Die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel is nie op standaard nie. Jaar na jaar verlaag die Departement van Onderwys hulle eie standaarde om ʼn positiewe narratief rakende onderwys te bly handhaaf. Die realiteite wys egter die teendeel.
In 2016 is gesê die matriekslaagsyfer was 76,2%. Dit blyk nie ʼn té somber prentjie te wees nie. In dieselfde jaar is die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel egter deur die Wêreld Ekonomiese Forum (WEF) in die 137ste plek uit 139 lande geplaas. Dit wys duidelik dat enige positiewe narratief wat die regering probeer handhaaf ʼn blote fasade is. In die groter skema van dinge is ons ver onder standaard en gaan ons net verder afwaarts. Om dit te illustreer, moet daar na hierdie twee faktore oor die afgelope paar dekades gekyk word: In 2010 was die genoemde slaagsyfer 67,8%. Die onderwysstelsel was in die 129ste plek uit 138 lande. In 2000 was die matriekslaagsyfer slegs 61,7%. In daardie jaar het openbare skole in Suid-Afrika egter die 52ste plek uit 148 lande op die wêreldranglys beklee. Dit wys dat die interne statistieke elke jaar beter lyk, maar dat dit gemeet aan globale standaarde slegter lyk. Die regering werk uiters hard daaraan om die onderwysstandaarde verlaag om sodoende die statistieke te verhoog.
Benewens die afname gemeet aan globale standaarde maak die regering nie elke jaar die werklike matriekslaagsyfer bekend nie. Die matriekslaagsyfer wat hulle wel bekend maak, neem nie die aantal leerlinge wat van graad 1 tot 12 uitval, in ag nie. Hulle neem bloot die leerlinge in ag wat elke jaar matriekeksamen skryf. Om dit te verstaan, moet ʼn mens die matriekslaagsyfer van die regering met die werklike slaagsyfer vergelyk. Van die 1,2 miljoen leerlinge wat in 2006 met graad een begin het, het slegs 34,7% in 2017 matriek geslaag. Die genoemde matriekslaagsyfer in 2017 was 75,1%. Hierdie getal neem nie die 40,4% van leerlinge in ag wat die skool deur die verloop van 12 jaar verlaat het nie.
Tydens die covid-19-pandemie is onderwys aansienlik geraak. Volgens ʼn studie wat post-covid gedoen is, het graad 4-leerlinge (10-jariges) slegs 25% van die gewenste onderrig wat hulle in ʼn jaar moes hê, behaal.[1] Suid-Afrikaanse skole het lank gesluit gebly nadat die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) riglyne gewysig het om te bepaal dat skole tydens die pandemie oop moet bly.
Die impak was verlammend, met minder as 4% van onderwysers by geen-skoolgeld-skole wat enige vorm van virtuele leer gebruik het, wat beteken dat kinders eenvoudig sonder opvoeding by die huis gesit het. [2]
Met inagneming van Suid-Afrika se werkloosheidsyfer, word hierdie kinders eenvoudig onindiensneembaar gemaak deur ʼn onderwysstelsel wat ernstig misluk.
[1] https://cramsurvey.org/wp-content/uploads/2021/05/10.-Shepherd-D.-Mohohlwane-N.-Taylor-S.-_-Kotze-J.-2021.-Changes-in-education-A-reflection-on-COVID-19-effects-over-a-year.pdf
[2] https://cramsurvey.org/wp-content/uploads/2021/05/10.-Shepherd-D.-Mohohlwane-N.-Taylor-S.-_-Kotze-J.-2021.-Changes-in-education-A-reflection-on-COVID-19-effects-over-a-year.pdf p24