(Hierdie toespraak is gelewer as inleiding tot die 2019 Toekomsberaad wat op 10 Oktober plaasgevind het)
“Oos wes, tuis bes.” Hierdie bekende spreekwoord verwoord die tydlose versugting van die mensdom na ’n blye tuiskoms ná ’n tyd in die vreemde. Ons almal geniet ’n interessante reis, maar dis lekker om weer terug te kom by jou huis – daar waar jy werklik tuis is.
Die vreemde voel soms maar … vreemd. Daar is seker net een ding wat net so lekker is as ’n opwindende reis na ’n vreemde plek, en dit is om na ’n lang afwesigheid moeg en vol verlange na jou huis, jou mense en jou tuiskomplek terug te kom. Wat geld vir ’n kort reis, geld soveel te meer vir ’n langtermynbesoek of permanente emigrasie. Dis nie maklik om jou wortels op te trek, jou tuiste agter te laat en dan sak en pak na ’n vreemde land te trek nie. Sielkundiges sien ’n gewone verhuising naas die afsterwe van ’n geliefde as een van die stresvolste lewenservarings. Om vir altyd van jou tuiste af weg te trek na ’n vreemde plek is veel erger. Tuisloosheid is traumaties, en dit neem ’n lang tyd om van ’n vreemde plek weer ’n tuiste te maak.
Die Franse beeldhouer Bruno Catalano het die hartverskeurende leemte van ’n mens wat sy land, sy familie en sy mense vir ’n ander lewe in die vreemde verlaat, treffend in verskeie standbeelde uitgebeeld. Catalano het geweet waarvan hy praat, hy moes self as jong Siciliaanse man Marokko verlaat en in Frankryk gaan hervestig. Sy reeks bronsbeelde van reisigers word gekenmerk deur ’n deel van hulle lywe wat weggelaat is, byna asof dele van hulle liggame by die huis agtergebly het en asof net ’n deel by hulle bestemming gaan uitkom.
Catalano se reisende standbeelde beeld die verlies en vervreemding van baie Afrikaners uit – dié wat reeds weggedryf is, en dié wat innig na hulle verlang. Dis asof Jan FE Celliers se “Dis al” weer uit die waas van die verlede gekom het om mense se gevoelens te beskryf wie se geliefdes soos ballinge oor die oseaan weggegaan het en net die grafte van hulle voorsate in die gras van verwaarloosde begraafplase agtergebly het. Voorsate wat met ’n skip hierheen gevaar het, en van waar hulle nageslag nou met vliegtuie wegvlieg, vanaf die vreemde na die vreemde.
Dis die blond,
dis die blou:
dis die veld,
dis die lug;
en ‘n voël draai bowe in eensame vlug –
dis al
Dis ‘n balling gekom
oor die oseaan,
dis ‘n graf in die gras,
dis ‘n vallende traan –
dis al.
Die gevoel dat jy nie wou weggaan nie, maar dat jy uit jou huis, uit jou tuiste geboender is, geld nie net vir dié wat na ander lande weggetrek het nie. Talle mense voel dat hoewel hulle nie die land verlaat het nie, die land hulle verlaat het. Sommige voel of hulle harte uit “hulle lyf geval het en stroomaf dryf” soos Theuns Jordaan sing, omdat hulle kinders en kleinkinders ver weggetrek het. Ander ervaar die verlies van ’n land wat hulle nie meer ken nie. Dis asof hulle een oggend in ’n vreemde land wakker geword het, byna asof hulle ongesiens en ongevraagd geëmigreer het na ’n plek wat hulle nie ken nie. Waar jou gesin se lewens nêrens meer veilig is nie, waar jou persoonlike besittings selfs helder oordag gesteel word, waar die land se leiers straffeloos miljarde plunder, waar die strafregstelsel se wiele skynbaar vasgeroes het, waar ontevrede oproeriges miljoene rande se eiendom sonder gevolge vandaliseer, waar rassistiese politici jou in jou eie sitkamer op TV dreig en beledig, waar die President belowe om die grondwet te verander om dit waarvoor jy hard gewerk het, sonder keuse of vergoeding af te vat, waar ’n onbevoegde regering dreig om jou pensioengeld sonder jou toestemming aan hulle swak bestuurde staatsondernemings te “leen”, waar dieselfde owerheid wat die land reeds tot op die rand van bankrotskap gesleep het, jou medies wil nasionaliseer en vir jou die rekening vir miljoene nie-betalers stuur, waar die skole en universiteite wat jou mense opgebou het, midde-in ’n stortvloed van beledigings oorgevat word, waar jou taal en kultuur afgebreek word, waar jy nie meer ’n sê het oor dinge wat jou raak nie, en waar jy soos ’n tweedeklasburger behandel en derdewêrelds regeer word.
Dis ’n land waar jy nie meer tuis voel nie, maar soos ’n vreemdeling huis toe verlang. Ja, jy voel soms ontuis, onwelkom, onveilig, onvry, ongelyk, en jy weet dis nie normaal nie. Jy geniet besoeke aan die vreemde, maar jy wil nie altyd ’n vreemde besoeker wees nie, jy wil tuis kom.
Daarom is ons grootste uitdaging oor die volgende dekade tot by 2030 om weer ’n tuiste vir ons mense te skep waar hulle kan tuis kom en tuis voel – waar hulle vry, veilig en voorspoedig kan wees. Dis belangrik om verdere agteruitgang te keer, maar dis nog belangriker om aan volhoubare vooruitgang te bou. Maar hoe gaan so ’n tuiste lyk, en hoe gaan dit gebou kan word?
Ligging
Die beginpunt van ’n huis bou en ’n tuiste skep is om die regte ligging te kies, waar jy weet dat jy oor twintig jaar nog gaan vry, veilig en tuis voel, waar jy nie weer uitgedryf gaan word nie. Ook ‘n vesting waar jy en jou kinders nie oor 50 jaar vreemdelinge gaan wees nie. Jy wil ook seker maak van die ligging van die dorp, stad of woongebied waar jy so ’n langtermynverbintenis maak. Die ankerdorpe en konsentrasieplan wat ons beweging na deeglike navorsing bekendgemaak het, gee ’n goeie idee van die beste liggings in die land.
Bouplan
- Die tweede stap is ’n argiteksplan, om seker te maak dat jou huis so ontwerp word dat dit jou huis is – ’n plek waar jy en jou mense sal kan tuis voel en waar julle veilig kan wees, sonder dat vreemdelinge julle hiet en gebied. Dit is die rede waarom ons beweging vandag ’n omvattende “Argiteksplan” vir selfbestuur aankondig. Dis ’n plan om ’n nasionale tuiste te bou waar ons nie net as enkelinge nie maar as ’n kultuurgemeenskap sal kan tuis voel – ’n kulturele huis. Dis belangrik om sorg te dra dat jou finansiële planne ook reg moet wees voordat jy begin bou. Dit beteken nie jy moet vooraf al die geld hê nie, maar dat jy betyds kyk hoeveel jy het, hoeveel jy moet leen, en hoeveel jy op ander maniere soos aandele moet bekom.
Gesin en gemeenskap
- Die derde stap is om jou gemeenskap saam te bind, want niemand wil eensaam en alleen bly nie. Ons is nie net landsburgers nie, maar ook kulturele burgers, lede van ’n eeueoue kultuurgemeenskap wat mekaar nodig het, wat mekaar se waardes deel en wat by mekaar veilig is. ’n Mens bou nie vir jou ’n huis om jouself van jou medemens af te sonder nie, maar juis om jou in staat te stel om saam in daardie dorp te bly. Dis net so belangrik dat jy en jou gesin se ingesteldheid reg moet wees voordat jy begin bou. Enigiemand wat ’n kaal stuk grond sien, wonder of die argiteksplan ooit sal werk en of die huis ooit sal klaarkom. Dit kos visie, beplanning, harde bouwerk en volharding om ’n huis klaar te bou, veral as dit ’n tuiste vir ’n hele gemeenskap moet wees. Jy sal uitgelag word dat jy lugkastele bou, deur mense wat self in sandkastele in die pad van ’n inkomende gety sit. Moenie jou aan hulle steur nie, hou net aan bou.
Fondament
- Die fondasie moet stewig wees, want die hele huis word daarop gebou. Die fondasie is die sterk selfhelporganisasies wat die grondslag van die huis gaan vorm, want jy wil nie alleen op sand bou nie.
Bouers
- Niemand bou so goed soos iemand wat ’n huis vir homself en sy geliefdes bou nie, want dis joune. Ons sal almal moet help om hierdie kulturele huis so vinnig en so goed as moontlik te bou. Bouers is nodig, en nie net bydraers nie. Baie teenstanders sal raas en blaas om die bouwerk te probeer keer, maar dis belangrik om net vas te byt en aan te hou bou.
Kamers
Geen huis is volledig sonder al die noodsaaklike vertrekke nie. Al die kamers moet daar wees – soos ’n sitkamer, kombuis, slaapkamer en eetkamer. ’n Gemeenskap het kulturele leefruimtes en vertrekke nodig soos skole, kolleges, universiteite, stede, dorpe en dienste, woongebiede, veiligheid, maatskaplike sorg, besighede, werkplekke, media, regspraak, erfenisbewaring, openbare ruimtes en ’n mooi tuin en omgewing.
Mure
Die mure moet hoog genoeg gebou word sodat daar genoeg ruimte kan wees. Dit gaan tyd neem, want selfs die hoogste muur word gebou deur steen vir steen op mekaar te pak. Die bou van mure is gevolglik ’n proses en nie ’n eenmalige gebeurtenis nie. Hoe groter die kolleges, privaat skole, universiteite en dorpe wat ons bou, hoe hoër is die mure van ons gemeenskap se huis en hoe vryer, veiliger en voorspoediger sal ons wees.
Dak
- Die dak kom laaste. Geen dak word opgesit voordat die mure hoog genoeg is nie, want ’n dak kan nie in die lug hang nie. Die hoogte van die dak en die opsit daarvan word bepaal deur die hoogte van die mure en die spoed waarteen gebou word. Die dak is nie die huis nie, dis ’n belangrike finale fase van die bou van die huis. Dis die erkenning dat die huis en al sy kamers klaar gebou is.
Afronding en inrigting
- Die huis word nou afgerond en ingerig soos jy en jou gemeenskap dit wil hê. Die feit dat jy self die plek gekies, die huis laat ontwerp en hard daaraan gebou het, is die beste waarborg dat jy en jou geliefdes daar weer tuis sal voel.
Dis natuurlik ingewikkelder om ’n toekoms vir ’n hele gemeenskap te bou as ’n huis vir jouself. Wanneer die huise en dorpe wat die staat gebou het egter inplof en verval, of wanneer hulle ligging te onveilig geraak het, is dit tyd om jou eie huis te bou. Staatsbestuur het in Suid-Afrika misluk, en die tyd vir selfbestuur het aangebreek. Net soos huise nie uit die lug val nie en moeisaam van onder af opgebou moet word, net so sal ’n toekoms nie uit die lug val nie en sal dit daarom stelselmatig van onder af opgebou moet word. Dit gaan uiters moeilik wees, maar om vry, veilig en voorspoedig in die staat se huise te bly, is onmoontlik. Die pad na selfbestuur is onseker, maar dit bied die kans op sukses, terwyl die pad na staatsbestuur tot ’n sekere ondergang lei.
Kom bou saam met ons aan ’n toekoms waar Afrikaners ook blywend tuis sal wees, want almal het ’n tuiste nodig waar hulle vry, veilig en voorspoedig kan lewe.