(Hierdie stuk is aanvanklik geplaas as meningstuk op Maroela Media, en het op 12 Desember 2022 verskyn. Bron: https://maroelamedia.co.za/debat/meningsvormers/die-einde-van-n-era-is-ook-die-geboorte-van-n-nuwe-tydperk/ )
Lank gelede is daar met ʼn koning se dood uitgeroep: “Die Koning is dood, lank leef die nuwe Koning!”. Die bedoeling daarmee was om aan te dui dat die koningshuis standhoudend was, al wissel die konings.
Tog het die dood van ʼn koning gereeld tot die einde van ʼn bepaalde era en die opkoms van ʼn nuwe era gelei. So was die onlangse dood van die Britse koningin sprekend van die Verenigde Koninkryk se oorgang vanaf ʼn wêreldmoondheid, toe sy die troon bestyg het, na ʼn gewone middelslagland met haar afsterwe.
In die moderne tyd dui die verandering van staatshoofde nie op gelyklopende veranderings in ʼn land se politieke stelsel nie, omdat die demokratiese bedeling juis bevestig word met die verkiesing van ʼn nuwe premier. Hier is die soomlose wisselings in premiers wat Brittanje die afgelope tyd gehad het, ook ʼn goeie voorbeeld van ʼn bedeling wat voortgaan al verander die regeerder.
Suid-Afrika is egter nie ʼn normale demokrasie, met ʼn seepgladde bedeling, wat gladweg kan voortgaan al wissel die leierskap nie. Mnr. Mbeki se vervanging deur mnr. Jacob Zuma in 2007 het byvoorbeeld ʼn era van ongekende agteruitgang, grootskaalse korrupsie en wydverspreide staatsverval ingelui.
Hoewel die aanwysing van mnr. Ramaphosa as sy opvolger in sekere kringe met groot verwagting gepaard gegaan het, wys die rekord dat hy nie die leierskap gehad het om die toestand te verbeter nie.
Sy powere rekord is nie net daaraan te wyte dat hy ʼn swak leier was nie. Dit is eerder ʼn bevestiging dat die land se probleme veel dieper as sy leier lê. Hoewel die ANC hulself onomwonde as ʼn onbevoegde en korrupte regering bewys het, het Suid-Afrika nie net ʼn regeringsprobleem nie, maar ʼn bedelingsprobleem.
Die land is geografies en demografies heeltemal te uiteenlopend om as ʼn eenheidstaat regeer te word. Die ANC se strategie voor 1994 was om die land onregeerbaar te maak. Die afgelope dertig jaar het gewys dat die land as eenheidstaat inderdaad onregeerbaar is. Dit is nie verbasend as in ag geneem word dat Suid-Afrika groter as agt Europese lande is nie, en bevolkingsgewys selfs nog meer uiteenlopend as hulle is.
Daarom dui die magdom data oor die verdiepende krisisse in die land nie net op die komende einde van die regering nie, maar ook op die naderende einde van die post-1994-bedeling wat as die nuwe Suid-Afrika bekend gestaan het.
Afrikaners kan nie op die kantlyn staan en die ondergaan van die huidige bedeling en die ontstaan van ʼn nuwe een aan bewese onbevoegde politici van die ANC en EFF oorlaat nie. Ons sal met skeppende energie, vindingryke planne en sterk gemeenskapsorganisasies daadwerklik ʼn toekoms moet bou waar Afrikaners blywend vry, veilig en voorspoedig kan voortbestaan.
Die ou Suid-Afrika gaan nie terugkom nie, die nuwe Suid-Afrika kan nie werk nie, en ons sal aan ʼn ander Suid-Afrika moet bou. Ons kinders verdien beter as wat nou in die land aangaan.