(Hierdie stuk is aanvanklik geplaas as meningstuk op Maroela Media, en het op 8 Februarie 2023 verskyn. Bron: https://maroelamedia.co.za/debat/meningsvormers/die-1994-bedeling-is-verby-die-toekoms-wag/ )
Baie mense is met reg moedeloos oor die staatsverval wat al groter afmetings aanneem. Daarom is daar soms ʼn heimwee na tye in die verlede toe dinge “nog gewerk” het. Dit sal egter nie help om na die “ou” óf die “nuwe” Suid-Afrika te verlang nie, die verlede is verby.
Ons sal moet werk aan ʼn “ander” Suid-Afrika waarin daar vir ons ook ʼn toekoms is. As ons kyk na die aannames van 1994 waarop die huidige bedeling gebou is, is dit duidelik dat daardie tyd verby is en nie gaan terugkom nie. Die huidige krisis is té diep om net weer “reggestem” of reggepraat te word. Ons is in ʼn nuwe tydvak en moet met die werklikhede in plaas van ons wense werk.
Die twaalf uitgediende aannames van 1994 was soos volg:
- Die ANC sal Suid-Afrika kan regeer
Die ANC kan nie ʼn moderne land regeer nie. Soos RW Johnson gesê het: “Suid-Afrika kan kies om óf ʼn ANC-regering te hê óf ʼn moderne, nywerheidsekonomie, maar nie albei nie.”
Die gehalte van staatsbestuur word weerspieël in die beroerde ekonomiese syfers, rekord werkloosheid en die staatsverval.
- Die 1994-ooreenkoms sal gerespekteer word
Die ANC het die wese van die 1994-ooreenkoms verbreek, naamlik die verruiling van meerderheidsregering vir minderheidsbeskerming. Hulle maak wette om onreg te “wettig”.
Daarby het die Grondwetlike gelykheid in die praktyk tot ʼn drakoniese rassebedeling gelei waar swart oorheersing met ʼn radikale 80:9:9:2-transformasie-rasseformule afgedwing word. Saam met ander rassewette, soos swart ekonomiese bemagtiging (SEB), het dit ʼn groot rol gespeel in die probleme by Eskom wat die hele land in ʼn krisis gedompel het.
- Kulturele vryheid en minderheidsregte is veilig
Die versekerings dat gemeenskappe se grondliggende regte beskerm sou word, is verbreek. Die beste voorbeeld is die onderwys- en taalbepalings in die Grondwet wat deur die wetgewende, uitvoerende en regterlike gesag onder die dekmantel van radikale “transformasie” verbreek is. Daarby het die grondwetlike instellings wat daaroor moes wag hou, soos die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT) en die artikel 185-kommissie, hulself intussen net as nog ANC-instellings bewys.
- Die ANC is nie meer sosialiste nie
Die ANC het by die grondwetlike onderhandelinge toegewings gemaak om die mag te kry, en het stelselmatig daardie mag gebruik om hul oorspronklike doelstellings te verwerklik. Die ANC volg die ou marxistiese resep dat “demokrasie die kortste pad na sosialisme” is.
Daarvolgens word die politieke mag gebruik om die ekonomiese mag te bekom deur sosialistiese beleidsrigtings soos onteiening sonder vergoeding, gratis hoër onderwys, die beplanning van ʼn onbekostigbare en onwerkbare Nasionale Gesondheidsversekering (NGV), ʼn omvattende welsynstelsel en skerp herverdelende belasting.
- Kiesers stem volgens beleid in plaas van identiteit
Die val van kommunisme is beskou as die aanbreek van ʼn era waar mense nie volgens identiteit sou stem nie, maar volgens beleid. Die verwagting en belofte was dat daar regeringsveranderinge sou kom as die regerende party swak sou regeer, omdat dit as logies gesien is dat kiesers dan die opposisie sou instem.
Dit het nie gebeur nie, en die ANC is sedert 1994 al twaalf keer ingestem, waarvan ses keer in nasionale en ses keer in munisipale verkiesings was. Suid-Afrika is net nóg ʼn demografiese demokrasie waar verkiesings in die praktyk grootliks ʼn rassesensus is, ongeag die ANC se powere regeringsrekord.
- Die vryemarkstelsel en privaat sektor as ekonomiese enjin
Die aanname dat kommunisme geval en die ANC sosialisme afgesweer het, en die markekonomie nou veilig is, is in die praktyk in gevaar. Die ANC is wel nie meer outydse kommuniste nie, maar sien die staat se rol steeds eerder as Broodwinner in plaas van Huishoudster.
Hoewel die privaat sektor nie genasionaliseer is nie, word die meeste sektore so sterk gereguleer dat dit nie meer nodig is nie. Staatsinmenging in die ekonomie en die regering se vasklou aan mislukte staatsondernemings soos Eskom en die SAL, het saam met grootskaalse korrupsie en wanbestuur die ekonomie tot op die rand van die afgrond gedryf.
- Suid-Afrika is ʼn reënboognasie sonder rassewette
Die ANC het sy (rasse-) Afrika-nasionalisme gekamoefleer as “nierassig” en ʼn reënboognasie totdat die magsewewig in die land genoeg verander het vir die herinstelling van ʼn omvattende rassebedeling. Waar gevalle van wit rassisme met staatsmag verpletter word, geld dubbele standaarde met betrekking tot gevalle van swart rassisme. Boonop misbruik die ANC sy staatsmag om sy eie rasse onreg te “wettig” en af te dwing.
- Wonderwerkskikking
Die wonderwerkskikking is ná dertig jaar maar net nog ʼn gewone meerderheidsregering wat dreig om in meerderheidsoorheersing te ontaard.
- Wigte en teenwigte
Daar het min tereggekom van die beloofde “wigte en teenwigte”. Die ANC het die grondwetlike instellings wat oor die demokrasie moes waak feitlik almal gekoöpteer deur kaders daar te ontplooi wat hul beleid uitvoer.
Hoewel die howe al sterk teen korrupsie in regeringskringe opgetree het, deel die Konstitusionele Hof uitdruklik die regering se siening oor radikale transformasie.
- Kundige wit mense is onmisbaar
Die wit gesagsorde het wyd aanvaar dat hul kundigheid in die staatsdiens, openbare ondernemings en groot maatskappye hulle onmisbaar maak – dit was hulle inderdaad. Desondanks is derduisende van hulle uitgetransformeer en het selfs hoogs opgeleide wit mense ʼn bitter klein kans op ʼn senior pos.
Die verval van die meeste kleiner dorpe buite die Wes-Kaap is tekenend van die feit dat die ANC eerder die munisipale dienste ten gronde sal laat gaan as om gekwalifiseerde wit mense aan te stel.
- Suid-Afrika sal nie dieselfde foute as ander Afrikalande maak nie
Kommer dat die ANC dieselfde foute as ander Afrikalande ná onafhanklikheid sal maak, is begroet met beskuldigende uitsprake dat sulke kommer suiwer rassisme is.
Dit word al duideliker dat die ANC niks van sy sosialistiese wortels vergeet het nie, en niks van die gevolge daarvan onthou nie.
- Apartheid is die oorsaak van al die probleme
Die ANC se meesterverhaal oor die verlede het die meesterverhaal van die land geword wat as grondslag vir beleidsbepaling vir die toekoms dien. Die kern hiervan is dat al die grootste probleme van die land deur apartheid veroorsaak is, en dat ʼn omvattende omgekeerde regstelling moet plaasvind om die gevolge daarvan reg te stel.
Hierdie meesterverhaal hou nie rekening met die lang lys redes vir die ontwikkelingsuitdagings in Afrika wat vir Suid-Afrika ook geld nie.
Dit help nie om krampagtig vas te klou aan die mooi bedoelings van 1994 nie. ʼn Bedeling word nie aan sy bedoelings gemeet nie, maar aan sy uitkomste.
Die Nuwe Suid-Afrika is verby, en die Ou Suid-Afrika gaan nie terugkom nie. Ons enigste keuse is om te help bou aan ʼn “ander’ Suidelike Afrika. Ons verlang nie na die verlede onder die NP nie, maar ons sien nie uit na die toekoms onder die ANC nie. Ons gaan die toekoms hê wat ons self skep.