(Hierdie stuk is aanvanklik geplaas as meningstuk op Maroela Media, en is op 10 Januarie 2023 geplaas. Bron:https://maroelamedia.co.za/debat/meningsvormers/afrikaners-kan-krisis-as-sputnik-oomblik-gebruik/ )
Op 4 Oktober 1957 het die Sowjetunie die wêreld verstom deur die eerste moondheid te wees om ʼn satelliet in die ruimte te lanseer. Die Sputnik 1 het die Amerikaners diep geskok en totaal verras, en vrese laat posvat dat dit die Sowjets in staat kan stel om die VSA met kernmissiele te bereik.
ʼn Maand later op 3 November 1957, maak die Sowjetunie sy voorsprong nog groter toe hy die hond Laika met Sputnik 2 die ruimte in stuur. Die onderliggende politieke boodskap wat daarmee om die wêreld weerklink het, was dat kommunisme ʼn meer gevorderde stelsel as demokrasie was. Die Amerikaanse verleentheid was nóg groter toe hulle “Vanguard-vuurpyl”, waarmee hulle wou wys dat hulle nie agter is nie, in Desember 1957 nét na lansering ontplof het. Die kommunistiese sukses en Amerikaanse mislukking was ʼn groot slag vir die VSA se selfvertroue, en die wêreld het asem opgehou om te sien wat gebeur.
Die Amerikaners het vinnig en omvattend op hierdie “Sputnik-oomblik” reageer. Onder leiding van president Eisenhower het hulle NASA in Julie 1958 gestig, die Apollo-program geloods en so met mag en mening tot die ruimtewedloop toegetree. President John F Kennedy het in Mei 1961 verklaar dat Amerika die ruimtereis wil wen, en dat daar voor die einde van die sestigs ʼn man op die man sou land.
Vasberade
Vasberade om die ruimte- en tegnologie-wedloop te wen, het die Amerikaners hulle hele skoolkurrikulum hersien en wiskunde en wetenskap beklemtoon. Miljoene dollar is in tegnologiese opleiding en toerusting vir skole en universiteite ingepomp, en daar is op groot skaal in navorsing en ontwikkeling belê.
Die eerste sukses was die maanlanding van Neil Armstrong en sy span op 20 Julie 1969. Maar hierdie historiese prestasie was net die puntjie van die ysberg. Die grootskaalse nasionale poging het tot die ontwikkeling van ʼn magdom nuwe ontdekkings en uitvindings gelei. Groot nuwe sakesektore het ontstaan, lugvaart, elektronika, telekommunikasie en nuwe tegnologie het met groot spronge vooruit gegaan, en selfs die internet se ontstaan is daaraan te danke.
Die aanvanklike kommunistiese voorsprong was eers ʼn reusekrisis vir die Amerikaners, maar uiteindelik was hulle “Sputnik-oomblik” ʼn groot bonus vir die VSA, en het dit hulle dekades vorentoe gevat. Die krisis het die oplossing geword, en die uiteindelike gevolg was dat die Weste die Koue Oorlog gewen en dat kommunisme verloor het.
Israel se ‘Sputnik-oomblik’
Israel se antwoord op hul eie oorlewingskrisis van die 1960’s, is nog ʼn voorbeeld hoe ʼn land se “Sputnik-oomblik” in ʼn blywende voorsprong en suksesverhaal omskep is. Net drie dae voor die bepalende 1967-oorlog teen Egipte en Sirië, het hulle grootste wapenverskaffer, Frankryk, alle lewering aan Israel afgesny. Dit was nie al nie. Die Franse het ook 200 tenks wat Israel reeds bestel het aan Libië gegee, en 50 Mirage-vegvliegtuie waarvoor hulle reeds betaal het aan Sirië gestuur.
Hierdie krisis het Israel in ʼn oorlewingstryd beland, en hulle het na die oorlog dadelik begin om ʼn eie wapenbedryf op te rig – eintlik ʼn onmoontlike projek vir ʼn klein en arm woestynland so groot soos die Krugerwildtuin. Dit het ʼn groot rol gespeel in die opkoms van die Israelse ekonomie en wêreldklas tegnologie-sektor, en dié land het vandag van die hoogste per kop inkomste ter wêreld.
Afrikaneropkoms
Afrikaners se eie geskiedenis getuig ook van hoe ʼn oorlewingstryd tot die ontwikkeling van ʼn moderne land gelei het. Na die Anglo-Boereoorlog is ons voorouers se welvaart uitgewis, derduisende is dood, en die Britte se Verskroeide Aarde het die land verwoes. Dit het die Afrikaners van daardie tyd nie platgeslaan nie, maar juis aangespoor om land en volk in ʼn rekordtyd op te bou.
Nieteenstaande krisisse soos grootskeepse armoede, ʼn burgeroorlog in 1914, die Eerste Wêreldoorlog, die Groot Griep van 1918, en die Depressie van die Dertigers, het hulle binne een geslag soos ʼn feniks uit die asse verrys. Skole, universiteite, maatskappye, koerante, welsynsorganisasies, kultuurverenigings, landbou-unies, dorpe, stede, spoorweë, en destydse reuse soos Eskom is gestig. Daarby is Afrikaans gemoderniseer, en het die land staatkundig en ekonomies groot stappe geneem wat die armblanke vraagstuk opgelos het. Suid-Afrika het die eerste land in Afrika geword om te industrialiseer – ten spyte daarvan dat ons ver vanaf die groot ontwikkelde lande geleë is. Daarby is wêreldklas prestasies op elke gebied behaal, vanaf kernkrag en globale sakeryke tot die eerste hartoorplanting en die ontwikkeling van ʼn moderne kultuur.
“Sputnik-oomblik”
Die vraag is hoe Afrikaners op die huidige dubbele krisis van staatsverval en tweedeklas burgerskap moet reageer? Ons weet nou al dat die ANC nie die land kan bestuur nie, en openlik teen witmense in die algemeen, en Afrikaners in besonder, regeer. Daar is geen teken dat die staatsverval deur die regering omgekeer gaan word nie, en die aanduidings is eerder dat dit vinniger gaan versnel. Die feite wys hard en duidelik dat die ANC se rassebestel en sosialistiese ideologie nie versoenbaar is met ʼn grondwetlike demokrasie, ʼn werkende land en ʼn moderne ekonomie nie.
Dit is begryplik dat die verval, korrupsie, onbevoegdheid en regerende rassisme baie mense moedeloos maak, en dat talle nie meer ʼn toekoms in die land sien nie. Wie nog staatmaak op die ANC, het inderdaad nie hoop nie. Tog bly emigrasie hoogstens ʼn antwoord vir ʼn klein minderheid, en is dit nie ʼn oplossing vir ʼn volk nie. Buitendien sal dit ʼn tragedie vir die land en mensdom wees as ons alles wat oor eeue hier opgebou is los, wegtrek en as kultuur uitsterf. Kom ons gebruik eerder die krisis as Afrikaners se “Sputnik-oomblik”, en begeester mekaar met die opbou van ʼn nuwe toekoms, in plaas dat ons mekaar moedeloos praat oor alles wat verval.
Ons sal self
Die regering is die oorsaak van die probleem, nie die oplossing nie. Hulle regeer soos ʼn besettingsmag wat alles wat hulle oorgevat het verwoes. Ons sal self moet inspring. Ons gaan die toekoms hê wat ons self bou. Die enigste ding wat moeiliker gaan wees as om so ʼn reuseprojek aan te pak, gaan wees om dit nie te doen nie. Ons uitdaging is dat ons oplossings groter as die probleem moet wees, en dat ons dit vinniger sal moet uitvoer as wat die land verval. Maar ons wás al hier, en ons is nog steeds hier! Ons moet dit doen, ons mag dit doen, ons kan dit doen, en ons gaan dit doen.
Die Solidariteit Beweging het lankal hierdie dubbele krisis voorsien, en die afgelope jare aan ʼn omvattende kulturele infrastruktuur begin bou in die plek van alles wat verval of oorgevat is. Ons wag nie vir die volgende verkiesing nie, ons werk vir die volgende geslag. Daarom gaan ons eersdaags nuwe planne bekendmaak om verdere momentum aan ons kulturele bouprojek te gee. Die hede gaan nie weggaan nie, die verlede gaan nie terugkom nie, en die toekoms gaan nie vanself regkom nie. Ons voorouers het hulle tyd se krisis opgelos, ons kan ons tyd s’n oplos. Ons kinders verdien immers beter!