(Hierdie toespraak is op 6 Junie 2019 gelewer, tydens Solidariteit se Nasionale Kongres)
Hierdie kongres vind plaas in uiters moeilike tye in ons land en in ons lede se lewens. Talle mense twyfel of daar nog ʼn toekoms in hierdie “wye en droewe” land is, soos die digter Van Wyk Louw Suid-Afrika beskryf het. Die redes is bekend:
- Werkloosheid het rekordhoogtes bereik, volgens Statistieke Suid-Afrika (SSA);
- Die land beleef die langste ekonomiese afswaai (ses jaar) sedert die Tweede Wêreldoorlog, en ons ekonomie het pas weer met 3,2% gekrimp;
- Ons lede se poste word deur rassekwotas herverdeel en ons weet nie waar ons kinders ʼn goeie werk gaan kry nie;
- Suid-Afrika vaar die slegste van alle lande wat nié in ʼn oorlog gewikkel is nie, aldus Bloomberg.
Dit is geen wonder dat baie Godvresende, hardwerkende en wetsgehoorsame burgers wonder of daar nog ʼn toekoms in die land is nie. Dit is verstaanbaar dat mense so voel. As Eerste Wêreldmense swak regeer word, soos tweedeklasburgers behandel word en Derde Wêrelds geregeer word, dan trék hulle – na ʼn Eerste Wêreldplek.
Al hierdie dinge laat baie Afrikaners wonder of die “einde van die geskiedenis” nie vir ons as volk aangebreek het, en of ons nie, soos soveel ander beskawings, onder die golwe van die tyd gaan verdwyn nie.
Die land het weer ʼn kans gekry toe mnr. Zuma deur pres. Ramaphosa vervang is. Dit is moontlik die laaste kans. Ons wens hom sterkte toe, want ʼn swaar vrag rus op sy skouers. Ons steun nie die ANC nie, maar ons is lief vir die land en wil help om dit ʼn beter plek te maak vir almal wat hier woon. Ons hoop die regering vat uiteindelik die hand van samewerking wat ons nou al so lank na hulle toe uitsteek.
Plan B
Tog kan ons nie net op die regering staatmaak vir ons en ons kinders se toekoms nie. Dit sou heeltemal onverantwoordelik wees in die lig van hul swak prestasie. Die huidige bedeling – kom ons noem dit Plan A – is te diep in die moeilikheid om ons maklik weer daaruit te kry. Gemeet aan die ANC se “prestasielys” van meer as twee dekades, en omdat hulle steeds aan dieselfde beleid vasklou, kan ons nie aanvaar dat hulle nou skielik die land veilig gaan maak, dat die ekonomie goed gaan groei, dat hulle die drakoniese rassewette gaan afskaf, dat hulle eerlik en bekwaam gaan regeer, en dat die staatsverval omgekeer gaan word nie.
Einstein het tereg gesê as jy dieselfde dinge doen, moet jy dieselfde uitkomste verwag.
Daarom moet ons – terwyl ons hoop dat Plan A sal slaag en sal help waar ons kan en waar ons toegelaat word om dit te doen – kliphard aan ons eie Plan B werk. Want indien Plan A misluk en Plan B te stadig vorder, gaan ons kinders Plan C volg – oorsee. Dan val Plan A én Plan B plat. Dan slyt ons ons oudag eensaam in swak bestuurde ouetehuise, terwyl ons kinders sukkel om hul voete in vreemde lande te vind. ʼn Mens wil nie eens daaraan dink nie!
Waar Plan A ANC-besluitneming is, gaan ons Plan B oor selfbesluitneming. Waar Plan A oor sukkelende staatsinstellings gaan, gaan Plan B oor selfhelpgemeenskapsorganisasies. Waar Plan A oor volledige meerderheidsbestuur gaan, gaan Plan B oor groeiende selfbestuur. Onder Plan A is ons staatsafhanklik. Met Plan B raak ons staatsbestand en selfstandig. Waar Plan A oor verstaatliking en sentralisme gaan, gaan Plan B oor privatisering en federalisme. Waar Plan A van die ANC afhang, hang Plan B van onsself af. Waar die bes moontlike uitkoms van Plan A regverdige heersers is, gaan Plan B oor groeiende vryheid. As u vir my sê Plan B is in praktyk onbeskryflik moeilik, dan sê ek Plan A het homself tot sover onmoontlik bewys. Plan A het my beste wense, maar my realistiese hoop is op Plan B, want Plan C beteken die einde van ons geskiedenis.
Ek wil dit duidelik stel dat ons Plan B nié teen Plan A gerig is nie. Ons wil hê die land moet slaag, maar dit is nie binne ons mag as die regering dit rampspoedig regeer en die meerderheid hulle aanhou verkies nie. Ons kies nie teen die regering nie; ons kies vir ons gemeenskap. Ons mag mos aan ons eie kant wees. Terwyl ons hoop dat Plan A ook slaag, is my vertroue egter meer in Plan B. Sol-Tech wys dat gemeenskapskrag meer suksesvol is as staatsmag. Privaat hospitale is gesonder as staatshospitale. Dienste in privaat dorpe werk beter as munisipale dienste.
Ons Westerse kultuur is die grootste rede hoekom Plan B werk. Dit is ʼn bou-en-bewaar-kultuur, wat nie by Van Riebeeck begin het nie, maar wat in die newels van die tyd in antieke Athene, Jerusalem en Rome gebore is en ontwikkel het.
Kultuur: van geslag tot geslag
Kultuur is nie net braaivleis en rugby en lekker musiek nie. Dit is sekerlik deel van ons kultuur, maar dit is ʼn vervlakking van ons kultuur om dit te verskraal tot sport en ontspanning. Kultuur is ʼn lewenswyse; dit is wie en wat ons is en waaraan ons as vanselfsprekend glo. Dit is ons stelsels of hardeware (soos die regsorde, die markekonomie, wetenskap, tegnologie en demokrasie) en dit is ons waardes of sagteware (soos persoonlike verantwoordelikheid, werketiek, tydsbegrip, dissipline en gesinstrukture).
Kultuur is die skat van ons Christelike geloof vanuit Jerusalem, ons denkwyse vanuit antieke Athene en ons samelewingsorde vanuit Rome. Daarvandaan is ons kultuur gevorm deur die groot Westerse omwentelings soos die Protestantse Hervorming, die Renaissance, die Verligting en die Nywerheidsrewolusie.
Maar wat is die kern van die sukses van hierdie kultuur wat die Weste nou al vir eeue suksesvol gemaak het? As ons dít weet, het ons ook die sleutel tot die sukses vir ons opstaan uit die huidige krisis.
My siening is dat die wese van die Westerse sukses daaruit spruit dat Westerlinge histories dít wat ons van ons voorgeslagte gekry het, bewaar en verbeter het, en dit weer na die volgende geslag toe oorgedra het. Elke geslag het net verder en hoër gebou as die vorige een. Almal begin nie weer voor of gaan agteruit nie. Dit is hierdie “verbond tussen geslagte” waarmee Westerse samelewings deurlopend oor die eeue opgebou is wat die Weste laat uitstyg het en waarmee ons weer ʼn toekoms kan opbou.
Kom ons kyk waar dit vandaan kom:
Meer as 2 500 jaar gelede moes jong mans in antieke Griekeland wat diensplig moes doen om burgerskap van die Atheense stadstaat te kry, ʼn merkwaardige eed aflê. Hierdie eed, en dit wat dit onderlê, het myns insiens die grondslag van ons Westerse kultuur geword.
Die kern daarvan was dat jong mans van 18 jaar moes beloof om die erfenis wat hulle van hul voorgeslagte gekry het, te bewaar en in ʼn beter toestand as wat hulle dit ontvang het, aan die volgende geslag na te laat. Daarby moes hulle ook onderneem om hul mense dapper te verdedig, die stad se wette te gehoorsaam, verantwoordelikheid vir hul gemeenskap te neem en om die God van hul vaders te dien.
Hierdie eed het oor die eeue in baie vorme weerklink. In die vroeë 1800’s het die Britse denker Edmund Burke gesê dat die samelewing ʼn kontrak is tussen dié wat reeds dood is, dié wat vandag lewe en dié wat nog gebore moet word. Daarmee het Burke bedoel dat ʼn kultuur en ʼn samelewing nie net bedryf mag word vir die gerief van die huidige geslag nie, maar ʼn diep verbond is tussen die voorouers, die lewendes én die nageslag wat nog moet kom. Jy moet dít wat jy ontvang het, verbeter, maar jy mag dit nie weggee nie, want dit is nie joune nie. Jy mag dít wat jy gekry het by jou voorgeslag gebruik, maar jy leen dit van jou kinders. Dít wat goed is van wat jy gekry het, moet aan die volgende geslag aangegee word.
Albert Einstein hierdie oordrag van geslag tot geslag treffend gestel: “Bear in mind that the wonderful things you learn in your schools are the work of many generations. All this is put in your hands as your inheritance in order that you may receive it, honour it, add to it, and one day faithfully hand it on to your children.”
Dit sluit aan by pres. Paul Kruger se laaste boodskap waarin hy sê neem uit die verlede wat skoon en mooi is en bou die toekoms daarmee. Dit sluit ook aan by die woorde van Langenhoven se laaste vers van Die Stem waar hy pleit “… Dat die erwe van ons vaders vir ons kinders erwe bly”. Dit is veel meer as braaivleis en rugby. Dit is goeie skole. Dit is ʼn gesonde ekonomie. Dit is ʼn goeie werk. Dit is wêreldklaskolleges en -universiteite. Dit is ʼn moderne samelewing met al die dienste en geriewe wat daarmee gepaard gaan soos werkende hospitale, paaie, huise en infrastruktuur.
Wat is egter die geheim van die val of oorlewing van beskawings? Die Britse historikus, Arnold Toynbee, het in sy dekade lange Studie van die Geskiedenis (wat 12 boeke beslaan) bevind dat almal deur uitdagings bedreig was, maar dat skeppende minderhede wat suksesvol op die bedreigings gereageer het, die geheim van oorlewing is.
Hierdie minderhede het ʼn besielende doel gestel, ʼn plan gemaak om dit te bereik en volhardend gewerk totdat dit verwesenlik is – kortom: doel, plan, aksie. Wanneer leiers egter nie met voldoende skeppende energie en verbeeldingryke planne vorendag gekom het en dit uitgevoer is nie, het beskawings ondergegaan. In Toynbee se woorde: “Great civilizations never die, they commit suicide.”
Ons geslag se taak
Die geskiedenis gee aan elke geslag ʼn taak. Sommiges kry makliker take as ander. Party kry baie, ander moet baie gee. Omdat daar egter ʼn verbond tussen die geslagte is; omdat ʼn beskawing ʼn ketting van geslagte is wat soos met ʼn afloswedloop dít wat jy kry, moet bewaar en vir die volgende geslag aangee; omdat die een geslag van die vorige en die volgende een afhanklik is, beteken dit dat as net een geslag nie sy taak opneem nie, daardie ketting vir altyd verbreek is. Dan gaan daardie beskawing onder, dit verskraal tot ʼn voetnota in ʼn geskiedenisboek. Dit is soos om ʼn boom af te kap en dan te dink jy sal steeds die vrugte en koelte kan bly geniet.
Die geslagte voor ons het met groot uitdagings te kampe gehad. Die een geslag moes die Groot Trek aanpak, die volgende een die Anglo-Boereoorlog. Daarna het die modernisering van Afrikaans gevolg waardeur die land opgebou is. Die volgende geslag moes die Koue Oorlog en die Grensoorlog trotseer en het die volkereverhoudingsprobleem probeer oplos deur sogenaamde “afsonderlike vryhede.” Die volgende geslag het die waagstuk van meerderheidsregering aangepak.
Maar wat is ons taak? Die geskiedenis stel geen geslag vry om maar net op die rug van vorige geslagte se antwoorde op die eise van hul tyd te ry nie.
Terug na Toynbee se wysheid van uitdaging en antwoord as die sleutel tot voortbestaan – ek wil dit waag om te sê dat dit ons geslag se taak is om die bestaansuitdaging van ons as Westerse volk met ʼn volhoubare oplossing aan te pak.
Ons bestaanskrisis is nie ons klein getalle nie, maar ons yl verspreiding wat veroorsaak dat ons orals in die minderheid is en landwyd dieselfde probleme het.
Ons is meer as die onderskeie bevolkings van Namibië, Lesotho, Macedonië, Slowenië, Letland, Botswana, Gambië, Gaboen, Estland, Swaziland, Mauritius, Ciprus en Luxemburg, asook ’n menigte ander volke. Maar ons woon nie gekonsentreerd soos al hierdie volke nie, en ons is gevolglik ʼn kwesbare minderheid tussen ʼn groeiende meerderheid. Ons het nie ons eie “Skotland” of “KwaZulu” nie.
Daarom word ons landwyd in die werkplek deur rasseformules, kwotas en diskriminasie geteiken; daarom is ons orals onveilig; daarom verval ons dorpe; daarom word ons landwyd deur onsimpatieke meerderhede regeer; daarom word ons Westerse leefwyse orals bedreig; en daarom sien so baie mense nie meer ʼn toekoms hier nie.
As die uitdaging yl verspreiding is, is die oplossing groter konsentrasie– en dit is presies wat lankal besig is om vanself te gebeur. ʼn Groot Trek is weer aan die gang. Mense trek al dekades lank uit vervallende klein dorpies na streeksdorpe en na die stede toe; hulle trek van vervreemde middestede na voorstede; uit gevaarlike gebiede na veiligheidsdorpe; uit plekke waar hulle ʼn klein minderheid is na plekke toe waar daar groter getalle van hul kultuurgenote is waar hulle tuis voel soos in die Wes-Kaap. Ons is besig om al meer op al minder plekke te konsentreer, en die groter getalle maak oplossings makliker. Dié wat kan, “trek” vanaf staatshospitale na privaat hospitale, vanaf die polisiediens na privaat sekuriteitsdienste, vanaf werk in die staatsdiens en openbare ondernemings na werk by kleiner privaat maatskappye. Meer as 500 000 het ook al in organisasies soos Solidariteit, AfriForum en ons Beweging gekonsentreer. Dit maak dit al makliker om al vinniger aan al groter oplossings te werk.
Die grootste waagstuk is om in ʼn krisis te wag (op beter dae) in plaas daarvan om ʼn plan te waag.
Kantonstrategie
In die praktyk ontstaan daar orals konsentrasies wat ons kulturele kantons (Switserland) kan noem, waar mense meer vry, veiliger en tuis voel. Waar ons vroeër al verder van mekaar af getrek het, trek mense nou al nader aan mekaar, en werk vanuit hierdie ruimtes dan saam met almal anders. Ons moet hierdie hedendaagse Groot Trek met dienste ondersteun, want dit het in praktyk ons Plan B geword wat vanself ontstaan het toe Plan A vasval.
Dit is nie ʼn projek om onsself te isoleer nie, maar juis in reaksie op ons isolering en uitsluiting deur die owerheid. Dit bou juis die kulturele leefruimtes vir ons om saam in Afrika te kan bestaan. Eilande is nodig om te keer dat die see jou nie oorweldig nie. Hierdie strewe na selfbesluitneming in kulturele leefruimtes is in reaksie op die mislukking van ANC-besluitneming oor ons. Dit sal nie help om hulle te beveg deur die staatsruimtes te probeer terugvat nie. Ons moet eerder gemeenskapsruimtes bou deur konsentrasie, as om deur konfrontasie dít wat oorgeneem, is te probeer terugvat.
In die praktyk vorder ons al ver met ons plan om, soos die Israelse Histadrut, ʼn toekoms vir ons mense te bou. Maar ons sal vinniger groter moet konsentreer, want die yl verspreiding bly steeds ons bestaansuitdaging wat nog ons ondergang kan beteken.
Daarom het ons met twee groot projekte begin om ons mense se kapitaal te konsentreer om só vinniger die kulturele leefruimtes te bou wat ons nodig het om ons kultuurgemeenskap voort te sit. Daarmee gaan ons Sol-Tech se nuwe kampus bou. Daarmee gaan ons vir Sol-Tech ʼn groot koshuis bou as studieverblyf vir ons lede se kinders wat ver bly. Daarmee gaan ons ʼn groot kampus vir Akademia bou. Daarmee gaan ons nog saam met vennote bekostigbare skole van gehalte vir ons gemeenskap bou, en daarmee gaan ons nog groter leefruimtes bou.
Ons sal binnekort meer praktiese planne hiervoor bekendmaak, want ons wil graag hê ons lede moet nie net bydraers wees nie, maar bouers wat saam aan die toekoms bou. Ek gee u die versekering dat van die topbreinkrag in die land saam met ons aan al hierdie planne werk. Die kern hiervan is ʼn vennootskap tussen kultuur en kapitaal waar mense ʼn finansiële opbrengs op hul geld kan kry, saam met ʼn kulturele dividend soos ʼn kollege, universiteit en skole vir hul kinders.
Uiteindelik wil ons mense in klein dorpies kan help met noodsaaklike dienste. Ons wil in die 30 ankerdorpe en -stede waarnatoe mense (volgens ons navorsing) trek, volhoubare dienste skep soos veiligheid, werk, onderwys en maatskaplike sorg. Ek glo egter dat ons ook groter kantons sal moet vestig, waarskynlik in Pretoria in die noorde, moontlik een in die Suid-Kaap, en een in die weste van die land met Orania as groeipunt.
Al hierdie projekte doen ons nie teen die owerheid nie, maar omdat dit nie sal help om vooraf goedkeuring te vra nie, vra ons eerder ná die tyd om erkenning vir dít wat in praktyk gebou is. Selfs waar ons dit nie kry nie, bied die praktiese werklikhede wat ons skep vir ons die leefruimtes waarin ons vry, veilig, en voorspoedig kan voortbestaan.
Ons strategie is om al die ruimtes wat die Grondwet en internasionale reg ons bied, te benut.
Daniel Burnham het gesê: “Make no little plans; they have no magic to stir men’s blood and will not be realized. Make big plans; aim high in hope and work, remembering that a noble, logical plan will never die, but long after we are gone be a living thing, asserting itself with ever-growing insistency.”
Ons verlang nie na die verlede onder die NP nie, maar ons sien ook nie uit na die toekoms onder die ANC nie. Ons wil net ʼn normale lewe lei. Ons staan nie vir uitgediende ideologieë nie. Ons werk vir ʼn normale toekoms in ʼn normale werkende land waar ons en ons gesinne veilig kan leef en bly, en waar almal ʼn normale werk kan hê waar ons gelyk behandel word.
ʼn Normale werk is net moontlik in ʼn normale samelewing. Daarom is ons Beweging se strewe na ʼn normale samelewing net so noodsaaklik as ons vakbond se strewe na ʼn goeie werk vir ons lede.
As u sou vra hoe lank dit alles gaan neem, dan is my antwoord dat dit afhang van die steun en samewerking van ons eie mense. Die staat gaan dit nie van bo af vir ons gee nie; ons bou dit self van onder af. Die spoed en die hoogte van die kulturele plafonne gaan afhang van onsself; nie van die owerheid nie. Ons hoop ook om ondersteuning van die buiteland af te begin kry omdat dit opbouende projekte is wat net tot voordeel van almal sal strek.
Die harde waarheid is dat ons ná 25 jaar weet dat die Akte van Menseregte nie ons grondliggende belange gaan beskerm nie. Maar ons weet ook dat hoe hoër die vlakke van selfstandigheid is wat ons bou, hoe minder kwesbaar sal ons in ʼn vervallende staat wees.
Vryheid is uiteindelik die enigste waarborg vir veiligheid, vir ons lede se werk, vir gelykheid, vir reg en geregtigheid, vir volhoubare voorspoed, vir werkende dienste, vir goeie skole, en vir ʼn toekoms vir ons kinders.
Ons mense het deur hul vindingrykheid, skeppende vermoë en ondernemingsgees wêreldklas-prestasies op alle gebiede bereik: medies, sport, wetenskap, besigheid, kultuur en die kunste. Ons sal daardie selfde vermoë moet aanwend om op staatkundige gebied weer al hierdie elemente in ʼn samehangende plan in te weef, anders is dit nie standhoudend nie.
ʼn Volk skep sy eie toekoms, het Vader Kestell gesê. Soos die beroemde bestuurskundige Jim Collins dit gestel het: “Whether you prevail or fail, endure or die, depends more on what you do yourself than on what the world does to you.”
Ten slotte: Kom ons pak die taak wat die geskiedenis aan ons geslag opgelê het aan met geloof, waagmoed, ywer en volharding.
Saam met pres. Kennedy vra ek vandag: “If not us, who? If not now, when?”