(Gelewer op 2 September 2022)
Dames en here
Skep moed, dit gaan goed! Dít is vandag se tema omdat dit in hierdie tye belangrik is om mekaar te bemoedig. Dit is nodig omdat ʼn aansteeklike siekte skynbaar in die land uitgebreek het wat ons kultuur besmet en ons hoop vernietig. Hierdie nuwe virus laat mense valslik glo dat wat mét ons gebeur meer gewig dra as wat óns laat gebeur – anders gestel, dat wat die regering aan ons land doen, belangliker is as wat ons vir onsself doen. Wat hierdie siening ten grondslag lê, is dat die probleem én die oplossing buite ons beheer is. Met alles wat in die land én die wêreld aangaan, is dit seker te verstane. Maar as almal moedeloos raak en begin glo alles is verlore, dan ís dit verlore. En dit is nie so nie.
Die mensdom se ervaring het oor die eeue gewys dat mense nie die willose slagoffers is van die tye waarin hulle leef nie. Ons is nie die gevangenes van ons omstandighede nie. Ons kan nie altyd ons omstandighede kies nie, maar ons kan kies hoe ons daarop reageer en wat ons daaraan doen. Daarom moet ons die swartgallige meesterverhaal dat daar geen hoop vir die toekoms is nie, verander.
Gemeenskapskrag
Dit beteken nie dat dit goed gaan en dat daar niks is om oor bekommerd te wees nie. Dit beteken net dat ons toekoms meer van onsself as van die ANC afhang. Ons sien immers hoe die regering met al hoe meer mag al hoe minder regkry. Daarom moet ons dit in ons beplanning verreken dat die regering nie ʼn moderne land kan regeer nie. Waar staatsbestuur misluk, is groeiende selfbestuur die enigste uitweg. Ons Beweging is tog reeds die bewys daarvan dat ʼn mens nie magteloos is as jy polities magloos is nie. Dis al bewys dat gemeenskapskrag meer kan bereik as staatsmag.
Politieke verandering en staatkundige hervorming is noodsaaklik, maar ons kan nie daarvoor wag nie. As die regering die land in ʼn nagmerrie verander, gaan ons tog nie ons drome laat vaar nie. Daarom sê ons: “Ons sal self” want ons mag, ons kan, ons moet en ons gaan self die verantwoordelikheid vir ons toekoms aanvaar. Maar terselfdertyd sê ons: “Ons sal saam” want ons wil brûe bou en saamwerk waar ons kan.
Die toekoms is vol onvoorspelbare veranderings maar ook vol oorweldigende geleenthede. Daarom het ons Beweging reeds die keuse gemaak om ʼn tweebeenstrategie te volg: om ons gemeenskap teen bedreigings te beskerm en tweedens om geleenthede te skep om ʼn toekoms te bou. Dit is ʼn beskerm-en-bou-benadering, oftewel ʼn skild-en-troffel-strategie.
Optimisme
Die meesterverhaal oor ʼn donker toekoms spruit voort uit regeringsgedrewe staatsverval. Daarom moet ons begrip hê daarvoor dat mense soms moedeloos raak. As ek sê ons moet hierdie meesterverhaal verander, bedoel ek nie dat ons ʼn feëverhaal moet verkondig wat die werklikhede in die land ontken nie. Nee, ek bepleit ʼn weldeurdagte, realistiese optimisme wat die werklikhede deeglik verreken maar wat terselfdertyd ons gemeenskap se historiese vermoë om krisisse te oorkom ten grondslag het. Dit is roepingsgedrewe opbou teenoor staatsgedrewe verval. Die voorwaarde hiervoor is die herstel van Afrikaners se gesonde kulturele selfvertroue. Dit is wat ons in staat gaan stel om die kulturele kapitaal en energie op te wek wat noodsaaklik is vir ons groot projek om suksesvol te wees.
Die vereiste vir sukses is dat ons planne groter as die probleem moet wees en dat ons dit vinniger moet uitvoer as wat dinge verval. Dit is ʼn reuse-uitdaging wat ons net te bowe sal kan kom as ons die Afrikaners op groot skaal kan besiel om nie net bydraers te wees nie maar begeesterde saam-bouers. Ons sal self maar ons kan dit nie alleen doen nie. Ons het mekaar nodig.
Daarom sal ons die meesterverhaal moet verander. As ons mekaar net moedeloos praat oor alles wat verkeerd loop, is ons deel van die probleem en nie van die oplossing nie. Dan help ons die EFF om Afrikaners landuit te verdryf. Ons uitdaging is om mense te begeester met wat ons besig is om op te bou, eerder as om net saam te praat oor alles wat verval. Daarmee ontken ons nie die werklikhede nie maar erken ons dat die geskiedenis bewys dat oplossings moontlik is.
ʼn Klein volk moet groot dink en groot doen om sy voortbestaan te verseker, het dr. Anton Rupert gesê. Daarom moet ons meer van onsself dink en meer van onsself verwag – wat nie ʼn luide meerderwaardigheid beteken nie maar ʼn stille selfvertroue wat weet waartoe ʼn mens in staat is. Ons weet nie altyd wat en hoe en waarmee nie maar ons weet dat dr. Rupert gesê en bewys het dat waar daar ʼn wil is, die wil die weg word.
Beskawing
ʼn Beskawing of ʼn kultuur kan net voortbestaan as elke geslag vir die volgende een leef en nie net op sy eie korttermynbelange en -uitdagings ingestel is nie. Daarom werk ons as Beweging nie vir die volgende verkiesing nie, maar beplan en bou ons vir die volgende geslag. Ons bou aan die kulturele infrastruktuur om volhoubaar vry, veilig en voorspoedig aan die suidpunt van Afrika te kan voortbestaan. Dit sal ons in staat stel om ʼn blywende bydrae tot die land en al sy mense te kan lewer. Ons bou nie hierdie kulturele ruimtes om onsself apart af te sonder of om ander uit te sluit nie maar juis sodat ons ʼn tuiste het om saam met ander hier te kan bly. Hierdie kulturele tuiste is nodig omdat ons net ʼn normale toekoms wil skep en nie omdat ons na die verlede wil terugkeer nie. Ons verlang immers nie na die verlede onder die Nasionale Party nie, maar sien nie uit na ʼn toekoms onder die ANC nie.
Afrikaners mag aan ons eie kant wees – dit maak ons nie “onkant” nie. As die woord “Afrikaners” vroeër soms met hoofletters gespel is, regverdig dit nie dat ons as gemeenskap nou moet ontbind of kulturele selfmoord hoef te pleeg nie. Dit is nog van geen volk of gemeenskap verwag nie, selfs die Duitsers het net vier jaar ná die Tweede Wêreldoorlog weer hul vryheid teruggekry. Daarom mag ons nie ʼn streep deur ons geskiedenis trek nie maar moet ons dit juis “terugvat” van diegene wat dit kriminaliseer, nie omdat ons dit wil verheerlik nie maar net omdat ons dit wil normaliseer.
Afrikaners het nie oor die oseane gevaar, supermoondhede aangevat, ʼn land opgebou, ʼn taal en kultuur ontwikkel, skole en universiteite gestig, sakeryke opgebou en wêreldklas-prestasies behaal net om nou ondergekry te word deur ʼn korrupte, onbevoegde en rassistiese regering nie. Ons is burgers, nie onderdane nie. Daarom moet ons regtig beter doen want ons kinders verdien beter!
Besembos
Ek wil afsluit met die laaste strofe van Totius se gedig oor die taaie “Besembos”:
…
Maar al slaan om my stam die woedende vlam
wat knett’rende vonke saai;
al kom al die winde, die kwalik gesinde,
om my as uit die wêreld te waai;
al kom ook die dier om sy eetlus te vier; al word ek gekap en gekloof;
al word ek gestowe deur die son daarbowe
wat my laaste sappe wil roof;
nogtans sien ek my hoogte in die vreeslikste droogte
met my altyd groenende top;
en word my wortels verduur én droogte én vuur,
ja ek staan uit my as weer op.
Laat dan mense en diere, droogte en viere,
met al wat hul kwaad wil versin,
maar kom om te kap, te brand en te trap –
ek leef en sal lewe; my dood kry is min!
Ons gaan die toekoms hê wat onsself skep. Kom ons skep moed want dit gaan goed. Kom ons oortuig ons mense om nie langer op die regering te wag nie maar om hierdie opbouprojek te waag. Ons toekoms word nie bepaal deur wat ander aan ons doen nie maar wat ons vir onsself gaan doen.
Flip Buys