) sal vervaag en selfs kan verdwyn, iets wat reeds in lande soos Libanon, Peru, Sri Lanka, en Colombia gebeur het. Volgens hom kan geweld net afgeskrik word deur oorweldigende mag. Let wel dat ek die klem lê op afskrikking deur mag, en nie deur die gebruik van mag nie, want as jy die mag het, hoéf jy dit nie te gebruik nie. Niemand is lus om ʼn groot gewapende gemeenskap aan te val nie.

Die bekende skrywer Robert Kaplan waarsku in sy boek The Coming Anarchy oor die wêreldwye toename in geweldsmisdaad. Hy sê dat namate staatsmag kwyn, en daarmee saam die staat se vermoë om kwesbare groepe te beskerm afneem, bevolkings en kultuurgroepe regoor die wêreld al meer op hulself aangewese gaan wees. Persoonlike veiligheid gaan vir mense baie belangriker as politieke vraagstukke word. Burgerlike betrokkenheid by gemeenskapsveiligheid kom algemeen voor in die VSA, Indië, Brittanje en Nieu-Seeland. In talle arm lande sonder sterk polisiemagte handhaaf tradisionele owerhede doeltreffend wet en orde.

Dit ís nou maar so, in die woorde van die Britse veiligheidskenner John Keegan, dat die “gety van konflik” van die armes na die rykes vloei. Gemeenskappe het die reg én die plig om hulself op enige wettige manier te beskerm, volgens ons Grondwet, wetgewing en die internasionale reg.

Goue driehoek

Die goue driehoek van ʼn veilige samelewing, is oral ter wêreld ʼn sterk polisiemag, doeltreffende private sekuriteit en ʼn goed georganiseerde burgery. Ons sal veilig kan slaap as ons beter georganiseerd is as die misdaadbendes. Indien een van hierdie drie bene nie goed werk nie, vergroot dit die las op die ander twee. Gelukkig is Suid-Afrikaners histories nog altyd betrokke in die beskerming van ons eie gemeenskappe. Dis nie ʼn nuwe ding nie. Dink maar aan die geskiedenis van die burgermagte, polisiereserviste, kommando’s, burgerlike beskerming en buurtwagte. Wettige, werkende, opgeleide en toegeruste buurtwagte wat in vennootskap met die polisie en private sekuriteit werk, is die beste afskrikking teen die misdaadvlaag wat die land teister. Weerbaarheid is die enigste antwoord op weerloosheid. Die groot voordeel is dat nuwe tegnologie en kommunikasietoerusting besig is om die wêreld van misdaadvoorkoming onherkenbaar te verander. Die militêre geskiedenis is nie verhaal van oorwinnings deur meerderhede nie, maar deur beter tegnologie. Tegnologie gee vir wetsgehoorsame burgers ʼn mededingende voordeel bó misdadigers. Die ontwikkelings wat ek die afgelope maande by AfriForum en ons vennote gesien het, gee my moed dat misdaad verslaan kan en gaan word.

Die goue driehoek se grootste waarde lê in misdaadvoorkoming. Hier is drie goue reëls van die Chinese militêre wysgeer Sun Tzu van toepassing: “Die voorkoming van geweld en bedwinging van die vyand is beter as om ʼn geveg te wen.” Daarom moet buurtwagte in staat wees om deur sigbare magsvertoon en weerbaarheid inderwaarheid “minimum geweld” toe te pas, sodat dit nooit nodig sou wees om “maksimum geweld” – naamlik wettige wapengeweld ter selfverdediging – te gebruik nie. Maar onthou ook Sun Tzu se tweede goue reël: “Die geskiedenis leer ons om nie staat te maak dat die vyand nie gaan aanval nie, maar dat ons reg is om te wen wanneer hy kom.”

Winston Churchill het tereg gesê jy kan nie kies dat daar nie konflik gaan wees nie, jy kan net kies om te wen wanneer dit kom. Dit sluit aan by Sun Tzu se derde reël: “Wen voordat jy veg”, waarmee hy bedoel dat jy die omstandighede moet skep wat die vyand se nederlaag sal verseker.

Vyf sirkels

Vir my behels die skep van hierdie omstandighede wat afskrik of ʼn oorwinning verseker die vestiging van “vyf veiligheidsirkels” om jou. Die eerste is om jou woongebied en straat (plaasdistrik), die tweede is om jou erf, die derde om jou huis, die vierde om jou slaapgedeelde, en die vyfde jou persoonlike bewapening.

Tienpunt-veiligheidsplan

Voordat ek by my siening van ʼn tienpunt-veiligheidsplan uitkom, wil ek dit duidelik stel dat ons geen politieke doelwit met ons buurtwagstrategie nastreef nie. As radikale politici ons dreig moet ons hulle glo en daarvoor beplan, maar met die klem op veiligheid eerste en laaste. Dit gaan eerste en laaste om ʼn veilige toekoms te verseker vir ons lede, ons gemeenskap en vir die breër bevolking. Dit is so dat ons in ʼn land leef waar geweld soos ʼn veldbrand kan versprei, soos die xenofobiese aanvalle of wat in Coligny gebeur het. Die gevaar van ʼn “oorspoel”-effek van diensleweringsproteste moet ook nie buite rekening gehou word nie.

  1. Besef dat misdadigers ʼn onverklaarde “misdaadoorlog” voer, en beplan daarvoor.
  2. Goue driehoek van SAPS, sekuriteit en buurtwagte kan die stryd teen misdaad wen.
  3. Bewapen jouself (wettig) en leer om wapens veilig en doeltreffend te gebruik.
  4. Veiligheid deur netwerk van weerbaarheid: Help om jou buurtwag goed te organiseer.
  5. Sluit vennootskappe: SAPS, GPF’s, sekuriteit, swart gemeenskappe, media ensovoorts.
  6. Verhoudinge: Wedersydse erkenning en respek is die regte en veilige ding.
  7. Hou aan veg vir die hervorming van SAPS.
  8. Bevorder ekonomiese beleid wat werk skep en aan ander oorsake aandag gee.
  9. Verband tussen demografie en misdaad: Konsentrasie bevorder veiligheid.
  10. Skep eilande van veiligheid, die see gaan altyd rof wees.

Goeie organisasie, deeglike opleiding, nuwe tegnologie, aktiewe gemeenskapsteun en samewerking met die polisie en private sekuriteit gee aan buurtwagte ʼn klinkklare voorsprong bo kriminele bendes. AfriForum en die Solidariteit Beweging gaan ons mense nie alleen laat nie. Ons gaan op die voorpunt van die stryd teen die misdaadplaag veg tot ons saam die stryd gewen het. Gemeenskapskrag is sterker as misdaadmag. Kom ons vat mekaar se hande, vorm ʼn landswye veiligheidsnetwerk van staal en maak ons strate en ons gesinne veilig. Ons kan saam die stryd teen misdaad wen!

 

Krisisberaad: Raamwerk vir ’n toekomsplan van hoop

(Hierdie toespraak is gelewer deur Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, tydens die Beweging se Krisisberaad wat op 5 Mei 2015 in Pretoria gehou is.)

 Waarom ʼn krisisberaad?

Die Solidariteit Beweging het die Krisisberaad saamgeroep om te besin oor die groeiende krisis in die land en om oplossings daarvoor te ontwikkel. Ons doel is nie om net te praat oor die probleme nie, maar om iets daaraan te doen, want ons is hier om te bly. Daarom is hierdie beraad eerder ’n doenskrum as ’n dinkskrum. Vandag is die begin van ’n groter proses om omvattende oplossings te ontwikkel en in werking te stel. Natuurlik besef ons goed dat die land en ons gemeenskap se probleme nie oornag opgelos kan word nie. Ons gaan nietemin nie sit en wag vir langtermynplanne nie, maar ons gaan vandag reeds ’n pakket met korttermyn-aksieplanne ter tafel bring om solank die bal aan die rol te sit. Wees egter verseker dat u vorentoe nog ruim geleentheid sal kry om verdere insette te lewer.

Ons beweging het die afgelope paar jaar van krag tot krag gegaan en gegroei, en dit is nou ’n hedendaagse Helpmekaar-beweging van selfhelp-doenorganisasies wat ’n omvattende reeks dienste aan ons gemeenskap lewer. Dit is met groot dankbaarheid dat ek vandag kan aankondig dat ons ledeorganisasies (die vakbond Solidariteit, AfriForum, die Solidariteit Helpende Hand en ons kultuurvennoot die FAK) die afgelope maand gesamentlik ’n ledetal van 300 000 bereik het! As ons lede se gesinne by hierdie syfer ingesluit word, beteken dit waarskynlik dat ons nou nagenoeg ’n miljoen mense verteenwoordig. Daarmee probeer ons nie voorgee dat ons nou namens alle Afrikaners kan praat en besluit nie, maar ons aksieplanne is ten bate van Afrikaners se reg om blywend vry, veilig en voorspoedig in Afrika te kan voortbestaan, ook tot voordeel van die land en sy mense.

Die dubbele krisis van staatsverval en tweedeklasburgerskap: die gevaar van staatsverval

Wat bedoel ons daarmee dat Suid-Afrika in ’n krisis verkeer? Daar is toenemende tekens dat die agteruitgang in die land besig is om al vinniger te versnel. Die groot gevaar is dat dit lateraan ingevolge die “wet op versnelde agteruitgang” tot staatsverval kan lei. Dit gebeur wanneer iets wat op ’n glybaan na onder is, al hoe vinniger begin afgly totdat dit naderhand in ’n onkeerbare spiraal na die bodem toe spoed. Die “sneller” hiervoor is gewoonlik ’n onverwagse gebeurtenis wat soos ’n vallende domino ’n ketting van gebeure ontketen. Dink maar net hoe die aanvalle op vreemdelinge soos ’n vinnige veldbrand versprei het.

Wanneer ’n Derdewêreldland inplof, is dit soos iemand op ’n fiets wat op ’n plaaspad val. Dit is seer en stowwerig, maar jy kan dadelik weer opklim en verder aanry. As ’n moderne land egter verval, is dit soos ’n vliegtuig wat neerstort. Dit gebeur nie baie nie; dit neem lank voordat dit gebeur omdat ’n vliegtuig ver kan sweef, maar as die vliegtuig val, is dit ’n ramp waarvan nie gou weer opgestaan kan word nie.

Suid-Afrika het gelukkig nog nie “geval” nie, en daar is nog baie positiewe dinge in die land ook, wat ’n mens hoop gee dat die land nie sommer totaal sal verval nie. Maar die rooi ligte flikker, want groot dele van die staat het al verswak of geval en dit kan die res begin omstamp soos die domino waarna ek verwys het. Dink maar aan die 80% van die openbare skole wat al verval het; die talle dorpe wat nie meer behoorlike munisipale dienste kan lewer nie; soveel staatshospitale wat faal om ’n gesondheidsdiens te lewer en waar mense doodgaan weens ’n gebrek aan mediese diens; ’n polisiediens wat nie meer die land se mense kan veilig hou nie; en die talle staatsdepartemente wat in werklikheid eerder werkskeppingsprojekte is wat nie werk nie. Die feit dat sommige mense nog nie hierdie verval raaksien nie omdat hulle op Eerstewêreld-eilande leef wat nie van die staat afhanklik is nie, verander niks aan die feit van ’n falende staat nie. Buitendien het beurtkrag die verval tot in ons huise gebring; is die vandalisering van ons monumente wyd beleef as ’n simboliese aanval op ons gemeenskap; en het die geweld teen vreemdelinge mense laat wonder waartoe mense, wat normaalweg vreedsaam is, binne ’n oogwink in staat is. Gelukkig bestaan ’n land nie net uit die staatsektor nie, maar het die land ook lewendige en sterk privaat en burgerlike sektore.

Ek wil die sewe ergste staatskrisisse kortliks opsom voordat ons na oplossings begin kyk:

  1.  Die ideologiese krisis: Die krisis hou daarmee verband dat die regering ná 21 jaar nog nie ’n werkbare regerende ideologie kon ontwikkel nie, maar steeds vasklou aan uitgediende opposisie- /struggle-resepte uit die Koue Oorlog-era. Dit word al duideliker dat die regerende party tydens die destydse grondwetlike onderhandelinge toegewings gemaak het om die mag te kry, en nou die mag gebruik om hul oorspronklike doelwitte deur te stoomroller. Dít is ’n giftige mengsel van rassenasionalisme onder die dekmantel van “transformasie” en outoritêre politieke en onbekostigbare ekonomiese sosialisme. Die ANC het dit herhaaldelik duidelik gestel dat die doel van hul transformasiebeleid is om beheer van alle “magsentrums” oor te neem, met “African”-heerskappy (hegemonie) as doelwit.
  2.  Die politieke krisis: Ons stelsel, wat deur een party oorheers word, lei tot al minder vryheid vir die ekonomie; die opposisie; die media; die regbank; grondwetlike instellings soos die openbare beskermer; staatsinstellings; die burgerlike samelewing; en die beperking van die vryheid van taal- en kultuurgroepe. As dit nie gekeer word nie is die uiteinde hiervan ’n vryheidslose, ondemokratiese “demokrasie.”
  3. Die regeringskrisis: Dit word al duideliker dat die regering nie ’n moderne land kan regeer nie. Dit is die hoofoorsaak van die versnellende verswakking van die staat en dít deur self-toegediende wonde soos byvoorbeeld die regering se rassebeleid. Daarom ontstaan daar ’n groeiende gaping tussen wat die regering wil doen en wat die staat kan doen.
  4. Die grondwetlike krisis: Die grondwetlike gesag raak al meer ondergeskik aan politieke mag. Vanweë “Zumafikasie” word Suid-Afrika al meer deur persoonlike en politieke netwerke, in plaas van deur grondwetlike instellings, regeer.
  5. Die ekonomiese krisis: Die politiek het verwagtings geskep waaraan die ekonomie nie kan voldoen nie en wat die onvolhoubare toestand dat 3 miljoen belastingbetalers ’n bevolking van 55 miljoen mense moet versorg, tot gevolg het.
  6. Die bedelingskrisis: Die krisis het tot gevolg dat die ingeboude struktuurfoute onder meer daartoe lei dat meerderheidsregering oorgaan in meerderheidsoorheersing.
  7. Die kulturele krisis: Die krisis vergestalt hom daarin dat die demokratiese ruimtes van grondwetlik erkende kultuurgemeenskappe algaande kwyn vanweë die krimpende politieke ruimtes, en dié kultuurgemeenskappe se instellings oorgeneem en elke aspek van hul lewens deur die meerderheid beheer/oorheers word en dít deur die beleid van “verteenwoordigendheid.”

Hiermee tesaam kan nog talle ander krisisse genoem word, soos die maatskaplike krisis weens gesinsverbrokkeling; die misdaadkrisis; die groeiende krisis van die land se infrastruktuur soos elektrisiteits- en waterverskaffing; die omgewingskrisis; die waardekrisis; die krisis in die arbeidsmark wat blyk uit hemelhoë werkloosheid en armoede; die tekens van agteruitgang in ons regstelsel met gevalle van straflose korrupsie van politieke leiers; en die demografiese krisis wat homself uitspeel.

Gelukkig is daar ook nog sterk dryfkragte wat staatsverval teenwerk, soos die meervoudige magsentrums in die land; die sterk moderne sektor met sy groeiende middelklas; die veelvlakkige verskeidenheid in die land wat algehele magsentralisasie bemoeilik; die groot groep goed opgeleide mense; die gedeelde Christelike waardes; die onafhanklike howe en die regstelsel; die luide opposisiepolitiek; tegnologie wat mense bemagtig; die kulturele kapitaal in talle gemeenskappe; en die wakende oog van die buiteland.

Die dubbele krisis van staatsverval en tweedeklasburgerskap: Die gevaar van tweedeklasburgerskap

Daar word dikwels gesê dat dit ekonomies nog goed gaan met wit mense in die algemeen en met Afrikaners in die besonder, en dit word as bewys voorgehou van ons voortgesette bevoorregting in die nuwe bedeling. Gewoonlik word die welvaart van ’n handvol Afrikaanse wêreldklas sakelui dan gebruik as bewys van hoe goed dit met Afrikaners gaan, asof dit die algemene standaard is. Dit herinner aan die ou NP-regering se poging om die vorige bestel te regverdig deur daarop te wys dat die lewenstandaard van swart mense in Suid-Afrika veel hoër was as in die res van Afrika. Die betreklik goeie ekonomiese prestasie van Afrikaners in weerwil daarvan dat die ANC téén hulle regeer, kan tog nou nie as ’n regverdiging van ’n toenemend onregverdige stelsel aangevoer word nie!

Verskeie grondwetlike ruimtes bestaan vir taal- en kultuurgemeenskappe se regte soos taal; moedertaalonderwys; enkelmediumskole en -universiteite; kulturele instellings; en selfs die erkenning van dié gemeenskappe se reg om na geografiese en ander vorme van “selfbeskikking” te streef. Almal se reg op vryheid, menswaardigheid en gelykheid word ook in die Handves van Menseregte gewaarborg. Daar is selfs grondwetlike instellings soos die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (Pansat); die Menseregtekommissie; en die Kommissie vir die bevordering en beskerming van die regte van kultuur-, geloof-, en taalgroepe om oor dié regte te waak. Boonop kan gemeenskappe hulle nog op die howe ook beroep as hulle steeds ontevrede is. Dit is nou wigte en teenwigte so ver as wat die oog kan sien. Dit het alles in 1994 baie goed geklink. Intussen het daar egter ’n groeiende kloof ontstaan tussen die grondwetlike teorie en die politieke praktyk. My enigste verklaring daarvoor is dat die krisisse in die land alles tekens is dat die 1994-ooreenkoms besig is om uit te rafel. Navorsers verbonde aan die Cornell Universiteit voer aan dat die gemiddelde lewensduur van grondwette in die wêreld net 17 jaar lank is, moontlik omdat die “politieke leeftyd” van die opstellers daarvan hoogstens twee dekades is. Kyk maar na ons parlement waar nog net twaalf van die 1994-parlementslede nog in die parlement dien en net agt van hulle is ANC-lede. Maar kom ons kyk hoe die bedeling reeds in die praktyk verander het:

  •  Veeltaligheid het ná ’n oorgangstyd oral eentaligheid geword;
  • Gelykheid en “regstelling” het “verteenwoordigendheid” geword;
  • Afrikaanse skole word deurlopend deur staatsweë vir “transformasie” geteiken;
  • Die grondwetlike voorsiening vir Afrikaanse universiteite word polities toegestop;
  • Die betrokke grondwetlike instellings wat hieroor moes waak, is tandeloos, disfunksioneel of is deur die regering gekoöpteer;
  • Rassetransformasie volgens bevolkingsyfers het die meeste instellings onder ANC- en swart politieke beheer laat beland;
  • Die goedkeuring van hierdie grondwetlike regte berus ook by die meerderheid, wat dit betekenisloos maak omdat die ANC dit skynbaar as voortgesette bevoorregting beskou; en
  • Die meerderheid se individuele regte weeg nou, kortom, swaarder as die minderheid s’n.

Al die nie-bindende gerusstellings en versekerings in plaas van strukturele voorsiening vir ons regte, het dit duidelik gemaak dat ons bestel se individuele sentralisme te simplisties is om die kompleksiteite van ’n heterogene samelewing te reguleer. Minderheidsoorheersing is bloot deur meerderheidsoorheersing vervang, soos die bekende politieke wetenskaplike, Donald Horrowitz, gewaarsku het. Dit is hoekom demokrasie in ’n multi-etniese land nie as vryheid beleef word nie, maar as oorheersing deur die meerderheid – soos wat die staatskundige Timothy Sisk gesê het.

  1. Raamwerk vir ’n toekomsplan van hoop: ’n Strategie vir volksveelheid

Dit is nou genoeg oor die krisis. Kom ons kyk na oplossings en die Solidariteit Beweging se raamwerk vir ’n toekomsplan van hoop. Ek het vroeër gesê dat ons ’n merkwaardige prestasie behaal het deur die 300 000-ledetal te bereik.

Die vraag is wat ons moet doen met hierdie oorweldigende steun wat daagliks aan die toeneem is? ’n Belangrike rede vir ons historiese groei was die suksesvolle verdediging van ons lede se gevestigde regte en belange. Tweedens probeer ons om, so goed as wat ons kan, die impak van die verswakkende staat en landsomstandighede op ons lede te versag. Derdens word dienste aan lede gelewer wat die staat of maatskappye nie kan of wil lewer nie. Vierdens steun mense ons projekte om hulle te beskerm teen ’n bedeling wat hulle struktureel benadeel. Vyfdens ondersteun lede ons aksies om die bestaande orde se verval te vertraag en aktief teen te werk.

Dit is alles baie nodig, maar dit bring tog sekere vrae na vore. Dit is nie volhoubaar om net in die pad van verdere agteruitgang te staan nie; ons moet ook bou aan ’n pad van vooruitgang! Ons uitdaging is ongelukkig nie net ’n swak regering nie, maar ’n verswakkende bedeling.

Dit help ook nie om net as brandweermanne vure in bestaande geboue te blus nie; ons moet soos bouers ook nuwe geboue oprig. Om reddingsboeie vir drenkelinge te gooi is noodsaaklik, maar daar moet ook nuwe skepe gebou word. Om te waarsku dat die land kan misluk is tydig, maar ’n vars alternatiewe visie wat die verbeelding aangryp, skep werklik hoop en energie en ’n toekoms vir ons kinders. Taktiese oorwinnings en suksesse verseker ons nog nie van ’n volhoubare en menswaardige vry, veilige en voorspoedige voortbestaan nie.

Die Afrikaner het volgens N.P. van Wyk Louw sy toekoms nog altyd met daadkragtige waagstukke geskep, waarvan nie een se uitkoms aanvanklik seker was nie. Louw het drie historiese waagstukke genoem:

  • Die Groot Trek (en die stigting van die Boererepublieke);
  • Die aandurf van die Britse Ryk as die destydse supermoondheid in 1899;
  • Die aanvaarding van Afrikaans as amptelike taal in 1925.

Hierna is ’n vierde en onsuksesvolle waagstuk aangepak, naamlik die poging om ons rasseprobleem deur afsonderlike ontwikkeling op te los.

Die vraag is of die tyd nie nou aangebreek het vir ’n volgende en vyfde waagstuk nie.

Die voorwaarde vir die sukses van enige plan is dat soveel moontlik Afrikaners (dalk 80%) dit uiteindelik steun, wat beteken dat ons gemeenskap se belangrikste uiteenlopende sienings deel van hierdie plan moet wees. Planne vir “volkseenheid” werk nie omdat dit veronderstel dat almal by een plan moet inval. Dit is wensdenkery dat almal met alles saamstem; dit gebeur nêrens ter wêreld nie, behalwe miskien in Noord-Korea waar dít wat nie verpligtend is nie, verbode is. Daarom is hierdie raamwerkvoorstel gegrond op “volksveelheid” met die uitgangspunt dat mense nie oor alles saamstem of hoef saam te stem nie – dit is doodnormaal. Die plan maak daarom voorsiening vir die drie belangrikste historiese denkstrome in ons geskiedenis. Laat ek verduidelik.

Daar was nog altyd drie groepe Afrikaners wat volgens hul steun ingedeel is in:

  • Die groep, die individualiste, wat individuele regte voorstaan soos vergestalt in ’n “Engelse” demokrasie;
  • Diegene wat ten gunste is van groepsregte of minderheidsregte soos wat dit in plurale demokrasieë aangetref word (Artikels 6, 30, 31, 185); en
  • Ondersteuners van gebiedsregte, selfbeskikking of federalisme soos wat die geval in Europa is (die bogenoemde Artikels, asook Artikel 235).

Hierdie indeling val natuurlik saam met die politieke modelle wat elke groep verkies. Vir die eerste groep is ’n gewone een mens, een stem-demokrasie voldoende; die tweede groep voel dat groepsregte ook nodig is; terwyl die derde groep na geografiese oplossings, soos verskillende vorme van selfbeskikking, streef. Die eerste groep wil bloot goeie en regverdige regeerders hê; die tweede groep wil self besluite kan neem oor belangrike sake soos onderwys; en die derde groep beskou vorme van federale of gebiedsoutonomie as die enigste blywende staatkundige opsie.

Daar heers natuurlik hewige verskille tussen Afrikaners oor die haalbaarheid van elkeen van hierdie drie sienings, en daar bestaan inderdaad groot praktiese struikelblokke vir elkeen. ’n Strategiese plan, wat nie net vir ’n faksie onder die Afrikaners nie maar vir ons hele gemeenskap voorsiening maak, moet dus al drie hierdie groepe se menings in berekening neem – hoe moeilik dit nou ook al mag wees. Die voorwaarde is natuurlik dat die betrokke voorstelle nie lugkastele is of op ’n hunkering na die verlede gebaseer is nie. Sulke voorstelle sal meer weerstand as steun ontlok. Daarom moet alle voorstelle aan die maatstawwe van grondwetlikheid; demokrasie; moderne staatspraktyk; en die werklikhede van ons land voldoen.

Daarom is die voorgestelde vyfde waagstuk gevolglik eerder op volksveelheid as op volkseenheid gebou. Ons is té min en té versprei dat een groep sy eie oplossing op die ander kan afdwing of dit kan deurstoomroller. Die voorwaarde vir die sukses van ’n strategie vir volksveelheid is natuurlik demokratiese verdraagsaamheid. Dit beteken dat dít waaroor ons verskil ons nie hoef te verdeel nie. Beskou mekaar se aksies as waardetoevoeging eerder as volksverraad of ’n verwerping van die huidige bedeling!

Demokratiese verskille is nie noodwendig dieselfde as verdeeldheid of eie aan die Afrikaner nie; dit is ’n menslike eienskap. Ons navorsing wys dat 80% of meer Afrikaners saamstem oor sake soos Christenskap; Westerse waardes; taal en kultuur; die vrye mark; gemeenskap, gesin en geskiedenis; die oppergesag van die reg; selfstandigheid, federalisme; tradisies; en gesonde rassebetrekkinge. Dit is vir my die tien pilare waarop ons hierdie volksveelheid moet bou. Dit is breedweg ons idees in die stryd om idees.

Tyd vir die vyfde waagstuk: Afrikanerselfstandigheid en gemeenskapsfederalisme

Staatsafhanklikheid of onafhanklikheid is nie nou prakties haalbaar nie. Daarom behels ons voorstel ’n derde moontlikheid, oftewel ’n middeweg en dit is Afrikaner-selfstandigheid – wat ook nie ’n kortpad is nie. Daar is ’n noodsaak vir groter ooreenstemming oor die spesifieke staatkundige stelsel wat ons voorstaan. Daarom wil ek hierdie model beskryf as “gemeenskapsfederalisme.

Omdat die Solidariteit Beweging glo dat die staat se sentralisme demokratiese vryheid bedreig, is ons plan in wese federalisties. Dit beteken dat ons glo aan maksimale selfstandigheid vir gemeenskappe. Federalisme word wêreldwyd gesien as die beste teenvoeter vir regerings se drang om die samelewing met sentralistiese mag te oorheers. Ons strategie is om die bestaande grondwetlike ruimtes vir selfstandigheid te gebruik, en om deur sterk selfhelporganisasies groeiende selfstandigheid op elke noodsaaklike gebied te bevorder. Ons weet oplossings val nie uit die lug uit nie, maar moet van die grond af opgebou word. Dit beteken nie dat ons onsself téén die regering opstel nie, maar dat ons die sentralistiese verstaatliking van die samelewing teenwerk deur die ruimtes vir die selfstandigheid van gemeenskappe te beskerm.

Hierdie voorstel moet egter nog die toets van behoorlike navorsing, ondersoek, bespreking en raadpleging deurstaan, en is ’n oop voorstel wat verder ontwikkel kan word. Ons beoog om by ’n opvolgberaad op 10 Oktober vanjaar daaroor aan u te kom terugrapporteer.

Die enigste voorwaarde is dat die gekose model die verbeelding moet kan aangryp en dat dit die energie wat nodig is om dit in werking te kan stel by ons instellings moet kan opwek.

Kortom gaan dit oor ’n plan vir selfstandigheid. Dit behels ’n strategie van groeiende selfstandigheid deur gemeenskapsorganisasies soos ons moderne Helpmekaar-beweging wat die selfstandigheid vanaf grondvlak opbou. Die vlak van selfstandigheid van ’n spesifieke lewensterrein word bepaal deur die wil en vermoë, en prestasies van die instellings wat op daardie terrein werksaam is.

Die model werk soos ’n piramide: Help sover jy wil, maar moenie ander beveg wat hoër of verder wil nie, en moet ook nie diegene beveg wat nie verder as jy wil gaan nie. Natuurlik behels dit ook die neem van moeilike besluite wat nie langer uitgestel kan word nie.

Die piramide se eerste vlak is individuele regte; die tweede groepsregte; en die derde gebiedsregte. Kortliks kan die voorgestelde strategie soos volg uiteengesit word:

Gebruik die individuele regte waaroor ons beskik:

  • Stemreg en verkiesings;
  • Grondwetlike regte en vryhede;
  • Howe en die regsorde;
  • Die media en spraakvryheid;
  • Grondwetlike instellings soos die openbare beskermer;
  • Die markekonomie en eiendomsreg;
  • Die Handves van Menseregte;

Gebruik die beskikbare groepsregte:

  • Moenie teen ’n oop deur skop nie, al is dit op ’n skrefie oop;
  • Gebruik die bestaande grondwetlike voorsiening;
  • Onderwys: beheerliggame en universiteitsrade;
  • Gemeenskapsorganisasies, Sol-Tech, Akademia, Helpende Hand, AfriForum;
  • Wetgewing soos die Talewet en munisipale wette;
  • Inspraak in plaaslike regering;
  • Veiligheid byvoorbeeld gemeenskapspolisiëringsforums, buurtwagte en sekuriteitsmaatskappye;
  • Privatisering, howe, media;
  • Vennootskappe met ander gemeenskappe;
  • Skakeling met die owerhede; en
  • Kulturele “selfregering” deur landswye gemeenskapsrade ingevolge artikel 185 van die Grondwet kan ondersoek word.

Groeiende selfstandigheid op gebiedsbasis

Hoewel die Grondwet wel in artikel 235 voorsiening maak vir “selfbeskikking”, het dit tot dusver nie ernstige aandag gekry nie. Dit is ’n omstrede begrip weens bepaalde politieke konnotasies daaraan verbonde, en dit sal baie omsigtig hanteer moet word. Dit ís egter in die Grondwet, en die lewensvatbaarheid daarvan regverdig ’n behoorlike ondersoek omdat ons graag alle moontlike grondwetlike ruimtes op meriete wil oorweeg. Daar sal dus nie sprake wees van modelle wat na apartheid hunker nie.

Ons kan weer ’n toekoms opbou waarin ons blywend vry, veilig en voorspoedig kan wees. Ons voorouers het dit reggekry in baie moeiliker omstandighede, en daar is mos niks fout met ons nie. Ons het net die kulturele selfvertroue daarvoor nodig en die “kan doen”-kultuur waarmee ons voorouers die voorste landsekonomie in Afrika se geskiedenis opgebou het. Ons vier met reg ons voorouers se prestasies. Maar laat ons aan die werk spring om weer vir ons nageslag ’n rede te gee om die toekoms wat ons vir hulle geskep het te vier!

Ten slotte

Van Wyk Louw het vier bestaanskrisisse vir ’n volk genoem:

  • Fisieke uitwissing;
  • Oorstroming deur getalle;
  • Vrywillige ontbinding; en
  • Wanneer blote voortbestaan belangriker word as voortbestaan in geregtigheid.

Die vorige bedeling het tot ’n einde gekom omdat Afrikaners self besluit het dat die groot eis van die tyd “geregtigheid” is. Daar is nou geregtigheid teenoor die meerderheid. Daarom is die eis van ons tyd nou om te sorg dat daar vir ons gemeenskap ook geregtigheid is, en die klem moet nou op “voortbestaan” lê.

Dames en here, ons is hier om te bly. Ons sal egter die voorwaardes moet skep om hier te kan bly. Ons omstandighede is uiters ingewikkeld, en ek wil nou al waarsku teen eenvoudige mooiklinkende “oplossings”. Die tyd vir vinnige en maklike antwoorde is lankal verby, en ons wil beslis nie voorgee dat ons al die oplossings het nie. Daarom is dit vandag net die begin van ’n langer proses om alle moontlike oplossings te ondersoek, en sien ek saam met u uit na die res van die dag se besprekings. Baie dankie dat u soveel omgee dat u vandag hier saam met ons is.

 

Wees Sterk en Vol Moed: Geloofsverankerde optrede in veranderende tye

(Hierdie toespraak is in September 2009 gedurende ‘n Predikante Ontbyt gelewer)

Padkaart

 

  1. Globale makro-neigings en religie
  2. Die Groot prentjie van makro veranderings in Suid-Afrika
  3. Belangrikste uitkomste van veranderings in SA (Gesin)
  4. Ons Gereformeerde Erfenis

 

  1. Globale makro-neigings en religie

 

’n Groot deel van die Westerse intellektuele elite glo nou al vir geslagte lank vas dat geloof geleidelik sal verdwyn in ’n onkeerbare proses van sekularisasie of verwêreldliking. Modernisering sou volgens hierdie siening lei tot die einde van geloof. Hierdie onwrikbare geloof in ongeloof spruit uit ’n oortuiging dat geloof ’n byproduk van agterlikheid is, en dat geloof sal kwyn namate kennis, opvoeding, demokrasie en welvaart oor die aardbol versprei. Hierdie mening het wye steun geniet – vanaf die Marxiste tot die denkers van die Verligting.

Hulle het geglo dat namate mense toenemend deur wetenskaplike kennis gevorm sou word, geloof in ’n Almagtige Godheid gaandeweg vervang sou word deur ’n geloof in die mens en sy vermoë om self ’n hemel op aarde te skep. Godsdiens sou uit die openbare arena verdwyn, en hoogstens ‘n randverskynsel word wat in privaat huishoudings beoefen word.

Die verwoestende “godsdiensoorloë” van die ou Europa was ’n mengsel van godsdienstige onverdraagsaamheid, politieke magstryd en gevegte om beheer van mense, grond en hulpbronne. Dit het die sekulêre wensdenkers laat glo dat, namate geloof verdwyn, die wêreld ook ’n veiliger plek sou word.

Die liberale en sosialistiese vryheidsoorloë teen outoritêre koningshuise was daarom meermale ook gesien as ’n stryd teen godsdiens se “onderdrukking” van die mens se vryheid en sy reg om vir homself ’n aardse paradys te skep. Godsdiens is gesien as die “opium van die volk” wat die massas onderdanig aan hul verdrukkers gehou het.

Daarteenoor het revolusionêre bewegings ook die geloof en die kerke ingespan om hulle waens deur die politieke driwwe te trek. Dink maar aan die teologie van die revolusie wat vir ’n lang tyd die godsdienstige wêreld tot die ondersteuning van wapengeweld gedryf het.

Dit is inderdaad so dat mo­dernisering ’n belangrike rol gespeel het in die Europese oorgang na ’n post-Christelike era. Ná die Wêreldoorloë het mil­joe­ne mense begin glo dat God dood is en dat die  sg “almagtige” welsyn­staat of werkersparadys sy plek ingeneem het. Maar tot die sekulêre wensdenkers se ontnugtering het dit algaande duidelik geword dat politieke “geloofsbewegings” net tydelik die plek van die kerke ingeneem het.

Hierdie ideologiese bewegings het gestreef na ’n aardse hemel en het baie van die sielkundige en sosiale funksies van geloofsbewegings aangeneem. Vir ’n wyle het veral kommunisme betekenis gegee aan die lewens van miljoene mense wat hul drome van hemel op aarde geglo het. Ná die val van die kommunisme was miljoene Westerlinge baie verlig dat hul Europese demokratiese welsyns­­­­hemel, of Amerikaanse kapitalistiese utopie nog steeds volstoom sake gaan doen. Hulle het God nie meer nodig gehad nie, want die staatsgod of geldgod sou nou vir hulle kon sorg. Die top Amerikaanse skrywer Francis Fukuyama, het na die val van die muur in ekstase in sy boek “The End of History” aangekondig dat die historiese konflik tussen ideologieë nou finaal beslis is in die guns van die “goue tweeling”, Westerse demokrasie en kapitalisme. Volgens hom het minagtende Marxiste en ongeduldige liberales op godsdiens neergesien as ‘n oudmodiese swakheid. Die Economist se jaar 2000 uitgawe het selfs ‘n “Grafskrif” geskryf waarin God se “einde” saam met die ou eeu voorspel is. ‘n Goue era van vrede en voorspoed sonder ideologiese verdelingslyne is voorspel.

Hierdie ideologiese verwaandheid het uiteindelik gelei tot ’n tipe sekulêre fundamentalisme, gekenmerk deur ’n onverdraagsaamheid teenoor geloof of gelowiges. Hul geloof in menslike saligheid deur ongeloof, het meermale gelei tot die intellektuele vervolging van gelowiges en die bespotting van die geloof in die massamedia. Die militante geloof van talle sekulêre Westerlinge in hul (ongelowige) lewenswyse het bygedra tot onbedoelde gevolge soos die opkoms van militante Islam.

IN die derde wêreld het dit nie anders gegaan nie. Die stryd teen kolonialisme was meestal ook ‘n stryd vir sekulêre modernisasie. Afrika se nuwe regeerders het die Sendingskole genasionaliseer en godsdiens saam met etnisiteit weggewens as struikelblokke vir ontwikkeling. Maar teen die einde van die sewentigers was daar ‘n godsdienstige teenrewolusie aan die gang.

Maar die wêreld het nie stilgestaan nie.  Geleerdes soos Harvard Universiteit se Sameul Huntington het reeds in 1993 in sy “Clash of Civilizations” die nuwe wêreldera na die tydperk van die groot ideologieë uitgespel. Volgens hom het 7 of 8 “beskawingsblokke” wat grootliks religieus baseer was, die plek van die groot ideologieë ingeneem.  Mense sou nie meer gedefinieer word op grond van die ideologie waaraan hulle glo nie, maar volgens wat hulle is- hulle kultuur of religie. Die 8 is: Westerse Christendom, Islam, Ortodoks, Japans, Afrika, Chinees, Hindu, en Suid-Amerika.

Die nuwe verdeling- en groeperingslyne sou volgens Huntington die raakpunte tussen hierdie beskawings wees, soos Sarajewo waar die Islam, Christendom en die Ortodokse Christendom by mekaar aansluit. Waar Huntington vir ‘n paar jaar geweldig aangeval en selfs belaglik gemaak is, het sy globale denkraamwerk meer en meer geloofwaardigheid bygekry namate die nuwe wêreld na die val van die muur beslag gekry het.

Met die val van polities-utopiese gelowe soos die kommunisme, het miljoene mense begin terugkeer na hul tradisionele godsdiens, in baie ge­valle ongelukkig na ekstreme vorme daarvan. Die vraag is wat gaan die gevolge wees van die ekonomiese krisis wat stormsterkte-afmetings in die Weste aangeneem het? Gaan dit ’n ekonomiese krisis bly of gaan dit gevolge inhou vir die ongelowige Westerlinge se vertroue in hul eie hemel op aarde? Gaan dit ook, soos in ander wêrelddele, lei tot ’n terugkeer na die evangelie van Jesus Christus noudat mensgemaakte afgode nie meer reën maak nie? Gaan die post-Christelike Europa agterkom dat hulle geloof in ongeloof toe al die tyd ‘n bygeloof was? Mag dit gebeur dat Europa weer die ware God ontdek met die besef dat sekulêre ideologieë mensgemaak is en dat hulle geloof in die Welsynstaat op sand gebou was.

Die feit is dat waar religie in die twintigste eeu as ‘n faktor in wêreldbesluite afgeskryf is, meen invloedryke tydskrifte soos die Economist dat religie in die nuwe eeu ‘n sentrale rol gaan speel, gedryf deur dit wat dit eintlik moes vernietig, soos Globalisering, die Inligtingsrewolusie en modernisering.  Buite Wes-Europa het religie ‘n sterk terugkeer na die openbare terrein gemaak. In die VSA is dit veral die Protestantse Christendom wat aan die opkom is. ‘n Islamitiese party regeer vandag die tradisioneel sekulêre Turkye. In Indië het ‘n Hindu-gesinde party oorgeneem. As mens na die huidige neigings kyk, gaan China mettertyd die grootste Christen én Moslem land ter wêreld word. In Rusland het die geheime polisie ‘n Ortodokse kerk oorkant hulle hoofkwartier opgerig, nadat die KGB lank die kerk beveg het.

Dit is volgens die Economist ook insiggewend dat die “selftwyfel” weergawe van godsdiens nie vordering maak nie, maar veel eerder die wat hulle beskou as die fundamentalistiese weergawes daarvan. Dit lyk of diegene wat nie meer die waarheid suiwer en reguit stel nie maar alles relativeer en verwater, juis hulle volgelinge verloor. As die Duitse priester self nie meer glo nie, hoe kan hy verwag dat die bevolking nog sal glo?

Maar die heropkoms van godsdiens vertel nie die hele verhaal nie. Behalwe dat dit ongelukkig nie net die Christendom is wat groei nie maar valse godsdienste ook, skep die herlewing ook ‘n militante teenreaksie. Is dit nie maar ook waarmee ons tans in Suid-Afrika ook te doen kry nie? ‘n Mens kan nie vandag byna nie meer ‘n Afrikaanse koerant oopmaak sonder om ‘n aanval op die Christendom te moet aanskou nie. Dit lyk byna of daar ‘n samespanning is tussen die joernalistieke elite, heidense wetenskaplikes, Bybel- betwyfelende  godsdiens departemente by sommige universiteite, en skrywers en digters wat mekaar vertrap om uit die kas uit te klim.

Die punt wat ek wil maak is dat die wêreld besig is om te verander, en dat ons as Christen Gereformeerdes sterk en vol moed moet wees, in die wete dat God Almagtig is en dat ons die roeping het om Sy Woord en Sy Waarheid te versprei. My vraag is of ons hierdie roeping nakom, of ons Die Lig laat skyn en of ons nie soms agter die veiligheid van ons kerkmure teen die wêreld skuil in plaas van om hulle te bekeer en evangeliseer nie?

  1. Die Groot prentjie van makro veranderings in Suid-Afrika

 Dit is ongelukkig so dat die Suid-Afrikaanse staat oor die afgelope dekade geweldig verswak het terwyl die probleme waarvoor ons land te staan kom baie vergroot het. Dit is dus ‘n slegte kombinasie van groter probleme wat met ‘n kleiner vermoë aangepak moet word. Die verswakking van feitlik al die sleutel instellings van ons staat het meegebring dat die staat nie meer sy kernfunksie soos die beskerming van sy burgers kan uitvoer nie. Daarbenewens het baie ander instellings al so verswak dat daar landswyd opstande oor swak dienslewering uitgebreek het. Ons openbare skole en opleidings kolleges, hospitale, munisipaliteite, en veiligheidsdienste het dramaties verswak, sonder ‘n geloofwaardige vooruitsig op verbetering, en met die vooruitsig van versnelde verswakking nie uitgesluit nie. Hiermee is ek nie pessimisties nie. My bekommernis spruit uit die feit dat die oorsake van die verswakking so ‘n sentrale deel van die regerende party se ideologie en beleid is dat hulle dit nie sal kan verander nie. Ons minister van Arbeid sien nie in dat sy Transformasiebeleid ‘n groot deel van die skuld vir die bykans rewolusionêre gees onder die arm massas moet kry nie, en dreig inteendeel die privaatsektor met optrede omdat hulle gebrek aan sy transformasie model rewolusie sou veroorsaak.

Daarby het die demografiese omwenteling in die land agv die onbeheerste immigrasie van ongeskooldes en die emigrasie van hoogs geskooldes groot gevolge vir die land wat nog so nuut is dat dit nog glad nie deur beleidmakers (staat en  burgerlik) verreken is nie.

Die politieke en grondwetlike stelsel het ook verwagtings geskep waaraan die ekonomie nie aan kan voldoen nie, omdat 10% belasting betalers net nie vir almal kan sorg nie. Benewens die groter en groter las wat die produktiewe deel van die bevolking opgelê word, kry hulle ook bitter min vir hulle belasting geld, en moet hulle ten duurste vir privaat dienste betaal nadat hulle van die hoogste netto belasting in die wêreld betaal het. Dit is die belangrikste drywers van verarming in die wit gemeenskap, wat oa gesien kan word in die krimpende geskooldheid van hierdie groep wat op die langer termyn ook groot gevolge gaan hê. Dit ten spyte van die wit hoër middelklas se goeie ekonomiese aanpassing by die nuwe bedeling, ten spyte van die omwentelings.

Die groot jammerte van die groot Suid-Afrikaanse oorgang was dat die meeste van die Afrikaner se burgerlike instellings nie die politieke grondverskuiwing oorleef het nie. Vir die meeste mense was vangnette of sagte landings nie moontlik nie, en is dit ‘n belangrike deel van die verklaring van die reuse emigrasie na ander lande. Mense voel eenvoudig dat die land se staatsinstellings verswak en selfs kan verval, dat daar nie alternatiewe gemeenskap- instellings is nie, en dat daar dus nie vir hulle of hul kinders ‘n toekoms is nie. Die winsgedrewe privaatinstellings soos mediese fondse, privaat sekuriteit, ommuurde dorpe en privaat opleiding raak vir baie net te duur.

Ons sukkel vandag steeds om sterk burgerlike instellings met uitvoerende vermoë te skep, deels moontlik omdat die Afrikaner die slagoffer van sy eie suksesvolle modernisering was. Dié wat welvarend geword het op die golf van die vorige geslag se kollektiewe pogings om hulle gemeenskap ekonomies, polities en kultureel te bemagtig, het ‘n roepingsbesef  teenoor hul gemeenskap vir individuele welvaart verruil. Hulle probeer sekerheid met hul geld koop.

Die Gereformeerde Kerke sal dus in die toekoms hulle rol moet speel in ‘n verswakkende Suid-Afrika waar net die welvarendes op die medium termyn nog gehalte dienste sal kan bekostig, in ‘n omgewing waar die markekonomie en sy instellings onder ál groter linkse druk gaan kom, en waar baie welvarende lidmate en –individue bloot na hulleself gaan omsien.

Die vraag is wat die kerk se rol in so ’n toekoms gaan wees?

  1. Gevolge van die Suid-Afrikaanse omwenteling

 Dit lei nie twyfel dat daar in die SA omwenteling sekere wenners, maar ongelukkig ook sekere verloorders was nie. (Prof Pierre du Toit). Die wenners was oa die nuwe politieke en burokraties elite (op alle regeringsvlakke), die nuwe ekonomiese magnate en die opkomende swart middelklas, en diegene wat deur regstellende aksie bevoordeel is. Verder is die meer as 12  miljoen ontvangers van maatskaplike toelaes ook beter daaraan toe.

Daarby kom daar die 250 000 huishoudings met suksesvolle grondeise, die sowat 3 miljoen nuwe huiseienaars, en die miljoene wat groter toegang tot dienste gekry het.

Van die verloorders is wit mans, almal wat deur geweld getref is (310 000 dood en 700 000 verkrag en hulle gesinne), gesinne en families wat deur emigrasie geraak is, die 2,5 miljoen wat sedert 1994 aan Vigs gesterf het, en die miljoene wat steeds arm is of voel dat hulle nie genoeg by die demokratiese veranderings gebaat het nie.

By verre die belangrikste kategorie van verloorders in die nuwe Suid-Afrika is egter die kinders.  Onlangse navorsing deur die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasse-Aangeleenthede (South African Institute of Race Relations) het daarop gewys dat die meeste Suid-Afrikaanse huisgesinne onderhewig is aan intense kragte van sosiale ontwrigting, met meetbare gevolge in die vorm van gesinsverbrokkeling, –aftakeling en -verval. Die omvang hiervan word kortliks geskets.

In 2007 (die jaar waarna meeste van die volgende demografiese data verwys) is nagenoeg 3 679 000 kinders wees, hetsy met die sterfte van een of albei ouers.  Dit kom neer op ongeveer een uit elke vyf kinders.  Hierdie is ‘n stygende tendens, gesien die syfer van 2002 toe (slegs) 2 995 000 kinders wees was.  ‘n Stygende aantal van hierdie weeskinders verkry verdere versorging in omstandighede waar kinders (gedefinieer as 17 jaar en jonger) hoofde van huishoudings is.  Die aantal sulke huishoudings het met 25% vanaf 118 000 in 2002 tot 148 000 in 2007 gestyg.

Benewens kinders wat ouers verloor het deur sterftes, is daar ook huishoudings waar vaders wel lewe, maar wat hulle gesinne verlaat het.  Hierdie is ook ‘n stygende tendens in alle rassegroepe, behalwe die Indiër-bevolking, waar dit van 11% in 1993 tot 8% in 2002 gedaal het.  Onder swart/African gesinne het die persentasie afwesige vaders van 40% in 1993 tot 50% in 2002 gestyg, onder witmense vanaf 8% tot 11% in dieselfde jare, en bruines vanaf 32% tot 37% oor dieselfde tydperk.

‘n Verdere krag van verbrokkeling is egskeidings, waar die hoogste koers onder die wit bevolking is, en die laagste onder die swart/African bevolking is.  ‘n Laaste aspek van hierdie proses van sosiale verval is te vinde in die stygende patroon van enkelouerskap waar kinders gebore word buite familieverband en tienerswanger-skappe en -geboortes.  Die kumulatiewe effek van hierdie kragte is dat slegs een derde van alle Suid-Afrikaanse kinders groot word in huishoudings saam met albei hulle ouers.  Vier uit elke tien leef saam met net hulle ma, en bykans een uit elke vier (23%) leef sonder enige ouer, met ‘n skrale 3% wat groot word saam met net hulle pa. [1]

Bogenoemde beskrywing skets die buitelyne van ‘n nasionale krisis, wat verdiep het vanaf 2002.  Die sosiale omgewing van meeste kinders in Suid-Afrika is die produk van diepgaande sosiale ontwrigting.  Persoonlike faktore speel ‘n groot rol hierin, (soos in die geval van egskeidings), maar daar is groter sosiale kragte wat ook hierby betrek is.  Geweldsmisdaad, gemeet aan moord, poging tot moord en roof met verswarende omstandighede is ter sprake.  Die verlies aan lewens deur VIGS en tuberkulose, saam met ander noodlottige siektes is ter sake.  Albei hierdie kragte is vervleg in die bykomende konteks skeppende werking van armoede en ongelykheid, werkloosheid, swak onderwys en korrupsie in die aanwending van openbare fondse vir lewering van maatskaplike dienste.

Bogenoemde paragraaf omskryf die kroniese sindroom van onderontwikkeling waarin baie Suid-Afrikaners verval is.  Hierdie sindroom se oorsprong kan nog een stap verder terug gevind word.  Die effektiewe bekamping van VIGS, tuberkulose en ander potensieël noodlottige siektes berus onder andere by effektiewe staatsdepartemente vir die lewering van openbare gesondheidsdienste.  So ook is die bekamping van misdaad terug herleibaar na ‘n effektiewe kriminele regstelsel, vanaf die polisiëring dienste tot die howe en tronke.  Armoede, werkloosheid en ongelykheid is die verantwoordelikheid van die regering van die dag, wat die opvoedkundige stelsel en die nasionale ekonomie moet bestuur om beide die skep van rykdom en die herverdeling daarvan te bevorder.  Kortom, ‘n sterk en effektiewe staat word benodig.  Maar, soos in die boek van Pottinger deegliks uitgewys word, is die nalatenskap van die nege jaar van die Mbeki-bewind juis die teenoorgestelde, die aftakeling van die staat in ‘n proses wat hy beskryf as de-modernisasie.[2]

Eweneens word ‘n sterk burgerlike samelewing benodig.  Die staat kan as ‘n aktiewe party lewensomstandighede bevorder vir die behoud en instandhouding van gesinne, soos hierbo aangedui.  Maar die staat kan nie mense motiveer om te belê in hulle huwelike nie, en kan nie mans verhoed om weg te loop van hulle vrouens en kinders nie.  Sosiale norme, gesetel in kulturele (hoofsaaklik godsdienstige) praktyke en instellings is net so belangrik.  Nie net gesinne nie, maar gemeenskappe moet hegter ingebind word, eerder as om uit te rafel en te atomiseer.  Dit verg die herskepping van sosiale kapitaal, waar persone mekaar intrek in sosiale netwerke van wedersydse hulpverlening gebaseer op die norme van wederkerigheid, onderlinge vertroue, en gelykheid.

Die politieke implikasies van verbrokkeling van die gesin en die basiese eenheid van sosiale samehorigheid, is belangrik.  Alhoewel op die oog af relatief verskuil van die openbare …

Derdens, gegewe bogenoemde, het hierdie krisis nie die potensiaal om Suid-Afrika weer langs dieselfde verdelingslyne soos voor 1994 te polariseer nie. Inteendeel, die kumulatiewe effek van bogenoemde kragte skep die vooruitsig van verbrokkeling eerder as fragmentasie.  Die verbrokkeling van gesinne, families, en gemeenskappe is die begin van hierdie proses, waar die basiese eenhede van sosiale orde afgetakel word.  Die volgende vlak van verbrokkeling is waar die sosiale samehorigheid en kohesie wat die burgerlike samelewing uitmaak, bedreig word.  Dit skep die basis vir die vestiging van nuwe, patologiese plaasvervangende eenhede van sosiale orde in die vorm van misdaad-sindikate en krygshere wat die grense tussen politiek en misdaad berekend aftakel.

Hierdie krisis is ook besig om die demokratiese skikking van 1994 af te takel.  ’n Vredesdividend wat oneweredige opbrengste oplewer, sigbare armoede, werkloosheid en die ooglopende en opvallende luukse lewenstyle van die nuwe élites, skep stygende frustrasie by die gewone publiek.  Tot onlangs is hierdie frustrasie getemper deur ‘n politieke kultuur onder die regerende party se ondersteuners waar lojaliteit nog beleidsmislukkings troef.  Straatpolitiek uit protes teen swak dienslewering het egter sedert 2004 ‘n standhoudende kenmerk van ons politieke landskap geword.[3]  Die ongelyke opbrengste van die vredesproses en die demokratiese skikking kom nou tot uiting in hierdie vorm van straatpolitiek juis op ‘n stadium wanneer die mense wat die meeste ontbeer die naaste is aan ontsnapping daaruit.  In formele terme is die drempel in 1994, met die demokratiese regstaat gehaal.  Die konkrete bereiking van ‘n beter lewe is ook tergend naby.  Baie het dit wel reeds bereik.  Maar vir dié wat dit nog nie het nie, word die ontbering des te meer pynlik hoe nader hulle aan die drempel kom.  Hulle ervaar die persepsie van verlies op ‘n intense manier wanneer iets wat sopas ingepalm is verloor word, en wanneer die bereiking van ‘n doel gedwarsboom word net wanneer dit amper bereik is.  Donald L. Horowitz se tweeledige hipotese is hier ter sake: “a grievance is most poignant when it is almost redressed”, en “the impetus for violence to seek a gain increases as the distance from the goal decreases.”[4]

Vir my wys al hierdie bogenoemde dat daar ‘n noodkreet in die land is vir die vestiging en die hervestiging van ‘n Christelik-gereformeerde waardestelsel wat die liefde van Christus na die stukkende gesinne en families moet bring.

  1. Ons Gereformeerde Erfenis

 My gevolgtrekking is dat daar as gevolg van die omwentelings in die wêreld en in ons land ‘n soeke en smagting na die Waarheid is. Dit bied ‘n ongeëwenaarde geleentheid aan ons as Gereformeerdes om ons lig te laat skyn in hierdie duisternis om ons. Maar dan moet ons nie net ‘n interne fokus hê nie, ons moet nie net met onsself besig wees nie, ons moet ‘n sterk eksterne fokus ook hê. Ons mense is soekend. As ons nie vir hulle die antwoorde gaan gee nie, gaan hulle dit op verkeerde plekke soek. Ons kerke word nie voller nie, maar Angus Buchan en Greta Wild se saamtrekke word goed bygewoon. En dan praat ek nie eers van al die ander sogenaamde antwoorde nie.

Ons leef vandag ín ‘n oop geglobaliseerde wêreld, waar die kommunikasie rewolusie dit nie meer moontlik maak om ongewenste inligting te beheer nie. Pornografie en duiwelsdrek is op enige selfoon of rekenaar te kry. In ons verbrokkelde gesinne maak die TV en Rekenaar meermale ons kinders groot, en nie meer die ouers en die Bybel nie.

Vir my as ‘n gewone gelowige kerkganger lyk dit soms of die teoloë die meeste oor die Bybel twyfel, wat die skape geweldig verwar. Dan sit ons ook in Afrikaanse geledere met die golwe van woede wat die wêreld laat losbreek oor die gelowige en sy kerke.

Daarom moet ons in hierdie Calvyn gedenkjaar weer opnuut kyk na ons Erfenis, en dit onbeskaamd en onbeskroomd uitdra met elke middel wat ons kan. Ons moet nie die heeltyd op die verdediging wees nie, ons moet  op die “aanval” wees. Ons maak te min van die wonderlike erfenisse van die Protestantse Hervorming. Ons roep nie meer ons mense genoeg op om hulle roepings na te kom nie, ons mag nie toelaat dat die negatiewe feite ons regeer nie, ons moet net op ons opdrag fokus. God is Almagtig. Ons moet nie te klein dink en te  min van onsself verwag nie. Wat keer ons byvoorbeeld om ‘n reuse beursfonds op die been te bring om Christelik-Gereformeerde onderwys op alle vlakke en in al sy  fasette te bevorder?

Ja, die wêreld is omgekrap, maar as Christen Gereformeerde gelowige voel ek rustig, omdat ek weet dat God regeer. Hy is Almagtig, en Hy beskik oor alles. Ons mag ons nie laat afskrik nie. Mag die Here ons help om ons roepings gehoorsaam na te kom. Kom laat ons sterk en vol moed wees.

 Bronne:

[1]     John Kane-Berman, “A Risk not Recognised”, Fast Facts, no. 7/2009, July 2009, p. 1; Gail Eddy, “Unhappy Families”, Fast Facts, no. 7/2009, July 2009, pp. 2-3.

[2] Brian Pottinger, The Mbeki Legacy, Cape Town: Zebra Press, 2008.

[3]    Doreen Atkinson, “Taking to the streets: has developmental local government failed in South Africa?,”  Buhlungu, S. et al., (eds.), State of the Nation, South Africa 2007, Pretoria: HSRC Press, 2007, pp. 53-77.

 

[4]   Donald, L. Horowitz, The Deadly Ethnic Riot, Berkeley: University of California Press, 2001, p. 343.

Spreekbuys: Kom ons word deel van die oplossing

Meer as 2 500 jaar gelede moes jong mans in Antieke Griekeland wat diensplig moes doen om burgerskap van die Atheense stadstaat te kry, ’n merkwaardige eed aflê. Hierdie eed, en dit wat dit onderlê, het die grondslag van die Westerse kultuur en beskawing geword.

Die 18-jarige mans moes beloof om hulle stad en die erfenis wat hulle van hul voorgeslagte gekry het, te bewaar, te verbeter, en dan soos ’n aflosstokkie vir die volgende geslag aan te gee. Daarby moes hulle onderneem om hul gemeenskap dapper te verdedig, die stad se wette eerlik te gehoorsaam, hul regeerders teen te staan as dié nie eerbaar optree nie, burgerlike verantwoordelikheid vir hulle stad en sy mense te neem, en om die God van hul vaders te dien.

Hierdie eed met sy kern van bewaring en verbetering het oor die eeue in baie vorme weerklink, maar die wese daarvan was altyd dieselfde. Dit is dat ’n gemeenskap ’n verbond is tussen dié wat reeds dood is, dié wat vandag lewe en dié wat nog gebore moet word. Dit beteken dat ’n volk gesien is as ’n onbreekbare ketting van geslagte, waar elke skakel vir sy eie tyd verantwoordelikheid moes neem. Elke geslag moet dit wat hul ontvang, verbeter, maar hul mag dit nie weggee of ten gronde laat gaan nie, want dit is nie net hulle s’n nie. Dit behoort aan die ketting van geslagte wat in die waas van die eeue ontstaan het, en tot in die verre toekoms in strek.

Die wese van die Westerse sukses oor die eeue spruit dus in wese daaruit dat Westerlinge histories dít wat ons van ons voorgeslagte gekry het, bewaar en verbeter het, en dit weer na die volgende geslag oorgedra het. Elke geslag het net verder en hoër gebou as die vorige een. Almal begin nie weer voor, staan stil of steek in die verlede vas nie. Hierdie Westerse kultuurskat is deur sterk instellings soos skole, stede, gemeenskapsorganisasies en ander instellings van geslag tot geslag bewaar en oorgedra na die volgende geslag. Die Westerse kultuur was en is nie volmaak nie, en het hulself nes ander groot beskawings aan gruwels soos slawerny, verwoestende oorloë, verdrukking en uitbuiting skuldig gemaak. Die grootheid van die Weste lê dus nie daarin dat hul kultuur volmaak is nie, maar dat die Weste in staat was om hulle foute te verbeter.

 

Van Riebeeck se skatkis

Hierdie Westerse kultuurskat is deur Jan van Riebeeck na Suid-Afrika gebring, en het stelselmatig na die binneland uitgebrei deur historiese bewegings soos die Groot Trek. Die kulturele skatkis het bestaan uit “hardeware” soos die markekonomie, die regsorde, wetenskap en tegnologie, stede en infrastruktuur, asook “sagteware” soos beskryf in die Atheense Eed, naamlik persoonlike verantwoordelikheid, ondernemerskap, werksetiek, Christelike waardes en roepingsbesef. Dit beteken nie dat alles wat Van Riebeeck met die skip hier aangebring het of die Trekkers met hulle waens na die binneland geneem het net reg en volmaak was nie, maar die kern van deurlopende bewaring, regstelling en oordra na die opvolgende geslagte het die kultuur heeltyd verder verbeter.

Dit het ook deel geword van Afrikaners se “geboortepapiere” oftewel stigtingsdokumente. Dink maar aan pres. Kruger se laaste boodskap van “neem uit die verlede wat skoon en mooi is en bou die toekoms daarmee”, en Langenhoven se bede in die laaste vers van “Die Stem” waar hy vra “… Dat die erwe van ons vaders vir ons kinders erwe bly”. Hierdie kulturele skatkis is veel meer as braaivleis, rugby en sonneskyn. Dit is ’n werkende land, ’n produktiewe ekonomie, ’n regverdige regsorde, ’n eerbare demokratiese regering, bekwame staatsadministrasie, ’n produktiewe en goed betaalde werksmag. Dit is wêreldklas stede en goed regeerde dorpe, goeie skole en wêreldklas kolleges en universiteite. Dit is ’n moderne samelewing met al die dienste en geriewe wat daarmee gepaard gaan, soos werkende hospitale, paaie, huise en infrastruktuur. Hierdie skat van ons kultuur moet ons – soos Van Wyk Louw so treffend sê – veilig “deur die massa dra” en vir die volgende geslag bewaar.

Albert Einstein het hierdie oordrag tussen geslagte pragtig soos volg aan ’n groep kinders gestel: “Die wonderlike dinge wat julle in jul skole leer, is die werk van talle geslagte. Al dié dinge word in jul hande geplaas as jul erfenis sodat julle dit kan ontvang, eer, verder daartoe bydra, en eendag dit getrou aan jul kinders kan oorhandig.”

Elke geslag dink hy is slimmer as die vorige en wyser as die volgende geslag, het George Orwell gesê. Daarom lewer mense vandag vurige kritiek op ons voorouers, want hulle weet nie wat die omstandighede was waarin hulle moes leef nie. Terselfdertyd besef ons nie altyd hoe belangrik dit is om te bewaar wat ons gekry het nie, want ons aanvaar dit as vanselfsprekend.

Die historikus prof. Hermann Giliomee het gesê dit is verstommend watter gebrek aan strategiese denke daar by Afrikaners in sleutelposisies is. Dit gaan ver terug in die onlangse geskiedenis. Eers is daar ’n totale oorskatting van mag, en dan dieselfde totale onderskatting van middele tot jou beskikking wat vir ’n goeie doel aangewend kan word. En, o, die dwingende begeerte om af te gee, prys te gee en oor te gee in die waan dat dit die moreel regte ding is om te doen.

 

Ons geslag se taak

Die geskiedenis gee aan elke geslag ’n taak. Sommiges kry makliker take as ander. Party kry baie, ander moet baie gee. Maar omdat –

  • daar ’n verbond tussen die geslagte is,
  • ’n beskawing ’n ketting van geslagte is wat soos met ’n afloswedloop dít wat jy kry, moet bewaar en vir die volgende geslag aangee, en
  • die een geslag van die vorige en die volgende een afhanklik is,

beteken dit dat as net een geslag nie sy taak opneem nie, daardie ketting vir altyd verbreek is. Dan gaan daardie beskawing onder, verskraal tot ’n voetnota in ’n geskiedenisboek.

Die geslagte voor ons het met groot uitdagings te kampe gehad. Die een geslag moes die Groot Trek aanpak, die volgende een die Anglo-Boereoorlog. Daarna het die modernisering van Afrikaans gevolg waardeur die land opgebou is. Die volgende geslag moes die Koue Oorlog en die Grensoorlog trotseer en het die volkereverhoudingsprobleem onsuksesvol probeer oplos deur sogenaamde “afsonderlike vryhede.” Die volgende geslag moet ’n oplossing vind vir meerderheidsregering wat in meerderheidsoorheersing begin ontaard.

 

Selfbestuur

Die harde waarheid is dat staatsbestuur van bo af besig is om te misluk, en dat ons groeiende selfbestuur van onder af sal moet bou met sterk gemeenskapsorganisasies. Hoe hoër die vlakke van selfbestuur wat ons op elke gebied bou, hoe meer vryheid sal ons hê.

Vryheid is uiteindelik die enigste waarborg vir veiligheid, vir ’n voorspoedige ekonomie, vir ons lede se werk, vir gelykheid, vir reg en geregtigheid, vir werkende dienste, vir goeie skole, en vir ’n toekoms vir ons kinders.

Ons mense het deur hul vindingrykheid, skeppende vermoë en ondernemingsgees wêreldklasprestasies op alle gebiede bereik: medies, sport, wetenskap, sake, kultuur en die kunste. Daarom is ons geslag se taak om dieselfde vermoë aan te wend om op staatkundige gebied weer al hierdie elemente in ’n samehangende plan in te weef. Dit is ’n voorwaarde vir volhoubare werksgeleenthede en ’n goeie werk in hierdie land.

(Bron: Solidariteit Tydskrif, Januarie 2020)

Inleiding
Hoofstuk 1
Hoofstuk 2
Hoofstuk 3
Hoofstuk 5
Hoofstuk 7
Hoofstuk 8
Hoofstuk 12
Hoofstuk 15
Hoofstuk 16
Hoofstuk 17
Hoofstuk 19
Hoofstuk 20
Hoofstuk 21
Hoofstuk 22
Hoofstuk 23
Hoofstuk 25
Hoofstuk 27
Hoofstuk 28
Hoofstuk 31
Hoofstuk 32
Hoofstuk 34
Slot

Geskiedenisfonds

ʼn Fonds wat help om die Afrikanergeskiedenis te bevorder.

FAK

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) is reeds in 1929 gestig. Vandag is die FAK steeds dié organisasie wat jou toelaat om kreatief te wees in jou taal en kultuur. Die FAK is ’n toekomsgerigte kultuurorganisasie wat ’n tuiste vir die Afrikaanse taal en kultuur bied en die trotse Afrikanergeskiedenis positief bevorder.

Solidariteit Helpende Hand

Solidariteit Helpende Hand fokus op maatskaplike welstand en dié organisasie se groter visie is om oplossings vir die hantering van Afrikanerarmoede te vind.

Solidariteit Helpende Hand se roeping is om armoede deur middel van gemeenskapsontwikkeling op te los. Solidariteit Helpende Hand glo dat mense ʼn verantwoordelikheid teenoor mekaar en teenoor die gemeenskap het.

Solidariteit Helpende Hand is geskoei op die idees van die Afrikaner-Helpmekaarbeweging van 1949 met ʼn besondere fokus op “help”, “saam” en “ons.”

Forum Sekuriteit

Forum Sekuriteit is in die lewe geroep om toonaangewende, dinamiese en doeltreffende privaat sekuriteitsdienste in

Suid-Afrika te voorsien en op dié wyse veiligheid in gemeenskappe te verhoog.

AfriForumTV

AfriForumTV is ʼn digitale platform wat aanlyn en gratis is en visuele inhoud aan lede en nielede bied. Intekenaars kan verskeie kanale in die gemak van hul eie huis op hul televisiestel, rekenaar of selfoon verken deur van die AfriForumTV-app gebruik te maak. AfriForumTV is nóg ʼn kommunikasiestrategie om die publiek bewus te maak van AfriForum se nuus en gebeure, maar ook om vermaak deur films en fiksie- en realiteitsreekse te bied. Hierdie inhoud gaan verskaf word deur AfriForumTV self, instellings binne die Solidariteit Beweging en eksterne inhoudverskaffers.

AfriForum Uitgewers

AfriForum Uitgewers (voorheen bekend as Kraal Uitgewers) is die trotse uitgewershuis van die Solidariteit Beweging en is die tuiste van Afrikaanse niefiksie-, Afrikanergeskiedenis- én prima Afrikaanse produkte. Dié uitgewer het onlangs sy fokus verskuif en gaan voortaan slegs interne publikasies van die Solidariteit Beweging publiseer.

AfriForum Jeug

AfriForum Jeug is die amptelike jeugafdeling van AfriForum, die burgerregte-inisiatief wat deel van die Solidariteit Beweging vorm. AfriForum Jeug berus op Christelike beginsels en ons doel is om selfstandigheid onder jong Afrikaners te bevorder en die realiteite in Suid-Afrika te beïnvloed deur veldtogte aan te pak en aktief vir jongmense se burgerregte standpunt in te neem.

De Goede Hoop-koshuis

De Goede Hoop is ʼn moderne, privaat Afrikaanse studentekoshuis met hoë standaarde. Dit is in Pretoria geleë.

De Goede Hoop bied ʼn tuiste vir dinamiese studente met Christelike waardes en ʼn passie vir Afrikaans; ʼn tuiste waar jy as jongmens in gesonde studentetradisies kan deel en jou studentwees met selfvertroue in Afrikaans kan uitleef.

Studiefondssentrum

DIE HELPENDE HAND STUDIETRUST (HHST) is ʼn inisiatief van Solidariteit Helpende Hand en is ʼn geregistreerde openbare weldaadsorganisasie wat behoeftige Afrikaanse studente se studie moontlik maak deur middel van rentevrye studielenings.

Die HHST administreer tans meer as 200 onafhanklike studiefondse namens verskeie donateurs en het reeds meer as 6 300 behoeftige studente se studie moontlik gemaak met ʼn totaal van R238 miljoen se studiehulp wat verleen is.

S-leer

Solidariteit se sentrum vir voortgesette leer is ʼn opleidingsinstelling wat voortgesette professionele ontwikkeling vir professionele persone aanbied. S-leer het ten doel om werkendes met die bereiking van hul loopbaandoelwitte by te staan deur die aanbieding van seminare, kortkursusse, gespreksgeleenthede en e-leer waarin relevante temas aangebied en bespreek word.

Solidariteit Jeug

Solidariteit Jeug berei jongmense voor vir die arbeidsmark, staan op vir hul belange en skakel hulle in by die Netwerk van Werk. Solidariteit Jeug is ʼn instrument om jongmense te help met loopbaankeuses en is ʼn tuiskomplek vir jongmense.

Solidariteit Regsfonds

ʼn Fonds om die onregmatige toepassing van regstellende aksie teen te staan.

Solidariteit Boufonds

ʼn Fonds wat spesifiek ten doel het om Solidariteit se opleidingsinstellings te bou.

Solidariteit Finansiële Dienste (SFD)

SFD is ʼn gemagtigde finansiëledienstemaatskappy wat deel is van die Solidariteit Beweging. Die instelling se visie is om die toekomstige finansiële welstand, finansiële sekerheid en volhoubaarheid van Afrikaanse individue en ondernemings te bevorder. SFD doen dit deur middel van mededingende finansiële dienste en produkte, in Afrikaans en met uitnemende diens vir ʼn groter doel aan te bied.

Ons Sentrum

Die Gemeenskapstrukture-afdeling bestaan tans uit twee mediese ondersteuningsprojekte en drie gemeenskapsentrums, naamlik Ons Plek in die Strand, Derdepoort en Volksrust. Die drie gemeenskapsentrums is gestig om veilige kleuter- en/of naskoolversorging in die onderskeie gemeenskappe beskikbaar te stel. Tans akkommodeer die gemeenskapsentrums altesaam 158 kinders in die onderskeie naskoolsentrums, terwyl Ons Plek in die Strand 9 kleuters en Ons Plek in Volksrust 16 kleuters in die kleuterskool het.

Skoleondersteuningsentrum (SOS)

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se visie is om die toekoms van Christelike, Afrikaanse onderwys te (help) verseker deur gehalte onderrig wat reeds bestaan in stand te (help) hou, én waar nodig nuut te (help) bou.

Die SOS se doel is om elke skool in ons land waar onderrig in Afrikaans aangebied word, by te staan om in die toekoms steeds onderrig van wêreldgehalte te bly bied en wat tred hou met die nuutste navorsing en internasionale beste praktyke.

Sol-Tech

Sol-Tech is ʼn geakkrediteerde, privaat beroepsopleidingskollege wat op Christelike waardes gefundeer is en Afrikaans as onderrigmedium gebruik.

Sol-Tech fokus op beroepsopleiding wat tot die verwerwing van nasionaal erkende, bruikbare kwalifikasies lei. Sol-Tech het dus ten doel om jongmense se toekomsdrome met betrekking tot loopbaanontwikkeling deur doelspesifieke opleiding te verwesenlik.

Akademia

Akademia is ’n Christelike hoëronderwysinstelling wat op ’n oop, onbevange en kritiese wyse ’n leidinggewende rol binne die hedendaagse universiteitswese speel.

Akademia streef daarna om ʼn akademiese tuiste te bied waar sowel die denke as die hart gevorm word met die oog op ʼn betekenisvolle en vrye toekoms.

AfriForum Publishers

AfriForum Uitgewers (previously known as Kraal Uitgewers) is the proud publishing house of the Solidarity Movement and is the home of Afrikaans non-fiction, products related to the Afrikaner’s history, as well as other prime Afrikaans products. The publisher recently shifted its focus and will only publish internal publications of the Solidarity Movement from now on.

Maroela Media

Maroela Media is ʼn Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela-gemeenskap wil wees. Maroela Media se Christelike karakter vorm die kern van sy redaksionele beleid.

Kanton Beleggingsmaatskappy

Kanton is ʼn beleggingsmaatskappy vir eiendom wat deur die Solidariteit Beweging gestig is. Die eiendomme van die Solidariteit Beweging dien as basis van die portefeulje wat verder deur ontwikkeling uitgebrei sal word.

Kanton is ʼn vennootskap tussen kultuur en kapitaal en fokus daarop om volhoubare eiendomsoplossings aan instellings in die Afrikaanse gemeenskap teen ʼn goeie opbrengs te voorsien sodat hulle hul doelwitte kan bereik.

Wolkskool

Wolkskool is ʼn produk van die Skoleondersteuningsentrum (SOS), ʼn niewinsgewende organisasie met ʼn span onderwyskundiges wat ten doel het om gehalte- Afrikaanse onderrig te help verseker. Wolkskool bied ʼn platform waar leerders 24-uur toegang tot video-lesse, vraestelle, werkkaarte met memorandums en aanlyn assessering kan kry.

Ajani

Ajani is ‘n privaat geregistreerde maatskappy wat dienste aan ambagstudente ten opsigte van plasing by werkgewers bied.

Ajani is a registered private company that offers placement opportunities to artisan students in particular.

Begrond Instituut

Die Begrond Instituut is ʼn Christelike navorsingsinstituut wat die Afrikaanse taal en kultuur gemeenskap bystaan om Bybelse antwoorde op belangrike lewensvrae te kry.

Sakeliga

ʼn Onafhanklike sake-organisasie

Pretoria FM en Klankkoerant

ʼn Gemeenskapsgebaseerde radiostasie en nuusdiens

Saai

ʼn Familieboer-landbounetwerk wat hom daarvoor beywer om na die belange van familieboere om te sien deur hul regte te beskerm en te bevorder.

Ons Winkel

Ons Winkels is Solidariteit Helpende Hand se skenkingswinkels. Daar is bykans 120 winkels landwyd waar lede van die publiek skenkings van tweedehandse goedere – meubels, kombuisware, linne en klere – kan maak. Die winkels ontvang die skenkings en verkoop goeie kwaliteit items teen bekostigbare pryse aan die publiek.

AfriForum

AfriForum is ʼn burgerregte-organisasie wat Afrikaners, Afrikaanssprekende mense en ander minderheidsgroepe in Suid-Afrika mobiliseer en hul regte beskerm.

AfriForum is ʼn nieregeringsorganisasie wat as ʼn niewinsgewende onderneming geregistreer is met die doel om minderhede se regte te beskerm. Terwyl die organisasie volgens die internasionaal erkende beginsel van minderheidsbeskerming funksioneer, fokus AfriForum spesifiek op die regte van Afrikaners as ʼn gemeenskap wat aan die suidpunt van die vasteland woon. Lidmaatskap is nie eksklusief nie en enige persoon wat hom of haar met die inhoud van die organisasies se Burgerregte-manifes vereenselwig, kan by AfriForum aansluit.