Hierdie toespraak gaan oor die rol van burgerlike organisasies om verandering te bewerkstellig, en ek is gevra om die omvorming vanaf die Mynwerkersunie na Solidariteit as gevallestudie te gebruik. In die lig van die tydsbeperking gaan ek baie kort daaroor praat, ook omdat meer inligting beskikbaar is in die navorsing wat Prof Wessel Visser van Stellenbosch daaroor gedoen het. Daarna gaan ek meer in die algemeen praat oor die rol wat Afrikaanse burgerlike organisasies kan speel in die voorkoming en verligting van armoede.
Daarom gaan ek in my praatjie by ’n paar hoofpunte stilstaan:
- Die krisis waarin die MWU na 1994 verkeer het;
- Die vier golwe van strategiese verandering, hulle resultate, en die vyfde golf wat nou beplan word;
- Die noodsaak van ‘n herskikking in die Afrikaner kultuurgemeenskap;
- ‘n Breë raamwerkvoorstel om verandering deur ‘n burgerlike Afrikaner netwerk te bewerkstellig.
- Die krisis waarin die MWU na 1994 verkeer het
Die MWU is een van die oudste vakbonde in die land, en het in 1902 na die Tweede Vryheidsoorlog ontstaan. Die vakbond se geskiedenis is baie nou verweef met die land en spesifiek die Afrikaner- en blanke werkers se geskiedenis. Soos Prof Visser dit in die slotsom van sy boek stel: “In die geskiedenis van die Mynwerkersunie word tot ‘n belangrike mate ook die geskiedenis van Suid-Afrika weerspieël, en loop die historiese lotgevalle van die vakbond en dié van “blank Suid-Afrika” onlosmaaklik hand aan hand.”[1]
Maar die MWU was nie maar net deel van die land se geskiedenis nie, die vakbond het meermale geskiedenis help maak. Visser sê selfs dat die geskiedenis van die Mynwerkersunie gedurende die twintigste eeu die gang van die Suid-Afrikaanse politiek en ekonomie in ‘n belangrike mate beïnvloed het.”1
Maar dit het dramaties na 1994 verander. Suid-Afrika is vroeg in die negentigerjare getref deur ‘n dubbele rewolusie. In die eerste plek was daar die groot politieke veranderinge, wat die land gaandeweg totaal omskep het. Die twee groot magte van die tagtigers, die NP en die KP, kon nie die skielike magsverskuiwing oorleef nie en het ‘n dekade of wat later ontbind. Die skokgolwe van hierdie omwenteling het die twee magsblokke se stutorganisasies ook tot in hulle fondamente geskud. Baie het ondergegaan, terwyl ander gaandeweg verswak het of bloot op papier voortbestaan het. Net enkeles het die oorgang suksesvol oorleef.
Terselfdertyd het ‘n ekonomiese rewolusie ook die land oorspoel, in die vorm van globalisering. Dit het beteken dat ons gelyktydig met ‘n politieke én ekonomiese omwenteling van historiese omvang te doen gekry het. Dit het groot gevolge vir die land, die ekonomie, maar ook vir die Mynwerkersunie en sy lede gehad.
Die Mynwerkersunie was skielik geïsoleer en het homself alleen en in ‘n baie vyandige omgewing bevind, waar die regering, sakereuse en Cosatu vakbonde die unie sterk teengestaan het. Verder het die land nou ’n “oop” ekonomie gekry, en die skielike verskerpte internasionale mededinging het beteken dat sakereuse meer as ‘n miljoen werknemers afgedank het om winsgewend te bly. Baie bedrywe en maatskappye waarin die vakbond georganiseerd was se werksmagte het met 50% of selfs meer gekrimp, soos die mynbedryf, Eskom, Telkom en Iscor. Daarby het affirmative action ook die profiel van die werksmag drasties begin verander.
Talle lank bestaande vakbonde het in hierdie tyd ondergegaan. Die gesamentlike impak van hierdie veranderings het ook die MWU tot in ’n bestaanskrisis gedompel. Ledetalle het skerp geval, daar was ‘n finansiële insinking, die Nywerheidsregistrateur het ons gedreig met deregistrasie, en sakelui, joernaliste, akademici en ander vakbonde het ons ondergang voorspel. Die ergste was dat baie van die sleutelmense self aan ons toekoms getwyfel het!
- Herskepping van die MWU (Eerste golf)
Na my verkiesing as Hoof Uitvoerende Beampte middel 1997 moes daar spoedeisend met ‘n omkeerstrategie begin word. Daar was nie geld of tyd vir lang bosberade of slim konsultante nie. Ons kon nie eers ‘n rekenaar van R265 per maand bekostig nie! Dit was om soos ‘n vliegtuig in die vlug te herbou midde in ‘n luggeveg teen ‘n oormag vinniger vliegtuie! Daardie eerste jare het ek nie in die oggend wakker geword nie, ek het wakker geskrik!
Die vakbond is van die grond af weer opgebou, distrik vir distrik, bedryf vir bedryf en vakbond strukture is maatskappy vir maatskappy herbou. In die proses was daar groot personeel wisselings, kantore opgeknap en toegerus, diensvlakke verbeter, ‘n nuwe grondwet infaseer, die finansies moeisaam stabiliseer, en is die vakbond oor ‘n breë spektrum moderniseer. Die MWU is buite die politiek posisioneer, ‘n uitbreidingstrategie is begin, en ‘n nuwe styl en strategie is stelselmatig implementeer.
Dit was baie moeilike tye, daar was soms groot weerstand teen verandering, geld was baie skraps, groot foute is (veral deur my!) gemaak, maar die breë rigting was reg, en die proses het stadigaan resultate begin toon. Hiervoor moet ek veral ons destydse Hoofraad en die senior personeel bedank vir hulle samewerking, vertroue en ondersteuning waarsonder ons beslis ons deure sou moes toemaak. Maar al hierdie werk was nog nie genoeg om te oorleef nie, hef aan het nog voorgelê.
- MWU-Solidariteit (Tweede golf: 2000)
Tydens hierdie fase is die naam verander na MWU-Solidariteit, en groot organisatoriese verbeterings is aangebring.
Die strategie onderliggend aan die tweede golf van verandering was om die MWU landswyd buite die mynbedryf uit te bou as ‘n vakbond vir geskoolde Afrikaanse werknemers in bykans alle bedrywe en beroepsgroepe in die privaatsektor. Tydens hierdie fase is die naam verander na MWU-Solidariteit, en groot organisatoriese veranderings is aangebring. Dit het onder meer die herorganisering van die vakbond in bedrywe beteken, terwyl nuwe bedrywe begin is, die hoofkantoor na ’n huurperseel in Centurion verskuif is, ’n nuwe korporatiewe identiteit, terwyl die volgende klein afdelings gestig is:
- ‘n Regsafdeling;
- ‘n Kommunikasie afdeling;
- Lede Administrasie en Finansies;
- ’n Besigheidsbeen.
Hierdie fase het tot ‘n stewige groei in die vakbond gelei, en ons het oa ons grootste mededinger en ‘n paar kleiner vakbonde oorgeneem en ingeskakel. Maar die groei het ons onverwags weereens in ‘n krisis gedompel, omdat ons stelsels nie sterk genoeg was om die oornames en vinnige groei te dra nie. Ons regsstelsel kon byvoorbeeld nie die groei van ‘n honderd sake per jaar na twee honderd per maand hanteer nie! (Ek ook nie!). Kostes het vanweë die uitbreidings skerp gestyg terwyl ons inkomstes bykans stil gestaan en stadiger ingekom het. ‘n Tweede finansiële krisis het ontstaan, wat ons genoodsaak het om die vliegtuig van voor af in die vlug ter herbou! ʼn Vakbond is ’n baie lae winsgrens bedryf! In hierdie tyd het ek geleer koperdraad maak deur elke sent so lank moontlik te rek! Ek het orals geld probeer soek en eers toe ek nêrens regkom nie met ‘n skok besef dat geld nie ‘n plaasvervanger vir moeilike besluite is wat mens maar altyd probeer uitstel nie. Maar genadiglik het die vliegtuig se neus weer begin lig nadat almal saam die skouer aan die wiel gesit het.
- Solidariteit (Derde golf: 2002)
Niemand moet dink dat die nuwe naam en golwe van verandering regtig so glad en presies op mekaar gepas het nie. Dit was oneindig meer ingewikkeld! Die belangrikste veranderings wat tydens hierdie golf aangebring was is:
- Uitbreiding van ons ledebasis;
- Uitbreiding van alle afdelings in Solidariteit;
- Navorsing afdeling / en Regs Instituut;
- ’n Telefoniese Dienssentrum, eerste in die vakbondwese;
- Ontwikkeling van beleid en nuwe stelsels, soos ‘n Regsadministrasie stelsel, Gehaltebeheer, Diensstelsels;
- Uitbreiding van die Besigheidsbeen met ‘n Bestuurshoof en nuwe besighede;
- Herstigting van die Helpende Hand na die krisisse in Vanderbijlpark en Stilfontein;
- Koop van ‘n nuwe Hoofkantoor kompleks;
- Vestiging van ‘n Sekretariaat en Korporatiewe beheerstelsels;
- Groot versterking in die senior bestuur van Solidariteit;
- Stigting van AfriForum, inskakeling van die Maatskappy vir immigrasie en die loodsing van die Kom Huistoe-veldtog;
- Stigting van Sol-Tech;
- Opening van ʼn Buitelandse kantoor en buitelandse skakeling;
- Talle nuwe lede dienste, soos Beroepsveiligheid en –gesondheid;
- Solidariteit Opleidings Akademie;
- Stigting van ʼn Reserwefonds;
- Menslike Hulpbronne ens.
Dit is belangrik om te besef dat hierdie interne verbeterings die insette was wat noodsaaklik was om die doelwitte/uitsette van Solidariteit te verwesenlik, en dat dit nie ‘n doel op sigself was nie. Hierdie verbeterings het veral vanaf 2006 groot vrugte begin afwerp namate die Solidariteit naam gevestig geraak het, ons stelsels goed begin werk het, diensgehalte, finansies, en instellings begin groei toon, het en ons ekonomie van skaal bereik het. Die bykomende uitvoerende vermoë van die organisasie het ons gehelp om groot veldtogte te dryf soos die Gelyke geleentheid veldtog teen onbillike diskriminasie. Vanaf ‘n organisasie met ‘n paar personeellede op hoofkantoor, het Solidariteit nou ‘n sterk familie instellings met meer as 300 personeellede geword.
- Solidariteit beweging (Vierde golf: Jan 2008)
Die doel van die vierde golf van strategiese verandering was om Solidariteit te omskep in die Solidariteit beweging, waarvan Solidariteit as vakbond nou net een been sou wees. Die res van die beweging het bestaan uit die Helpende Hand, AfriForum, ons Beleggingsmaatskappy (Sol-Tech, Oxbridge, Express, Finansiële dienste, Solidariteit Eiendomme), en die Groeifonds. Ons het nou ons fokus begin verander, vanaf groter na sterker, maw om ons grondslag te versterk en ons Christen demokratiese waardestelsel intern sterk te vestig, oa deur Solidariteitkunde vir al ons personeel en verteenwoordigers aan te bied.
Dit alles het groot voorspoed vir die Solidariteit beweging gebring, en ons verteenwoordig in totaal nou byna 140 000 lede of gesinne.
Maar in die onstuimige wêreld van Suid-Afrika is dit steeds nie genoeg om gerus te kan slaap nie, want die see waarop ons skip vaar is vol storms.
- Herskikking in Afrikaner kultuur gemeenskap (Vyfde golf?)
Daar is veral 3 strategiese neigings wat ons in ons beplanning vir die toekoms gebruik:
- Voortgesette staatsverswakking;
- Die demografiese rewolusie;
- Afrikaner magloosheid en uitsluiting. (stemreg vs stemkrag)
Die gevolge hiervan is die oorsaak van hierdie kongres- die heropkoms van Afrikaner verarming, vers 3. Dit is tragies dat ons met die sewentigste herdenking van die begin van die suksesvolle modernisering van die Afrikaner, weereens in ‘n bestaanskrisis verkeer.
Ons besef terdeë dat hierdie drie strategiese neigings die Afrikaner gemeenskap én Solidariteit se volhoubare sukses bedreig, en dat ons dit nie alleen sal kan baasraak nie. Ons besef ook dat hierdie drie en ander verwante neigings tot baie groter armoede en ellende kan lei as wat ons ooit geken het. Dit kan selfs lei tot ‘n ernstige oorlewingskrisis as ons nie betyds iets daaraan doen nie.
Anders as in die dertigerjare, is die Afrikaner burgerlike instellings nie almal meer sterk en lewenskragtig nie, en is daar nie hoop op ‘n politieke “oplossing” nie. Daarom is daar na my mening ‘n organisatoriese herskikking in Afrikaner geledere nodig, en vennootskappe met ander gemeenskappe waar enigsins moontlik. Die doel van so herskikking moet wees om praktiese oplossings vir ons knelpunte uit te werk, maar ook om gesamentlik met die regering te gaan praat om te kyk of skikkings hieroor nie moontlik is nie. Daar bestaan reeds so ‘n losse netwerk van organisasies wat saam oor hierdie dinge dink en praat. Dit is tyd om ‘n les by die Jode te leer: behou jou identiteit, sorg dat joú gemeenskap suksesvol is, en dra daarna by tot die sukses van die breë gemeenskap waar jy bly. My siening is dat die Afrikaner en Suid-Afrika interafhanklik is: vir die Afrikaner om suksesvol te wees, moet Suid-Afrika werk, en vir Suid-Afrika om te slaag, moet die Afrikaner voorspoedig wees. Diegene wat Afrikanerskap wil laat opgaan in ‘n breë Suid-Afrikanerskap, sal moet besef dat dit net daartoe sal lei dat dit die emigrasiegolf landuit net meer momentum sal kry, omdat dit die prys van Suid-Afrikaner te hoog sal opstoot. Ons het daardie standpunt mos al probeer, maar die uitkoms na 15 jaar wys mos dit is nie goed genoeg nie. Dis vir my logies dat net ‘n suksesvolle Afrikaner gemeenskap kan help om Suid-Afrika suksesvol te maak!
- Raamwerk voorstel vir verandering deur ‘n burgerlike Afrikaner netwerk
Ons toekoms is te belangrik om net aan die regering oor te laat, daarom moet ons vinnig werkbare planne op die tafel kry. Planne wat groter is as die probleme waarvoor ons staan, planne wat goed uitgevoer moet word. Die beginpunt hiervan is om die Scenario’s oor die toekoms van die land, verder te verwerk in scenario’s vir die toekoms van die Afrikaner. Die hoofdoel hiervan is om dit as vertrekpunt te gebruik vir die ontwikkeling van ‘n paar strategiese alternatiewe vir die Afrikaner gemeenskap. ‘n Informele netwerk van Afrikaanse burgerlike organisasies sal eersdaags begin met die omvattende navorsing wat hiervoor nodig sal wees, saam met kundiges uit die akademie en praktyk.
- Afsluiting
Die Afrikaner gemeenskap staan in die spervuur van ingrypende makro neigings waaroor hy nie beheer het nie. Hierdie omwentelings kan verwoestende Tsunami’s word as ons dit probeer ignoreer of ontken, wat selfs ons hele toekoms spreekwoordelik kan wegspoel.
Hoe langer ‘n mens wag om te reageer op verandering, hoe minder opsies bly oor en hoe meer ingrypend raak die oorblywende oop paaie.
Mag ek daarom afsluit met die volgende woorde: Die Afrikaanse gemeenskap moet verantwoordelikheid aanvaar vir sy eie toekoms en self aktief daaraan begin werk. Nie in isolasie nie, maar saam met geleentheidsvennote waar nodig en waar moontlik. Dit help nie om aan ’n afhanklikheids-, isolasie of ontrekkingsindroom te ly nie. Die verlede gaan nie terugkom nie, die hede gaan nie weggaan nie en die toekoms laat nie op hom wag nie. Inteendeel, die toekoms word bepaal deur wat ons vandag doen.
[1] Van MWU tot Solidariteit – Geskiedenis van die Mynwerkersunie 1902 – 2002 deur Wessel Visser