Onwerkbare bestel
Suid-Afrika is ‘n uiters komplekse verskynsel weens sy verskeie bevolkings en kultuurgroepe. Die opstellers van die grondwet het ten spyte hiervan egter gekies om ‘n meerderheidsbestel te implementeer wat bloot net te simplisties is om ‘n komplekse heterogene land soos Suid-Afrika te bestuur.
Die uiteindelike gevolg van so ‘n meerderheidsbestel is die de facto totstandkoming van ‘n demografiese demokrasie waar ‘n party, soos die ANC, met 50% van die stemme 100% van die besluitnemingsmag oor almal op homself kan vestig. Werklikhede van Suid-Afrika kan nie meer weggesteek word nie. In die aangesig van die werklikheid is dit pynlik duidelik dat minderhede in Suid-Afrika kwesbaar is.
Op papier is daar feitlik geen ooreenkoms aangegaan om minderheidsregte in Suid-Afrika te beskerm en uit te bou nie. Hierdie bestel maak politieke oplossings vir minderhede dus uiters moeilik.
As die skip sink
Almal is dit egter eens. Suid-Afrika verkeer tans in die moeilikheid. Hoë vlakke van werkloosheid, lae ekonomiese groei en misdaadstatistieke wat vergelyk kan word met lande wat in ‘n oorlog gewikkel is, is maar net van die aanwysers.
Die toenemende mislukking van staatsbestuur is ‘n werklikheid wat minderhede sal moet verreken. Afrikaners en ander minderhede besef egter dat as die skip sink, sink hulle saam. Minderhede, wat geen politieke of besluitnemingsmag het nie is egter nie net landsburgers nie, maar ook kulturele burgers, lede van ’n eeueoue kultuurgemeenskap wat mekaar nodig het, wat mekaar se waardes deel en wat by mekaar veilig is.
Die oorwegende gevoel onder meeste minderheidsgroepe is dat hulle steeds wil saamwerk om die land te laat werk en floreer. Die oplossing is egter nie om jouself te isoleer nie, maar eerder om jouself as ‘n gemeenskap te verskans vanwaar jy vanuit ‘n vesting ‘n verskil tot die land kan maak. ’n Mens bou nie vir jou ’n huis om jouself van jou medemens af te sonder nie, maar juis om jou in staat te stel om saam in daardie dorp te bly.
Die Solidariteit-uitkyk
Die werklikheid is dat ons nie so onverantwoordelik kan wees om op die regering staat te maak vir ons en ons kinders se toekoms nie. Staatsbestuur het in Suid-Afrika misluk en die tyd vir selfbestuur het aangebreek. Die tyd is nou ook ryp om dit ‘n werklikheid te maak.
Die regering se onlangse hantering van die Covid-19 pandemie die krake wat reeds wyd sigbaar was laat oopbars met gevolglike wydverspreide ontnugtering in die ANC se sentrale ideologie. Hierdie noodwendige gevolg moet egter deur minderheidsgroepe as ‘n gulde geleentheid gesien word om self eienaarskap oor sy gemeenskap te neem.
Elke gemeenskap is dit aan homself verskuldig om ‘n toekoms te bou. Die Solidariteit Beweging glo dat hierdie toekoms verseker word deur middel van die uitbou van kulturele ruimtes vir die Afrikaanse taalgemeenskap en die Afrikaner kultuurgemeenskap waarin hierdie gemeenskappe veilig hul eie kultuur en taal kan uitleef. Om egter vooraf daarvoor toestemming by ‘n vyandige staat te soek gaan geen vrugte werp nie. Iets wat duidelik na vore gekom het met Panyaza Lesufi se onlangse uitsprake toe die Solidariteit Beweging sy onlangse Sol-Tech kollege begin bou het.
Dit is vanselfsprekend dat hierdie sogenaamde kultuurkantons waarin ‘n gemeenskap homself kan uitleef nie net die antwoord vir byvoorbeeld die Afrikaner hoef te wees nie, maar so-ook vir ander minderheidsgroepe indien hulle hul voortbestaan en eie kulturele waardes wil verseker.
Die Beweging glo egter daarin dat elke gemeenskap die beste weet wat die betrokke gemeenskap nodig het en verlang en moet derhalwe self besluite oor homself neem sodat daardie gemeenskap nie weer onder ander se besluite moet leef nie.
Hierdie verstandhouding moet tussen verskeie minderheidsgroepe heers. Dit beteken egter nie dat minderheidsgroepe in isolasie en sonder tussenwerking moet oorleef nie. Daar waar gemene belange en waardes heers, kan en sal die onderskeie groepe met mekaar moet saamwerk.
Selfvertroue
Die Solidariteit-model is geskoei op selfvertroue om sonder vrees te doen wat gedoen moet word in belang van die gemeenskap wat hy dien. Om die selfvertroue te hê om dit te doen is die enkele grootste pyl in ‘n gemeenskap se koker.
Die feit van die saak is dat elke gemeenskap moet besluit wat dit is wat vir hom belangrik is en saam met die inkoop van die gemeenskap daardie strewe ‘n werklikheid maak.
Die pad na selfbestuur is onseker, maar dit bied die kans op sukses, terwyl die pad na staatsbestuur tot ’n sekere ondergang lei.