Solidariteit Beweging maak omvattende blyplan bekend
Die Solidariteit Beweging gaan eerskomende Donderdag tydens ‘n toekomsberaad ‘n omvattende blyplan in Pretoria bekend maak. Die multimiljardrand-plan sluit opleidingsinstellings, skole, veiligheidsnetwerke, werkplanne, kultuurplanne, ʼnmaatskaplike strategie, media-instellings, internasionale steunwerwing en meer in.
Die 2030-blyplan is die mees omvattende selfbestuursplan wat nóg deur die Afrikanerkultuurgemeenskap en die Afrikaanse taalgemeenskap bekend gemaak is.
Daar word beplan om bykans R8 miljard se kapitaal vanaf 2020 tot 2030 daarvoor te mobiliseer. Daar word voorsien dat tienduisende mense elk ‘n bietjie sal gee. Solidariteit-lede gee reeds R10 per maand.
‘n Nuwe eiendomsbeleggingsmaatskappy, Kanton, gaan ook gestig word waar beleggers teen ʼn opbrengs in die eiendomme kan belê. Daar word ook beplan om Virseker verder uit te bou en ander besigheidsinisiatieweword in die vooruitsig gestel.
“Ons is bekommerd daaroor dat talle mense emigreer en/of vervreemd is van die land. Baie Afrikaners voel nie meer tuis nie. Talle voel dat, alhoewel hulle nie die land verlaat het nie, die land hulle verlaat het. Die doel van ons 2030-plan is om Afrikaners en die breë Afrikaanse gemeenskap weer tuis te laat voel in Suid-Afrika. Ons gaan bou om te bly. Staatsbestuur in Suid-Afrika het misluk en die tyd van selfbestuur het aangebreek,” het Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, gesê.
‘n Konsentrasiestrategie maak ‘n groot deel van die 2030-plan uit. Die Solidariteit Beweging het 30 ankerdorpe geïdentifiseer waarheen Afrikaners natuurlik trek. Daar word voorsien dat 67% van Afrikaners in 2030 in dié ankerdorpe sal wees en 95% van Afrikaners sal binne twee ure se ry van die ankerdorpe bly.
“Afrikaners en Afrikaanssprekendes se probleem is nie hulle getalle nie, maar hulle yl verspreiding. In die 30 ankerdorpe gaan ons die gemeenskap help om gemeenskapsdienste soos skole, mediese klinieke, veiligheidstrukture, tersiêre, maatskaplike strukture, opleidings- en werknetwerke te vestig. Hoe meer gekonsentreerd Afrikaners bly hoe meer kan die gemeenskap self verantwoordelikheid neem. Ons konsentrasiestrategie is nie vreemd nie. In die res van die wêreld is dit algemene praktyk,” het Buys gesê.
Die plan maak ook meer inligting oor Akademia, die Beweging se nuwe hoëronderwysinstelling, bekend. Volgens die plan beplan Akademia om tussen 30 en 40 nuwe grade te akkrediteer, en gaan ‘n nuwe kampus gebou word wat 6 000 studente kan akkommodeer. Nog Akademia-sentrums gaan dwarsoor Suid-Afrika geopen word sodat almal wat in, of in die omgewing van ankerdorpe bly, toegang tot tersiêre studie kan kry.
Die plan maak ook meer besonderhede bekend oor die bou van die nuwe Sol-Tech-kampus, asook planne om ʼnnuwe Afrikaanse skoolstelsel saam met vennote te ontwikkel. Die Solidariteit Helpende Hand se Studiefondssentrum het bekend gemaak dat reeds R200 miljoen se studiehulp aan 5 000 studente uitbetaal is. Daar word beplan om die beursplatform tot R1 miljard uit te bou.
“Deur hierdie reuseblyplan stuur ons ‘n sterk boodskap uit namens die miljoene mense wat hier gaan bly. Ons bly hier, maar ons gaan nie stilbly of stilsit nie. Al die onderskeie instellings van die Solidariteit Beweging gaan werk om ‘n toekoms te skep waar die Afrikanerkultuurgemeenskap en die Afrikaanse taalgemeenskap vry, veilig en voorspoedig kan wees. Ons geskiedenis wys dat ons nie klein plannetjies maak nie. Ons maak groot planne en voer dit uit,” het Buys gesê.
Solidariteit het ook bekend gemaak dat hy ‘n netwerk van beroepsgildes gaan vestig. Verdere regstappe en internasionale klagte teen die regering se beleid van rassekwotas word beplan. Daar word ook bekend gemaak dat nasionale gesondheidsversekering en planne om pensioenfondse te gebruik om sukkelende staatsondernemings te help, aktief teengestaan gaan word. Groter planne vir wettige belastingprotes en optrede teen belastingplunderaars is ook in die 2030-plan ingesluit.
Buys sê verder dat kulturele selfbestuur en selfstandigheid die onderliggende strategie van die hele plan is. Gemeenskappe moet meer selfverantwoordelikheid neem. Ons kan nie toelaat dat die staat ons toekoms bepaal nie. Ons wil die reg hê om self te kan besluit.
‘n Ander kernelement van die blyplan is veiligheid. AfriForum beplan om 200 gemeenskapsveiligheidstrukture te vestig en 20 000 buurtwaglede voor 2030. ʼn Sekuriteitsmaatskappy, wat gaan help met beveiliging, gaan ook gevestig word.
Volgens die Solidariteit Beweging is al sy planne binne die raamwerk van die Grondwet wat aan taal- en kultuurgemeenskappe die reg gee om verengings of ander organe van die burgerlike gemeenskap te stig. In die verslag skryf die Solidariteit Beweging dat hy nie besig is om homself te isoleer nie, maar dat die Beweging juis optree in reaksie op isolering en uitsluiting deur die owerheid.