Staatskaping

Daar word na ʼn onlangse verskynsel in Suid-Afrika as staatskaping verwys. Dit is die byna algehele korrupsie van die staat, deur kader-ontplooiing. Tans is die Zondo-kommissie van ondersoek besig om hierdie bewerings te ondersoek. Tot dusver was die onthullings verdoemend. Elke faset van die openbare lewe is deur korrupte amptenare geïnfiltreer, wat voortgegaan het om hulself deur groot opgeblase verkrygingstenders en op ander maniere te verryk.

Alhoewel die kommissie se taak nog nie voltooi is nie, het die Zondo-kommissie verskeie gevalle van groot korrupsie blootgelê met ANC-amptenare wat belastingbetalers se geld onbeskaamd deur tenderkorrupsie geplunder het.

Een van die fasiliterende beleide is swart ekonomiese bemagtiging (SEB). Hierdie beleid dwing sekere rassekwotas op die regering se verkrygings of aankope af, byvoorbeeld 51% van jou verkrygings moet van firmas wees waarvan 51% deur swart vroue besit word. Indien iemand deel van die elite is, het SEB geleenthede geskep om pryse op te blaas, aangesien die betrokke staatsdepartement rassekwotas moet haal.

Wat veral skrikwekkend is, is die feit dat die voormalige sekretaris-generaal van die ANC, Ace Magashule, sterk geïmpliseer is in verskeie gevalle van ernstige bedrog. Hoewel aanklagte van korrupsie amptelik teen hom opgehef is, is hy in Mei 2021 tydelik uit die ANC geskors, meer as ʼn jaar nadat die eerste bewyse van die omvang van sy korrupsie aan die lig gekom het in ’n boek deur die joernalis Pieter-Louis Myburgh. Hierna was hy steeds sekretaris-generaal van die ANC, met baie onsekerheid oor wat presies sy posisie was. Ondanks sy “skorsing” het Ace Magashule voortgegaan om ANC-funksies by te woon en as ʼn ANC-amptenaar op te tree met geen amptelike berisping van die party nie.

Voormalige president Jacob Zuma is ook geïdentifiseer as iemand wat tydens sy ampstermyn groot voordeel uit korrupsie getrek het. Alhoewel hy formeel gedagvaar is om voor die Zondo-kommissie te verskyn, het  Zuma eenvoudig verkies om nie aan die dagvaarding gehoor te gee nie. Die Zondo-kommissie het dus die howe genader wat ʼn hofbevel aan Zuma uitgereik het om voor die Zondo-kommissie te verskyn, maar weereens het Zuma eenvoudig besluit om nie aan die hofbevel gehoor te gee nie. Hy het eerder die ANC se militêre vleuel, uMkhonto weSizwe, gemobiliseer wat “veterane” gestuur het om sy herehuis in landelike Natal te bewaak.[1]

Alhoewel dit mag lyk asof daar ʼn goeie ANC en ʼn slegte ANC is, het staatskaping bewys dat dit nie die geval is nie. Tydens die covid-19-pandemie het ANC-amptenare noodfondse geplunder wat bedoel was vir die verkryging van persoonlike beskermende toerusting (PBT) en vir voedselverligting vir huishoudings wat die meeste geraak was. [2] [3]

Dié plundery is gedoen deur ANC-amptenare ná aan die huidige president van die ANC, Cyril Ramaphosa, insluitend sy eie woordvoerder, Khusela Diko. [4]

Suid-Afrika se voormalige minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, was onlangs  in ʼn skandaal gewikkel rakende onreëlmatige uitgawes deur sy departement in ʼn kontrak van meer as R150 miljoen wat aan ʼn goeie vriend toegeken is.[5] Dit het konsultantkostes van meer as R3 miljoen ingesluit wat aangewend is sodat die konsultant minister Mkhize na ʼn geskeduleerde nuusonderhoud kon vergesel om die publiek op hoogte te bring van die covid-19-pandemie.[6]

 

[1] https://www.iol.co.za/news/politics/mk-vets-ret-secure-jacob-zumas-home-to-prevent-possible-arrest-d8f31649-0b3a-490c-aba0-eedf0c2e68e5

[2] https://www.iol.co.za/news/politics/anc-outraged-embarrassed-at-looting-of-covid-19-funds-says-magashule-a6decd77-42b5-4087-8048-0c9976dde97c

[3] https://www.iol.co.za/the-star/opinion-analysis/covid-19-presented-chance-for-anc-to-loot-shamelessly-441c3994-1494-48ba-be5d-96f0aa3e24fb

[4] https://www.enca.com/news/covid-19-ramaphosa-vows-tackle-corruption

[5] https://www.dailymaverick.co.za/article/2021-05-26-department-of-healths-irregular-r150m-digital-vibes-deal-daily-mavericks-investigative-work-so-far-in-one-bundle/

[6] https://www.dailymaverick.co.za/article/2021-05-23-exposed-dohs-r150m-digital-vibes-scandal-zweli-mkhize-associates-charged-millions-for-covid-19-media-briefings/

Onderwys

Die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel is nie op standaard nie. Jaar na jaar verlaag die Departement van Onderwys hulle eie standaarde om ʼn positiewe narratief rakende onderwys te bly handhaaf. Die realiteite wys egter die teendeel.

In 2016 is gesê die matriekslaagsyfer was 76,2%. Dit blyk nie ʼn té somber prentjie te wees nie. In dieselfde jaar is die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel egter deur die Wêreld Ekonomiese Forum (WEF) in die 137ste plek uit 139 lande geplaas. Dit wys duidelik dat enige positiewe narratief wat die regering probeer handhaaf ʼn blote fasade is. In die groter skema van dinge is ons ver onder standaard en gaan ons net verder afwaarts. Om dit te illustreer, moet daar na hierdie twee faktore oor die afgelope paar dekades gekyk word: In 2010 was die genoemde slaagsyfer 67,8%. Die onderwysstelsel was in die 129ste plek uit 138 lande. In 2000 was die matriekslaagsyfer slegs 61,7%. In daardie jaar het openbare skole in Suid-Afrika egter die 52ste plek uit 148 lande op die wêreldranglys beklee. Dit wys dat die interne statistieke elke jaar beter lyk, maar dat dit gemeet aan globale standaarde slegter lyk. Die regering werk uiters hard daaraan om die onderwysstandaarde verlaag om sodoende die statistieke te verhoog.

Benewens die afname gemeet aan globale standaarde maak die regering nie elke jaar die werklike matriekslaagsyfer bekend nie. Die matriekslaagsyfer wat hulle wel bekend maak, neem nie die aantal leerlinge wat van graad 1 tot 12 uitval, in ag nie. Hulle neem bloot die leerlinge in ag wat elke jaar matriekeksamen skryf. Om dit te verstaan, moet ʼn mens die matriekslaagsyfer van die regering met die werklike slaagsyfer vergelyk. Van die 1,2 miljoen leerlinge wat in 2006 met graad een begin het, het slegs 34,7% in 2017 matriek geslaag. Die genoemde matriekslaagsyfer in 2017 was 75,1%. Hierdie getal neem nie die 40,4% van leerlinge in ag wat die skool deur die verloop van 12 jaar verlaat het nie.

Tydens die covid-19-pandemie is onderwys aansienlik geraak. Volgens ʼn studie wat post-covid gedoen is, het graad 4-leerlinge (10-jariges) slegs 25% van die gewenste onderrig wat hulle in ʼn jaar moes hê, behaal.[1] Suid-Afrikaanse skole het lank gesluit gebly nadat die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) riglyne gewysig het om te bepaal dat skole tydens die pandemie oop moet bly.

Die impak was verlammend, met minder as 4% van onderwysers by geen-skoolgeld-skole wat enige vorm van virtuele leer gebruik het, wat beteken dat kinders eenvoudig sonder opvoeding by die huis gesit het. [2]

Met inagneming van Suid-Afrika se werkloosheidsyfer, word hierdie kinders eenvoudig onindiensneembaar gemaak deur ʼn onderwysstelsel wat ernstig misluk.

[1] https://cramsurvey.org/wp-content/uploads/2021/05/10.-Shepherd-D.-Mohohlwane-N.-Taylor-S.-_-Kotze-J.-2021.-Changes-in-education-A-reflection-on-COVID-19-effects-over-a-year.pdf

[2] https://cramsurvey.org/wp-content/uploads/2021/05/10.-Shepherd-D.-Mohohlwane-N.-Taylor-S.-_-Kotze-J.-2021.-Changes-in-education-A-reflection-on-COVID-19-effects-over-a-year.pdf p24

Minderheidsregte

Suid-Afrika het ʼn paar minderheidsregte wat in die Grondwet vervat is; hierdie regte vind egter nie gereeld uitdrukking in die werklikheid nie.

Suid-Afrika het drie minderheidsrassegroepe: wit mense (9%), Indiërs (2%) en bruin mense (9%). Die groot meerderheid van die Suid-Afrikaanse bevolking is swart (80%).

Ten spyte daarvan dat dit ʼn klein en teoreties beskermde minderheid is, is die wit minderheid die hoofteiken van politieke retoriek van die regerende party.

Ace Magashule, voormalige sekretaris-generaal van die ANC, het in September 2019, toe hy met studente by ʼn politieke saamtrek gepraat het, dit bevraagteken waarom xenofobiese geweld nooit teen wit mense gemik is nie. In die lig van xenofobiese aanvalle in September 2019, het Magashule na wit mense as buitelanders verwys, en geïnsinueer dat hulle teikens vir xenofobiese geweld behoort te wees.

Julius Malema, huidige leier van die derde grootste politieke party, die Economic Freedom Fighters (EFF), het in 2016 by ʼn politieke saamtrek vir  ʼn toekomstige volksmoord teen wit mense gevra. Tydens sy toespraak, voor ʼn ontstoke skare, het hy verkondig: “Ons doen nie nou al ʼn beroep op die slagting van wit mense nie, nog nie”. 1 Nadat dit by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) as haatspraak aangemeld is, het die MRK in 2019 bevind dat Malema se toespraak nie die drempel vir haatspraak gehaal het nie omdat “kwesbare groepe woede en pyn deur robuuste spraak moet kan uitdruk”. 2

Tydens ʼn perskonferensie in 2018 het die minister van justisie gesê dat die regering slegs grond sal onteien en nie nasionaliseer nie, want as hy grond nasionaliseer, kan swart mense se grond onteien word. Die beleid is dus daarop gemik om mense van ander rassegroepe as swart mense se grond te onteien.3

Ten spyte van politieke retoriek wat al hoe meer onstabiel raak teen minderhede, en veral teen die wit minderheid, is die realiteit op voetsoolvlak dat minderhede dit al hoe moeiliker vind om regte in Suid-Afrika te verwesenlik.

Die Konstitusionele Hof van Suid-Afrika het in ʼn waterskeidingsuitspraak bevind dat Afrikaans nie as onderrigtaal by die Universiteit van die Vrystaat (UV) in Suid-Afrika gebruik mag word nie omdat dit rasseskeiding kan veroorsaak. 4

Dit het beduidende implikasies vir die basiese reg op onderwys vir minderhede in Suid-Afrika, Afrikaans is een van die amptelike tale van Suid-Afrika, en een van slegs twee tale wat volgens akademiese standaarde ontwikkel is. Trouens, in ʼn daaropvolgende uitspraak oor die gebruik van Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch, voer die Konstitusionele Hof aan dat indien burgers in Afrikaans onderrig wil word, hulle privaat instellings sal moet bou.5

Artikel 29 van die Suid-Afrikaanse Grondwet waarborg die reg op onderwys in die amptelike taal van jou keuse in openbare onderwysinstellings in Suid-Afrika. Dit is vreemd vir die Konstitusionele Hof om bloot hierdie verantwoordelikheid van die staat te verwerp en ʼn beroep te doen op “korporatiewe burgers se gees van vrygewigheid” om hierdie reg te verwesenlik. 6

 

[1] https://www.iol.co.za/news/politics/malema-not-calling-for-the-slaughter-of-whites-for-now-2087713

2 https://businesstech.co.za/news/government/305318/malemas-not-slaughtering-white-people-for-now-comments-not-hate-speech/

3 https://www.sowetanlive.co.za/news/south-africa/2018-08-01-anc-plans-to-give-ownership-of-land-directly-to-dispossessed-black-people/

4 https://ewn.co.za/2017/12/29/concourt-upholds-ufs-decision-to-switch-language-policy-to-english

5https://www.concourt.org.za/index.php/judgement/338-gelyke-kanse-and-others-v-chairperson-of-the-senate-of-the-university-of-stellenbosch-and-others-cct311-17

Demografie

Demografie is die uiteindelike lotsbepaler van nasies. In Suid-Afrika het demografie ʼn kritieke rol in die vorming van die land gespeel.

Sedert 1965 was die demografiese druk op die wit minderheidsregering duidelik en dit sou onvermydelik tot ʼn oordrag van mag lei. In ʼn sekere sin was die 1994-verkiesing dus voorafbepaal deur Suid-Afrika se demografiese werklikhede.

Figuur 1: Suid-Afrika se totale bevolkingsgroei

Suid-Afrika het sedert 1960  ʼn sterk bevolkingsgroei ervaar met die bevolking wat meer as verdubbel het van die 17 miljoen in 1960 tot die 55 miljoen wat dit volgens die jongste beramings is. Hierdie bevolkingstoename het nie gelykvormig onder alle rassegroepe plaasgevind nie.

Bron: Statistieke Suid-Afrika

Dit het tot die huidige rasseverdeling van 80% swart, 9% bruin, 9% wit en 2% Indiër gelei.

Die Solidariteit Beweging bemoei hom hoofsaaklik met die Afrikaner- kulturele groep. Suid-Afrika hou ongelukkig nie data volgens etnisiteit by nie, slegs volgens taal en ras. As ons die wit Afrikaanse bevolking as aanwyser vir die groter Afrikaanse kultuurgroep gebruik, het die persentasie van die bevolking wat die Afrikaners verteenwoordig in 2011 tot 4,8% gedaal.

Hierdie demografiese werklikhede skep die konteks vir begrip oor die ruimte waarbinne die Solidariteit Beweging funksioneer.

Gesondheid

Aanduiders
Suid-Afrika se gesondheidsorgstelsel het die afgelope twee dekades op die rand van ineenstorting gewankel. Die vigspandemie in die besonder het Suid-Afrikaanse gesondheidsorg besonder swaar getref met die regering wat oënskynlik nie in staat was om betyds of behoorlik daarop te reageer nie.

Kindermortaliteit het die afgelope paar jaar verbetering getoon, maar is steeds onaanvaarbaar hoog met Suid-Afrika wat die 62ste plek uit 233 lande ter wêreld beklee.

Bron: CIA Factbook

Lewensverwagting het verbeter nadat die vigskrisis verwoesting onder die lewensverwagting gesaai het. Tog is dit steeds ver agter di lewensverwagting in ander Afrikalande. In vergelyking met die tradisionele Westerse wêreld is Suid-Afrikaanse lewensverwagting erg agter.

Volgens die CIA Factbook kom Suid-Afrika, wat lewensverwagting betref, 190ste uit 223 – met ʼn lewensverwagting van 64,1% van die breë bevolking aldus die nuutste weergawe.

Bron: CIA Factbook

Politiek

Politieke onstuimigheid en algemene onbevoegdheid het die afgelope dekade ʼn verwoestende uitwerking op die gesondheidsorgstelsel gehad. In 2016 is die land deur die Life Esidimeni-tragedie geskud. Tydens die skandaal het die Gautengse departement van gesondheid die dood van meer as 144 geestesongestelde pasiënte veroorsaak. Die departement het hierdie pasiënte in die sorg van verskeie NRO’s geplaas wat nie vir sodanige dienste gelisensieer was nie, en dus onwettig bedryf is. Hierdie fasiliteite het nóg die fasiliteite nóg die kundigheid gehad om behoorlik na die pasiënte om te sien en die pasiënte is tot so ʼn mate verwaarloos dat hulle dood is. Dit was ongetwyfeld een van die grootste menseregteskendings in die demokratiese Suid-Afrika.

MIV/vigs bly steeds een van die grootste uitdagings wat ons in Suid-Afrika in die gesig staar. Ten spyte van hierdie onthutsende werklikheid, het presidente dit in die verlede roekeloos hanteer ten koste van burgers. ʼn Voormalige president, Thabo Mbeki, was die eerste een wat omstrede uitsprake oor vigs gemaak het. Hy het regdeur sy presidentskap verkondig dat ʼn gesonde dieet ʼn beter behandelingswyse as antiretrovirale medikasie is. Mbeki, wat ook gereeld ʼn vigsontkenner genoem is, het die dood van honderde duisende Suid-Afrikaners wat MIV+ is, indirek veroorsaak deurdat daar getalm was met die proses om antiretrovirale medikasie in die openbare sektor beskikbaar te stel. Hierdie vertraging het gelei tot sowat 300 000 sterftes en 35 000 babas wat MIV+ gebore is. Dit is iets wat vermy kon gewees het as die voormalige president en sy minister van gesondheid nie hierdie werklikheid ontken het nie. In 2005 het Suid-Afrika se algemene lewensverwagting vanaf 62 in 1990 tot ʼn verstommende laagtepunt van 52 in 2005 gedaal, dit terwyl die lewensverwagting van Suid-Afrikaners sonder vigs 66 in 2005 was. Hierdie verskil van 14 jaar illustreer die praktiese reperkussies van politieke invloed.

Ná Mbeki het ʼn ander president uiters kontroversiële menings oor MIV/vigs gehuldig. Oudpresident Jacob Zuma het aan die hand gedoen dat deur ná onbeskermde seks ʼn stort te neem voldoende infeksievoorkoming bied.

As in ag geneem word dat MIV/vigs steeds een van die grootste uitdagings is wat ons in die gesig staar, het onverantwoordelike en oningeligte stellings soos hierdie duidelik ʼn baie tasbare en vernietigende uitwerking op Suid-Afrika.

Covid-19

Suid-Afrika se gesondheidstelsel was heeltemal onvoorbereid op die Covid-19-pandemie wat reeds sukkel met ʼn verhouding van slegs 0,9 dokters per 1 000 mense[1] wat ver onder die wêreldgemiddeld van 1,9 dokters per 1 000 mense vir hoër middelinkomstelande is.

Pres. Ramaphosa het in Maart 2020 ʼn nasionale inperking afgekondig om gesondheidsorgdienste in gereedheid te bring vir die onvermydelike golf van Covid-19-gevalle wat dié dienste in die gesig staar. Ongelukkig is die tyd nie na behore gebruik nie. Amper geen kapasiteit is geskep nie met die Suid-Afrikaanse regering wat net een veldhospitaal met omtrent 800 beddens in ses maande kon oprig. Hospitaalkapasiteit is glad nie verhoog nie en slegs 2 700 ventilators is bekom teenoor die geraamde 12 000 wat benodig sou word. Die VSA het 2 000 van hierdie 2 700 ventilators geskenk.

Op die ou end was die Suid-Afrikaanse gesondheidsorgstelsel onder die uiterste druk met Covid-19 wat ʼn enorme tol onder gesondheidswerkers sowel as die Suid-Afrikaanse bevolking geëis het. Alhoewel die amptelike sterftesyfer op 55 000 Covid-19-sterftes te staan kom, is die oormaatsterftes tydens die pandemie die meer deurslaggewende statistiek.

[1] https://data.worldbank.org/indicator/SH.MED.PHYS.ZS?contextual=aggregate&locations=ZA

Oormaatsterftes vir die Covid-19-pandemie

Deur oormaatsterftes as meetstandaard te gebruik, word beraam dat Suid-Afrika meer as 130 000 sterftes wat aan Covid-19 toegeskryf kan word, gehad het. Die meeste provinsies kon eenvoudig nie behoorlik rekord hou nie en was oorweldig. Daar was byvoorbeeld ook nie genoeg kiste in die Oos-Kaap toe die pandemie ʼn hoogtepunt bereik het.

Terwyl die wêreld weer oopgegaan het nadat inentingsveldtogte kritieke massa bereik het, het Suid-Afrika ʼn ernstige agterstand. Met ʼn inentingskoers van net meer as 1% wat in Junie 2021 behaal is, is Suid-Afrika ver onder die wêreldgemiddeld van 10,93%.

Inenting in Suider-Afrika

Inenting in Suid-Afrika teenoor inenting in die wêreld

Wat selfs nog meer kommerwekkend is, is dat die Suid-Afrikaanse regering eers in Januarie 2021 begin beplan het aan die ontplooiing van entstowwe ná openbare druk op die regering. Ten spyte van hierdie algehele mislukking aan die kant van die regering, dring die Suid-Afrikaanse regering steeds daarop aan om die enigste aankoper van entstowwe vir die hele land te wees. Trouens, die regering het aktiewe stappe gedoen om te verhoed dat privaat burgers, mediese fondse en NRO’s entstowwe bekom.

Suid-Afrika het sedert Mei 2021 ʼn derde vlaag van koronavirusinfeksies betree, maar ná meer as ʼn jaar ná die aanvanklike inperking, is bykans geen bykomende gesondheidsorgkapasiteit geskep nie. Boonop is slegs 1% van die bevolking al ingeënt. Die destydse minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, is by ʼn korrupsieskandaal betrek met bewerings dat sy vriende die departement van gesondheid tydens die pandemie en met sy medewete met meer as R150 miljoen bedrieg het. Boonop word verskeie ander gevalle van bedrog ondersoek teen ANC-amptenare wat noodfondse, wat aan gesondheidsorg tydens die Covid-19-pandemie toegeken is, geplunder het. [1]

[1] https://health-e.org.za/2020/09/02/auditor-general-report-covid-19-fund/

 

Werkloosheid

Suid-Afrika het konsekwente hoë werkloosheid, met die mees onlangse syfers wat dit op 32,3% bereken. Suid-Afrika is een van die min lande ter wêreld wat nie ʼn daadwerklike afname in werkloosheid ervaar het ná die wêreldwye resessie van 2008 nie, met werkloosheid wat eerder op onvolhoubare vlakke van meer as 25% gebly het. Meer as 75% van die werkloses in Suid-Afrika is vir meer as 12 maande werkloos, wat ‘n aanduiding is van langtermyn strukturele werkloosheid as ʼn sleutelprobleem van die Suid-Afrikaanse ekonomie.

Werkloosheid in Suid Afrika

Die Covid-19-pandemie het algehele verwoesting gesaai ten opsigte van werkloosheid. Hoewel onlangse syfers werkloosheid op 32,3% stel, spring werkloosheid tot 43,6% wanneer ontmoedigde werksoekers ook in ag geneem word. Dit impliseer dat byna die helfte van alle bekwame volwassenes nie werk het nie.

Alhoewel werkloosheid onaanvaarbaar hoog is, het Suid-Afrika die hoogste jeugwerkloosheidsyfer ter wêreld. Die mees onlangse vrystelling van werkloosheidstatistieke het jeugwerkloosheid op 74% geraam.[1] [2]

Ten spyte van die massiewe indiensnemingskrisis is die ANC-regering besig om streng regulasies ten opsigte van regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging na te volg – wat dit moeiliker maak om ʼn sakeonderneming in Suid-Afrika te begin. Daarbenewens was die ANC se reaksie op werkloosheid wat 30% oorskry, om die minimum loon te verhoog.[3]

[1] https://www.biznews.com/thought-leaders/2021/04/24/unemployment-south-africa

[2] http://www.statssa.gov.za/publications/P0211/P02111stQuarter2021.pdf

[3] http://www.labour.gov.za/employment-and-labour-minister-tw-nxesi-announces-minimum-wage-increases

 

Volgens die verslag oor hoe maklik dit is om ʼn sakeonderneming te bedryf (“Ease of Doing Business”-verslag) deur die Wêreldbank beklee Suid-Afrika die 82ste plek uit 190 lande. In die afdeling oor hoe maklik dit is om ʼn nuwe sakeonderneming te begin (“Ease of Starting a New Business”) het Suid-Afrika tot die 134ste plek afgeskuif.

Deur streng inperkingsmaatreëls af te dwing op ʼn land met ʼn ernstige werkloosheidsprobleem en ʼn groot aantal mense wat in die informele sektor werk, het die regering in werklikheid 2 miljoen volwassenes uit diens gestel. Die uitwerking hiervan kan gesien word in hongersnood wat ná die inperkingstyd dramaties toegeneem het, met bykans die helfte van Suid-Afrikaanse huishoudings wat tans nie genoeg geld in ʼn maand het om kos te koop nie. [1]

Om dit eenvoudig te stel, die werkloosheidkrisis is eenvoudig ondeurgrondelik, veral gegewe die feit dat die regering se optrede die krisis net vererger. Te midde van die ekonomiese nagevolge van die pandemie het die regering daarop aangedring om ras as kriteria vir hulpfondse vir sakeondernemings te gebruik, asook om selfs strenger regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging te implementeer. Die mees onlangse voorbeeld hiervan is die Mededingingskommissie se besluit om die verkryging van Burger King Suid-Afrika deur ‘n internasionale maatskappy te verhinder omdat dit swart aandeelhouding sou verwater.[2]  Dit bedreig byna 100 restaurante en duisende werknemers, terwyl dit ook buitelandse beleggings afskrik te midde van die hoogste werkloosheidsyfer op rekord.

[1] https://cramsurvey.org/wp-content/uploads/2021/02/10.-Van-der-Berg-S.-Patel-L.-Bridgman-G.-2021-Hunger-in-South-Africa-during-2020-Results-from-Wave-3-of-NIDS-CRAM-1.pdf

[2] https://www.news24.com/fin24/companies/sale-of-burger-king-south-africa-blocked-over-lack-of-black-ownership-20210601

Onteiening sonder vergoeding

Die Suid-Afrikaanse regering het onlangs (middel 2017) ʼn beleid om grond sonder vergoeding te onteien, aggressief begin navolg.

Dit het ʼn vernietigende uitwerking op sakevertroue, direkte buitelandse investering en vastekapitaal-vorming gehad.

Alhoewel daar tekens van herstel was toe ʼn nuwe president in Januarie 2018 verkies is, het die voortsetting van hierdie beleide binne ʼn jaar alle winste wat behaal is, geërodeer.

Vastekapitaal-vorming

Regstreekse buitelandse belegging

 

Sakevertroue

 

Soos uit die grafieke hierbo gesien kan word, is sakevertroue reeds langer as vyf jaar onder die vlak van 50, met rekordlaagtepunte wat tydens die inperkingstyd bereik is – maar sakevertroue was reeds voor die inperkingstyd ook laag. Hierdie aanwysers toon dat die Suid-Afrikaanse ekonomie reeds vir ʼn lang tyd op ʼn afwaartse trajek was, wat bevestig is deur die afgradering van die Suid-Afrikaanse ekonomie na sub-beleggingsgraad in 2017.

BBP-groei

Alhoewel Suid-Afrika die afgelope twee dekades beskeie BBP-groei in ZAR-gebaseerde terme getoon het, is die realiteit dat die Suid-Afrikaanse ekonomie gestagneer het, en in reële terme selfs agteruitgegaan het. Wat BBP-groei betref, het Suid-Afrika oor die afgelope tien jaar agtergeraak by sy bure in Afrika suid van die Sahara, ontluikende markte en selfs die wêreld.

Geannualiseerde BBP-groeikoers

 

BBP-groeikoers teenoor eweknieë

https://www.imf.org/external/datamapper/NGDP_RPCH@WEO/OEMDC/ADVEC/WEOWORLD

Die twee grafieke hierbo dui op ʼn ekonomie wat reeds aan die afneem was, wat in ʼn resessie gegaan het en op die punt staan om in ʼn depressie in te gaan. Dit is belangrik om daarop te let dat Suid-Afrika in 2018 en 2019, voor die Covid-19-pandemie, in ʼn tegniese resessie gegaan het. Die Suid-Afrikaanse ekonomie was reeds in die moeilikheid weens swak beleide en wanbestuur. Die Covid-19-pandemie het die reeds bestaande neigings bloot vererger.

 

Wanneer die BBP en die BBP per capita in Amerikaanse dollar gemeet word, verander die prentjie dramaties.

BBP in VSA-dollar – miljard

 

BBP per capita in VSA-dollar

Hierdie twee syfers toon duidelik ʼn verswakkende ekonomie in reële terme. Om dit duidelik te stel, die gemiddelde Suid-Afrikaner se koopkrag in die wêreld het oor die afgelope dekade afgeneem.
Dit kan gesien word uit die feit dat Suid-Afrika in die eerste twee kwartale van 2018 en in die laaste twee kwartale van 2019 ʼn resessie binnegegaan het, in teenstelling met die res van die wêreld wat tekens van groei getoon het.

Die neiging dat Suid-Afrikaners in reële terme armer word, het tydens die Covid-19-pandemie onverpoos voortgeduur, met bestaande neigings wat bloot versnel het. Dit dui daarop dat die rede vir die trae ekonomiese groei reeds vóór die pandemie teenwoordig was in die vorm van energietekorte, oormatige regulering en wanbestuur.

Bestaansrede van die Solidariteit Beweging

As land het Suid-Afrika die afgelope twee dekades wat die meeste aspekte betref, agteruitgegaan. Die Covid-19-pandemie het die bestaande tendense eenvoudig versnel.

Wat regeringsfunksionering betref, bestaan dienste – waar ook al die regering dienste behoort te verskaf – feitlik nie. Daar is verskeie uitsonderings, maar oor die algemeen is dit ʼn verhaal van mislukking.

Ekonomies gesproke is Suid-Afrikaners in wêreldterme armer as ʼn dekade gelede. Dit kan toegeskryf word aan ʼn trae ekonomie met hoë strukturele werkloosheid – wat voortdurend deur die voortsetting van skadelike regeringsbeleid bemoeilik word.

Onstuitbare en volgehoue geweldsmisdaad teister Suid-Afrika sonder enige aanduiding van die polisiediens se vermoë om dit hok te slaan. Korrupsie en wanadministrasie vier hoogty in die polisiediens met gewone burgers wat die ergste onder die krisis deurloop.

Weens ʼn skerp verlaging in standaarde skep Suid-Afrika se onderwysstelsel tallose mense wat onindiensneembaar is. Hoewel die statistieke die omvang van die krisis verbloem, skets die hoogste jeugwerkloosheidskoers ter wêreld die werklike prentjie.

Verouderende infrastruktuur is besig om uitmekaar te val met Eskom wat die ooglopendste geval is. Die onstabiliteit van Suid-Afrika se elektrisiteitsvoorsiening hou verreikende gevolge vir alle fasette van die samelewing in. Nuwe infrastruktuur loop deur onder korrupsie en word deur enorme opgeblase pryse getreiter.

Dit alles dui op ʼn regering wat amper nie aanwesig is in die sfere waar ʼn regering normaalweg betrokke behoort te wees nie, maar een wat steeds meer mag wil sentraliseer en steeds meer beheer wil uitoefen.

Een van die voordele van ʼn regering wat aan die inplof is, is dat Suid-Afrika besig is om op ʼn de facto-basis te federaliseer. Hierdie natuurlike federaliseringsproses vind plaas in natuurlike gemeenskappe, – met die inwoners van die kleiner dorpe wat die verantwoordelikheid vir die funksies wat die regering normaalweg behoort te vervul, oorneem.

Dit is in hierdie ruimte – tussen wat die Suid-Afrikaanse regering wil doen en dit waartoe die regering in staat is – waarbinne die Solidariteit Beweging bestaan.

Veiligheid en sekerheid

Ongebreidelde misdaadvlakke

Misdaad het toenemend een van die grootste probleme geword wat Suid-Afrika in die gesig staar, veral geweldsmisdaad. Suid-Afrika se moordsyfer is sedert 2000 ver bo die wêreldgemiddelde. In 2012 was die wêreldkoers 6,2 per 100 000 bevolking. In die tydperk tussen 2000 en 2015 het die Suid-Afrikaanse gemiddelde tussen 29,9 op die laagste en 48,5 op die hoogste gewissel. Dit beteken dat die gemiddeld in Suid-Afrika tussen vyf en agt keer die wêreldgemiddeld was. ’n Moordsyfer van meer as 20 per 100 000 populasie word deur die Verenigde Nasies se kantoor vir dwelmmisbruik en misdaad as hoog beskou. Voorts is Suid-Afrika sedert 2000 in die globale top-10 vir sy moordsyfer, behalwe vir twee jaar.

Die totale aantal misdade wat in ’n jaar in Suid-Afrika aangemeld word, is sowat 2,2 miljoen. Dit was die geval vir omtrent die afgelope 10 jaar. ’n Verslag van 2014 deur die Departement van Justisie het die vervolgingskoers van agt groot polisiestasies nagevors. Dit het getoon dat 75% van sake oor geweldsmisdade nie hof toe gegaan het nie en dat 10% van sake uit die hof teruggetrek is. Slegs 5,7% van misdade het tot suksesvolle skuldigbevinding gelei en 5,4% het tot vryspraak gelei. Dit beteken dat ’n verbysterende 94% van geweldsmisdade geen optrede teen die misdadiger tot gevolg gehad het nie. Met geweldsmisdade wat aan die toeneem is, is dit ’n onaanvaarbare probleem.

Die mees onlangse vrystelling van misdaadstatistiek (Maart 2021) toon dat misdaad, ondanks inperkings en ’n pandemie, steeds toegeneem het, met moord en verkragting wat op ’n jaar tot jaar basis toegeneem het. Terselfdertyd het die Suid-Afrikaanse regering begrotingsbesnoeiings vir die polisiediens aangekondig, en boonop het die minister van polisie wetgewing voorgestel wat daarop gemik is om dit onwettig te maak om ’n vuurwapen vir selfverdediging te besit.[1] [2]

Onluste en plundering in 2021

Op 7 Julie 2021 het die voormalige president van Suid-Afrika, Jacob Zuma, homself oorhandig aan die owerhede om in die Estcourt-gevangenis in KwaZulu-Natal gevange geneem te word weens minagting van die hof.[3] Na maande se regstryd en ’n onwrikbare weiering om voor die Zondo-kommissie – ’n kommissie wat saamgestel is om staatskaping te ondersoek – te verskyn,  is daar bevind dat Jacob Zuma die hof minag omdat hy hofbevele wat deur die Konstitusionele Hof van Suid-Afrika aan hom uitgereik is om te getuig, verontagsaam het.

Weens sy vorige stand en sy bekendheid, het die Konstitusionele Hof beveel dat Jacob Zuma in hegtenis geneem moet word vir minagting van die hof om ’n duidelike boodskap aan ander amptenare te stuur, wat dit mag oorweeg om te weier om voor die Zondo-kommissie te getuig.

Nadat hy in hegtenis geneem is, het grootskaalse oproere en plundering op 9 Julie 2021 in KwaZulu-Natal uitgebreek. Aanvanklik het die plundering beheersd voorgekom, maar dit het vinnig geëskaleer in die afwesigheid van enige betekenisvolle polisie-ingryping. Teen die aan van Sondag 11 Julie 2021 is daar grootskaalse plundering by verskeie winkelsentrums en woongebiede aangemeld.[4]

Teen Maandag, 12 Julie 2021 het die geweld buite beheer geraak met verskeie winkelsentrums en winkels wat gedwing is om toe te maak. Plunderaars het hoofsaaklik kruideniersware- en drankwinkels. Die aand van 12 Julie 2021 het president Ramaphosa die Suid-Afrikaanse publiek toegespreek en die plunderaars gepleit om te stop. Terwyl hy sy toespraak gelewer het, het die plundery onverpoosd voortgegaan terwyl die Suid-Afrikaanse Polisiediens heeltemal afwesig was.

Uiteindelik het gemeenskappe met buurtwagte saamgespan en bekwame mans wat impromptu toegangsbeheerpunte beman en hulle eiendom teen plundering verdedig het. [5] [6]

Die veiligheidsmagte van die Suid-Afrikaanse staat was heeltemal onvoorbereid betrap en ná toenemende openbare druk moes president Ramaphosa die Suid-Afrikaanse Weermag ontplooi om die wydverspreide plundering te probeer bedwing.

Alhoewel die plundery tot ’n mate toe na Gauteng versprei het, was dit meer beheersd en heelwat minder vernietiging het daar plaasgevind as in KwaZulu-Natal.

Die regering het aangedui dat hulle glo die plundery was ’n mislukte opstand, met die president self wat gestel het dat die Suid-Afrikaanse regering ’n poging tot opstand onderdruk het. [7]

Verskeie individue wat met die staat se veiligheidsorganisasies verbind is, is in die nasleep van die oproere gearresteer vir beweerde “aanhitsing tot opstand”.[8] Tot op hede het daar nog geen vervolgings op die arrestasies gevolg nie.

[1] https://www.timeslive.co.za/news/south-africa/2021-02-19-crime-stats-murder-and-rape-increased-in-past-three-months/

[2] https://www.biznews.com/undictated/2021/05/25/firearm-licence

[3] https://www.bbc.com/news/world-africa-57758540

[4] https://www.bbc.com/news/world-africa-57797007

[5] https://www.sowetanlive.co.za/news/south-africa/2021-07-15-community-checkpoints-set-up-to-prevent-looting-are-illegal-and-recipe-for-disaster/

[6] https://www.news24.com/news24/southafrica/news/unrestsa-communities-rally-to-protect-businesses-and-livelihoods-20210714

[7] https://www.sanews.gov.za/south-africa/president-ramaphosa-attempted-insurrection-failed-gain-popular-support

[8] https://mg.co.za/news/2021-07-20-six-instigators-arrested-as-insurrection-investigation-in-kwazulu-natal-and-gauteng-gains-momentum/

Inleiding
Hoofstuk 1
Hoofstuk 2
Hoofstuk 3
Hoofstuk 5
Hoofstuk 7
Hoofstuk 8
Hoofstuk 12
Hoofstuk 15
Hoofstuk 16
Hoofstuk 17
Hoofstuk 19
Hoofstuk 20
Hoofstuk 21
Hoofstuk 22
Hoofstuk 23
Hoofstuk 25
Hoofstuk 27
Hoofstuk 28
Hoofstuk 31
Hoofstuk 32
Hoofstuk 34
Slot

Geskiedenisfonds

ʼn Fonds wat help om die Afrikanergeskiedenis te bevorder.

FAK

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) is reeds in 1929 gestig. Vandag is die FAK steeds dié organisasie wat jou toelaat om kreatief te wees in jou taal en kultuur. Die FAK is ’n toekomsgerigte kultuurorganisasie wat ’n tuiste vir die Afrikaanse taal en kultuur bied en die trotse Afrikanergeskiedenis positief bevorder.

Solidariteit Helpende Hand

Solidariteit Helpende Hand fokus op maatskaplike welstand en dié organisasie se groter visie is om oplossings vir die hantering van Afrikanerarmoede te vind.

Solidariteit Helpende Hand se roeping is om armoede deur middel van gemeenskapsontwikkeling op te los. Solidariteit Helpende Hand glo dat mense ʼn verantwoordelikheid teenoor mekaar en teenoor die gemeenskap het.

Solidariteit Helpende Hand is geskoei op die idees van die Afrikaner-Helpmekaarbeweging van 1949 met ʼn besondere fokus op “help”, “saam” en “ons.”

Forum Sekuriteit

Forum Sekuriteit is in die lewe geroep om toonaangewende, dinamiese en doeltreffende privaat sekuriteitsdienste in

Suid-Afrika te voorsien en op dié wyse veiligheid in gemeenskappe te verhoog.

AfriForumTV

AfriForumTV is ʼn digitale platform wat aanlyn en gratis is en visuele inhoud aan lede en nielede bied. Intekenaars kan verskeie kanale in die gemak van hul eie huis op hul televisiestel, rekenaar of selfoon verken deur van die AfriForumTV-app gebruik te maak. AfriForumTV is nóg ʼn kommunikasiestrategie om die publiek bewus te maak van AfriForum se nuus en gebeure, maar ook om vermaak deur films en fiksie- en realiteitsreekse te bied. Hierdie inhoud gaan verskaf word deur AfriForumTV self, instellings binne die Solidariteit Beweging en eksterne inhoudverskaffers.

AfriForum Uitgewers

AfriForum Uitgewers (voorheen bekend as Kraal Uitgewers) is die trotse uitgewershuis van die Solidariteit Beweging en is die tuiste van Afrikaanse niefiksie-, Afrikanergeskiedenis- én prima Afrikaanse produkte. Dié uitgewer het onlangs sy fokus verskuif en gaan voortaan slegs interne publikasies van die Solidariteit Beweging publiseer.

AfriForum Jeug

AfriForum Jeug is die amptelike jeugafdeling van AfriForum, die burgerregte-inisiatief wat deel van die Solidariteit Beweging vorm. AfriForum Jeug berus op Christelike beginsels en ons doel is om selfstandigheid onder jong Afrikaners te bevorder en die realiteite in Suid-Afrika te beïnvloed deur veldtogte aan te pak en aktief vir jongmense se burgerregte standpunt in te neem.

De Goede Hoop-koshuis

De Goede Hoop is ʼn moderne, privaat Afrikaanse studentekoshuis met hoë standaarde. Dit is in Pretoria geleë.

De Goede Hoop bied ʼn tuiste vir dinamiese studente met Christelike waardes en ʼn passie vir Afrikaans; ʼn tuiste waar jy as jongmens in gesonde studentetradisies kan deel en jou studentwees met selfvertroue in Afrikaans kan uitleef.

Studiefondssentrum

DIE HELPENDE HAND STUDIETRUST (HHST) is ʼn inisiatief van Solidariteit Helpende Hand en is ʼn geregistreerde openbare weldaadsorganisasie wat behoeftige Afrikaanse studente se studie moontlik maak deur middel van rentevrye studielenings.

Die HHST administreer tans meer as 200 onafhanklike studiefondse namens verskeie donateurs en het reeds meer as 6 300 behoeftige studente se studie moontlik gemaak met ʼn totaal van R238 miljoen se studiehulp wat verleen is.

S-leer

Solidariteit se sentrum vir voortgesette leer is ʼn opleidingsinstelling wat voortgesette professionele ontwikkeling vir professionele persone aanbied. S-leer het ten doel om werkendes met die bereiking van hul loopbaandoelwitte by te staan deur die aanbieding van seminare, kortkursusse, gespreksgeleenthede en e-leer waarin relevante temas aangebied en bespreek word.

Solidariteit Jeug

Solidariteit Jeug berei jongmense voor vir die arbeidsmark, staan op vir hul belange en skakel hulle in by die Netwerk van Werk. Solidariteit Jeug is ʼn instrument om jongmense te help met loopbaankeuses en is ʼn tuiskomplek vir jongmense.

Solidariteit Regsfonds

ʼn Fonds om die onregmatige toepassing van regstellende aksie teen te staan.

Solidariteit Boufonds

ʼn Fonds wat spesifiek ten doel het om Solidariteit se opleidingsinstellings te bou.

Solidariteit Finansiële Dienste (SFD)

SFD is ʼn gemagtigde finansiëledienstemaatskappy wat deel is van die Solidariteit Beweging. Die instelling se visie is om die toekomstige finansiële welstand, finansiële sekerheid en volhoubaarheid van Afrikaanse individue en ondernemings te bevorder. SFD doen dit deur middel van mededingende finansiële dienste en produkte, in Afrikaans en met uitnemende diens vir ʼn groter doel aan te bied.

Ons Sentrum

Die Gemeenskapstrukture-afdeling bestaan tans uit twee mediese ondersteuningsprojekte en drie gemeenskapsentrums, naamlik Ons Plek in die Strand, Derdepoort en Volksrust. Die drie gemeenskapsentrums is gestig om veilige kleuter- en/of naskoolversorging in die onderskeie gemeenskappe beskikbaar te stel. Tans akkommodeer die gemeenskapsentrums altesaam 158 kinders in die onderskeie naskoolsentrums, terwyl Ons Plek in die Strand 9 kleuters en Ons Plek in Volksrust 16 kleuters in die kleuterskool het.

Skoleondersteuningsentrum (SOS)

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se visie is om die toekoms van Christelike, Afrikaanse onderwys te (help) verseker deur gehalte onderrig wat reeds bestaan in stand te (help) hou, én waar nodig nuut te (help) bou.

Die SOS se doel is om elke skool in ons land waar onderrig in Afrikaans aangebied word, by te staan om in die toekoms steeds onderrig van wêreldgehalte te bly bied en wat tred hou met die nuutste navorsing en internasionale beste praktyke.

Sol-Tech

Sol-Tech is ʼn geakkrediteerde, privaat beroepsopleidingskollege wat op Christelike waardes gefundeer is en Afrikaans as onderrigmedium gebruik.

Sol-Tech fokus op beroepsopleiding wat tot die verwerwing van nasionaal erkende, bruikbare kwalifikasies lei. Sol-Tech het dus ten doel om jongmense se toekomsdrome met betrekking tot loopbaanontwikkeling deur doelspesifieke opleiding te verwesenlik.

Akademia

Akademia is ’n Christelike hoëronderwysinstelling wat op ’n oop, onbevange en kritiese wyse ’n leidinggewende rol binne die hedendaagse universiteitswese speel.

Akademia streef daarna om ʼn akademiese tuiste te bied waar sowel die denke as die hart gevorm word met die oog op ʼn betekenisvolle en vrye toekoms.

AfriForum Publishers

AfriForum Uitgewers (previously known as Kraal Uitgewers) is the proud publishing house of the Solidarity Movement and is the home of Afrikaans non-fiction, products related to the Afrikaner’s history, as well as other prime Afrikaans products. The publisher recently shifted its focus and will only publish internal publications of the Solidarity Movement from now on.

Maroela Media

Maroela Media is ʼn Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela-gemeenskap wil wees. Maroela Media se Christelike karakter vorm die kern van sy redaksionele beleid.

Kanton Beleggingsmaatskappy

Kanton is ʼn beleggingsmaatskappy vir eiendom wat deur die Solidariteit Beweging gestig is. Die eiendomme van die Solidariteit Beweging dien as basis van die portefeulje wat verder deur ontwikkeling uitgebrei sal word.

Kanton is ʼn vennootskap tussen kultuur en kapitaal en fokus daarop om volhoubare eiendomsoplossings aan instellings in die Afrikaanse gemeenskap teen ʼn goeie opbrengs te voorsien sodat hulle hul doelwitte kan bereik.

Wolkskool

Wolkskool is ʼn produk van die Skoleondersteuningsentrum (SOS), ʼn niewinsgewende organisasie met ʼn span onderwyskundiges wat ten doel het om gehalte- Afrikaanse onderrig te help verseker. Wolkskool bied ʼn platform waar leerders 24-uur toegang tot video-lesse, vraestelle, werkkaarte met memorandums en aanlyn assessering kan kry.

Ajani

Ajani is ‘n privaat geregistreerde maatskappy wat dienste aan ambagstudente ten opsigte van plasing by werkgewers bied.

Ajani is a registered private company that offers placement opportunities to artisan students in particular.

Begrond Instituut

Die Begrond Instituut is ʼn Christelike navorsingsinstituut wat die Afrikaanse taal en kultuur gemeenskap bystaan om Bybelse antwoorde op belangrike lewensvrae te kry.

Sakeliga

ʼn Onafhanklike sake-organisasie

Pretoria FM en Klankkoerant

ʼn Gemeenskapsgebaseerde radiostasie en nuusdiens

Saai

ʼn Familieboer-landbounetwerk wat hom daarvoor beywer om na die belange van familieboere om te sien deur hul regte te beskerm en te bevorder.

Ons Winkel

Ons Winkels is Solidariteit Helpende Hand se skenkingswinkels. Daar is bykans 120 winkels landwyd waar lede van die publiek skenkings van tweedehandse goedere – meubels, kombuisware, linne en klere – kan maak. Die winkels ontvang die skenkings en verkoop goeie kwaliteit items teen bekostigbare pryse aan die publiek.

AfriForum

AfriForum is ʼn burgerregte-organisasie wat Afrikaners, Afrikaanssprekende mense en ander minderheidsgroepe in Suid-Afrika mobiliseer en hul regte beskerm.

AfriForum is ʼn nieregeringsorganisasie wat as ʼn niewinsgewende onderneming geregistreer is met die doel om minderhede se regte te beskerm. Terwyl die organisasie volgens die internasionaal erkende beginsel van minderheidsbeskerming funksioneer, fokus AfriForum spesifiek op die regte van Afrikaners as ʼn gemeenskap wat aan die suidpunt van die vasteland woon. Lidmaatskap is nie eksklusief nie en enige persoon wat hom of haar met die inhoud van die organisasies se Burgerregte-manifes vereenselwig, kan by AfriForum aansluit.