Dit voel of my hart wil breek oor Eskom. Daar is ’n paar redes hiervoor. Op ’n persoonlike vlak was Eskom my eerste werk ná my studies. My loopbaan het op die Matimba-kragstasie by Ellisras begin. My aardse besittings het alles in my beskeie studentekarretjie se bagasiebak ingepas toe ek daar aankom. Eskom het my lewe verander. Ek het nou ’n regte werk en ’n inkomste gehad, en die beste van alles – ’n Eskom-huis! Dit was destyds ’n topmaatskappy en ek het baie by my kollegas geleer.
Afskeid
Namate die land en Eskom die groot historiese stroomversnellings van die vroeë negentigs ingegaan het, het ek en my vrou met ’n swaar hart van Eskom afskeid geneem. Ek was maar taamlik skepties oor al die mooi beloftes en bedoelings van die politici. My indruk was dat die ANC ’n wolf in skaapsklere was, en eers hul ware kleure sou wys nadat hulle stewig in die regerende saal is. Daarom het ek my gewig by die vakbond ingegooi, met nie veel meer was as ’n droom om dit uit te bou tot ’n nuwe helpmekaarbeweging nie.
Die tweede rede hoekom die Eskom-krisis my só swaar tref, is omdat dit die land en sy mense so hard tref. Honderdduisende goeie mense het hulle werk, inkomste en hoop verloor as gevolg van die ekonomiese krisis wat deur Eskom veroorsaak is. Die Zimbabwe-spook het begin loop, duisende mense uit die land laat stroom en gesinne en families verskeur.
Maar daar is ’n derde rede hoekom die Eskom-krisis my so hard tref. Dit is die besef dat Eskom net die sigbaarste teken van die verval in die res van die land is. Dit is net die punt van die ysberg wat bo die water uitsteek. Onder die waterlyn lê die res van dieselfde ANC-toegediende krisisse; minder sigbaar, maar net so ernstig. Dit is die talle vervalle dorpe, staatshospitale, skole, polisiekantore, staatsdepartemente en die verterende korrupsie wat aan die bloeiende liggaam van die land vreet.
Opbou
Die oordosis slegte nuus maak baie mense só moedeloos dat hulle hoop verloor en eerder landuit wil gaan. Gelukkig is alles nie slegte nuus nie. Vir elke stukkie staat wat verval, is daar iets wat opgebou word:
- Vir elke hospitaal wat verval het, is daar ’n wêreldklas- privaat hospitaal opgebou
- Vir elke polisiekantoor wat verval, is daar ’n werkende sekuriteitsmaatskappy
- Vir elke staatsmaatskappy soos die Poskantoor wat verval het, het daar ’n privaat maatskappy ontstaan wat daardie diens lewer en mense werk gee
- Vir elke staatsbiblioteek wat verval, het nuwe tegnologie dit vir mense moontlik gemaak om toegang tot digitale inligting te kry
- Vir elke dorp wat verval, ontstaan daar ’n werkende “privaat dorp” in al die stede
- Vir elke skool wat verval, word ’n presterende privaat skool opgerig.
Boonop maak duisende sakeondernemings en gewone mense hulself meer staatsbestand deur hulle eie kragopwekkers of sonkragstelsels aan te skaf.
Toekoms
Die Solidariteit Beweging is deel van hierdie opbouproses. Dis hoekom ons ’n opboubeweging is, wat bou aan ons gemeenskap se werk, veiligheid, onderwys, opleiding, media en dorpe. Die groot uitdaging waaraan ons ook werk, is om hierdie dienste bekostigbaar te hou, en om met ’n valkoog te kyk dat die regering nie ons swaarverdiende belastinggeld verder uitmors nie.
Net soos Eskom die simbool van verval is, is Sol-Tech en ons talle ander projekte vir my die simbole van die opbouproses waarmee ons besig is.
Daarom moet ons nie toelaat dat die Eskoms van die wêreld ons moedeloos maak nie. Kom ons bou ons toekoms. ’n Toekoms is nie iets waarheen jy gaan nie, maar iets waaraan jy bou. Dis nie soos ’n pad waarop jy net kan ry nie, maar waaraan jy bou.
Kom laat ons dan uitstyg bo die negatiwiteit en pessimisme van die dag, en met ’n positiewe gesindheid help met die heropbou.
Soos die beroemde ekonomiese historikus van Harvard prof. David Landes gesê het: “In this world, the optimists have it, not because they are always right, but because they are positive. Even when wrong, they are positive, and that is the way of achievement, correction, improvement, and success. Educated, eyes-open optimism pays; pessimism can only offer the empty consolation of being right.”
Dis tog ons plig en ons voorreg om vir ons kinders ’n beter toekoms te los as wat ons gekry het.
(Bron: Solidariteit Tydskrif Maart 2019)